FOTO: Ian du Toit
Ons drie beoordelaars lyk altyd komkommerkoel, asof niks hulle kan onderkry nie. Ons het ná ’n lang dag van verfilming by hulle ingeloer en uitgevind wat was die good, the bad and the ugly van die eerste aflewering van Kokkedoor.
LEES: ONTMOET DIE NUWE KOKKEDORE
The good
Hetta: “Definitief die reis om saam met die deelnemers te sien wat is hulle herinneringe en wat is hulle herinneringskos. Almal se kos is nie noodwendig uit hul kleintyd nie, maar party gaan verder terug na hulle oumas toe, party is huiskos. Dis wonderlik om deel te wees van daai herinneringe en elkeen is anderste. Dis ons koskultuur in Suid-Afrika. Dis só diverse koskultuur. Dis ’n voorreg om daai spesiale herinneringsgeregte saam met hulle te deel.”
Nic: “Daar het 30 mense vandag begin in hierdie stoor met ’n ongelooflike droom en almal het die geleentheid gekry om deel te wees van iets wat groter as hulleself is. En die geleentheid gekry om in hierdie fantastiese kombuis te kook met ongelooflike bestanddele.”
Sam: “Dit was beslis om die deelnemers te leer ken, hulle stories te hoor en elkeen, ek dink die onthoukokke veral, het ’n storie. Dit is daai kook met ’n sterk hartsgevoel. So die storie van hulle kook dit, want hulle ouma het dit vir hulle leer kook of hulle kook dit vir hulle ma ... Dit was vir my ontsaglik mooi, net om te sien dat mense uit hulle hart en uit liefde uit kook.
The bad
Hetta: “Daar was slegte kos. Ek dink hulle was op hulle senuwees. Almal was definitief nie op standaard nie, hoewel ek seker is dit was net ’n voetfoutjie vandag.”
Nic: “Dit was dag 1. Daar is nog baie dae om te gaan …”
Sam: “Dit was om tien van hierdie wonderlike deelnemers huis toe te stuur. En hulle drome word verpletter en dit was regtig aaklig, want niemand hou daarvan om iemand anders seer te maak nie. En ons moes dit doen, want dis hoe die spel werk, maar dit was nie lekker nie. Ek dink dit was vir ons net so hartseer soos wat dit vir hulle was. Of miskien nie net so hartseer nie, ek dink hulle verdriet was regtig erg.”
KYK OOK: DIE BEOORDELAARS SE EERSTE INDRUKKE VAN DIE KOKKEDORE
The ugly
Hetta: “Dis ongetwyfeld om tien mense huis toe te stuur. Tien mense wat drome het en tot hier gekom het, wat opgeoffer het, gewaag het. Om hulle hier weg te stuur die eerste dag, dis verby ugly.
Nic: “Daar is tien mense wat vandag huis toe gaan met gebroke harte en vir wie die droom vandag geïndig het.”
Sam: “Dit was ’n laaaaaaang dag en my voete in hierdie hoëhakskoene is verskriklik seer. So ek was te ugly ná vandag.”
Span solank jou kosklub in vir 25 Julie, en deel jóú Kokkedoor-ervaring met ons op Facebook, Twitter en Instagram, deur die hutsmerk #Kokkedoor op sosiale media te gebruik. Hier is waarna jy kan uitsien.