Foto: Ian van Wyk
Pasch du Plooy
Pasch het aanvanklik vir Kokkedoor ingeskryf omdat hy homself wou toets as ’n sjef en wou klarigheid kry oor die tipe sjef wat hy wil wees in terme van styl en cuisine.
As Pasch die prysgeld wen sal hy graag oosee wil gaan reis na Frankryk en Italië met sy vrou – dalk selfs Morocco en die oorblywende geld spaar.
Kliek hier om Pasch van nader te leer ken.
Wilhelmina Garcao
Wilhelmina voel dat die Kokkedoor-reis vir haar ’n leersame ervaring was. Sy voel ook dat jy tydens die kompetisie besef hoe jy groei as persoon – en as onthoukok. En wat hierdie dan weer in ruil vir jou besigheid kan beteken in die toekoms.
Wilhelmina het nog nie so ver gedink wat sy met die prysgeld sou doen indien sy wen nie, maar sy gaan definitief van die geld gebruik om haar eie besigheid te bevorder. Verder sal sy ook graag van die geld wil gebruik om haarself te bederf met nuwe klere.
Anmar Wilding
Anmar het oorspronklik net ingeskryf omdat haar vriende en familie haar aangemoedig het om ’n kans te waag. Omdat sy oorsee gewoon het tydens die ander seisoene van dié gewilde kykNET-reeks, het sy maar haar oë toegeknyp en ingeskryf. Sy voel ook dat sy baie goed aanpas in stresvolle situasies – ons vermoed dit is hoekom sy altyd so kalm lyk in elke episode.
Omdat Anmar nou in die top drie is en so te sê al amper die prysgeld kan proe, het sy nog nie veel daaraan gedink nie. Sy het genoem dat sy graag na Engeland toe wil gaan om vir haar man se familie te gaan kuier en daarna verder te reis na Noord-Afrika, maar hulle eerste prioriteit sal wees om ’n kar te koop, maar net omdat die kar wat hulle tans het, stukkend is.
Anmar vertel ons meer oor haarself.
Sonja de Beer
Sonja is baie dankbaar dat sy die top drie spanne gehaal het, omdat sy nooit in haar wildste drome verwag het om só ver in die kompetisie te vorder nie. Sy voel met die finaal wat om die draai is, dat sy begin wonder oor die prysgeld en wat dit vir haar – en haar besigheid – sal beteken om te wen. Alhowel dit vir haar lekker sal wees om te wen, is sy net dankbaar dat sy so ver in die kompetisie gevorder het.
Sonja sal met haar prysgeld ’n nuwe skootrekenaar koop – veral met haar besigheid wat tans besig is om uit te brei voordat sy die res van die geld sal belê.
Pieter Malan
Alhoewel Pieter nou in die top drie spanne is, moes hy al vantevore drie maal inskryf vir Kokkedoor. Hy vertel altyd vir ons die storie van sy ouma en pa wat hom aangemoedig het om sy droom na te strewe om Kokkedoor te wen. Ongelukkig is beide sy pa en ouma reeds oorlede, maar hy is vas oortuig daarvan dat hulle sien wat hy in die kompetisie vermag het.
As Pieter die prysgeld wen, sal hy sy vrou wegneem vir ’n kort vakansie na die Magaliesberge om dankie te sê vir al die ondersteuning wat sy hom gebied het tydens die verfilming van die reeks. Daarna sal hy ook van sy prysgeld gebruik om ’n paar gaatjies toe te stop.
Pieter vertel ons meer van homself.
Ralph Farmer
Ralph het nie uit eie wil ingeskryf vir die derde seisoen van Kokkedoor nie: sy verloofde het agter sy rug gegaan en hom ingeskryf omdat hy geweet het dat Ralph ’n sukses in die kombuis sou wees.
As Ralph die prysgeld sou wen, sal hy die geld benut om vir hom en sy verloofde ’n pragtige troue en wittebrood te reël in Thailand.
Ons het ook die Kokkedoor beoordelaars Nic van Wyk, Sam Woulidge en Hetta van Deventer-Terblanche van nader leer ken.
Al die spanne is ewe talentvol en ewe goed voorberei. Enige klein foutjie in die kombuis kan nou die verskil tussen wen en verloor beteken.
Onhou om elke Donderdag 20:00 in te skakel vir die nuutste afllewering van kokkedoor. Jy kan ook op hoogte van sake bly op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #Kokkedoor.