Wat is jou geheime talent?
Ek kan op énige plek in die hele wêreld verdwaal, selfs op my eie dorp. Ek onthou nie ’n pad nie, ek kry ook nie ’n plek nie.
Vertel ons wat is jou gunsteling peuselhappie?
Kaas.
En jou gunsteling middagete?
Kaas, goeie brood, botter en ’n vars tamatie uit die tuin, met sout en peper.
Wat is jou gunsteling toebroodjie?
Suurdeegbrood met ansjovis, gekookte eier en slaaiblare.
Na watter restaurant gaan jy om te ontspan na ’n lang dag?
Ek is heeldag besig in ’n restaurant, so vir my bly dit die lekkerste om my skoene uit te skop op die plaas waar ons bly by my eie huis. Dis rustig, met ’n glasie van my man se wyn in die een hand en my gesin en ons geselsies rondom my – daar is geen lekkerder manier om te ontspan nie.
Watter vyf items eet jy glád nie?
Nee genade, ek is in die kosbedryf omdat ek hou van kos. Ek eet alles! Ek het nie fiemies nie. Ek is nie mal oor snaakse vleis soos krokodil nie (hoewel ek dit al geëet het). As dit nou regtig moet, ek hou van grondboontjiebotter op my brood, maar as daar ’n grondboontjienagereg is, sal ek liewer nie dit bestel nie.
Waarvoor is jy allergies?
Mense wat vir alles neus optrek.
Watter koskombinasies werk volgens jou glad nie?
Vrugte, soos piesang en pynappel, op pizza of toebroodjie is vreemd. Marmite en konfyt op ’n toebroodjie. Aspersies uit ’n blikkie moet liefs net vir noodgevalle of selfverdediging gebruik word. ‘Kamma’ bestanddele soos ‘Orley Whip’ of nagemaakte suiker.