web uni tv guide
Kokkedoor

Twee kokke is beter as een (Deel 2) – Kokkedoor 3

Nuus
25 Julie 2019
Ons gesels agter die skerms met die spanmaats voordat hulle in die Kokkedoor-kombuis invaar.
Kokkedoor_Annelize en Tippie

FOTO: Ian du Toit

Die Kokkedore het onlangs hulle spanmaat gekry en die opwinding is groot om vir die eerste keer saam in die Kokkedoor-kombuis te kook. Hier is hoe die hulle die rol van die onthou- en kinkelkok sien. 

Anmar en Lientjie


“’n Mens kan sien Lientjie is kreatief. Daar is ’n hele paar mense wat gesê het hulle wil saam met Lientjie kook. En sover, alles wat Lientjie gedra het wil ek hê, so ons gaan goed oor die weg kom,” vertel Anmar. Op haar beurt komplimenteer Lientjie weer vir Anmar: “Ek sien baie uit, want sy is ook kreatief en sy het al hierdie fantastiese kennis om goed te maak.” 

Hier is hoe Anmar en Lientjie ’n kinkel- en onthoukok sien:

Anmar: “’n Kinkelkok is iemand wat in die industrie werk, dis ons elke dag se werk. Dis maar iets wat 20 ure ’n dag van ons lewe vat. Ons het vaardighede en kennis oor tegnieke en moderne interpretasies van kos wat tans in die mode is, wat hulle nou wil sien en eet. Ek dink ’n kinkelkok is iemand wat ’n bietjie meer vaardighede het. In dié kompetisie moet ’n kinkelkok ’n kwalifikasie hê om as ’n kinkelkok te kwalifiseer, maar dit sê glad nie dat ’n onthoukok nie ’n kinkelkok kan wees of word nie, want jy hoef glad nie ’n eintlik kwalifikasie te hê nie.”

Lientjie: “Ek dink onthoukokke is baie keer huiskokke, maar hulle kan ook plekke soms hê en in die industrie werk, maar op ’n ander vlak. Ek dink ook baie keer het die onthoukokke nie noodwendig daai kennis en tegnologie tot hulle beskikking nie. Ek dink baie mense begin kook omdat hulle onthou waar hulle vandaan kom en wat hulle geproe het as kinders en daai tipe van ding. Dit is waar hulle reis met kos begin.”

Ilana en Zelda

Een ding is seker – daar is nooit ’n vervelige oomblik in dié twee se teenwoordigheid nie. Soos een koor sê albei dat hulle persoonlikhede hulle ’n goeie span maak. “Die persoonlikheid is so groot, nè. Soos wat die smake op daai disse gaan wees,” skerts Zelda.

Hier is hoe Ilana en Zelda ’n kinkel- en onthoukok sien:

Ilana: “’n Kinkelkok is ’n kok wat onthoukos vat, wat die onthoukokke maak, en dit net ’n bietjie van ’n twist gee. ’n Bietjie anderste maak. ’n Bietjie mooier laat lyk, ietsie bysit, ietsie wegvat. Laat dit net ’n bietjie van ’n vernuwing by dit kry. Ek doen dit daagliks as ’n werk.”

Zelda: “Die onthoukok is die ou kokkie daar in die huis wat die onthoukos van ouma en oupa en ma vat en dit lekker maak. Nou nie so fancy soos ons kinkelkokke hier nie, hulle het mos ’n professionele opleiding, maar saam is ons die Kokkedoor-span. Die verskille is dat die kinkel professioneel opgelei is en in restaurante gewerk het. Ek doen dit daagliks as ’n taak van liefde.”

Tippie en Annalize

Dié span meen dat strategie hulle sterkpunt gaan wees. “Ek dink ons word onderskat,” vertel Annelize. Volgens Tippie is dit ’n baie goeie plek om te wees. “Ek dink ons is op die perfekte plek op hierdie stadium van die geveg. Niemand weet wat ons kan doen nie, ons weet ongelukkig ook nie self wat ons kan doen nie, maar ons sal binnekort weet. Hulle is in vir ’n ding.”

Hier is hoe Tippie en Annelize ’n kinkel- en onthoukok sien:

Tippie: “Ek is as ’n onthoukok hier en die kinkelkokke het professionele opleiding gehad en hulle het papierwerk en alles wat hulle professionele sjefs maak. Ek is die onthoukok, maar ek het ’n bietjie meer ondervinding in party areas, al is dit net met broodbak. Ek dink ons kan baie leer en mekaar aanvul in baie aspekte. Ongeag wat hulle dalk dink van ons span op hierdie stadium van die geveg, ons gaan hulle ’n run vir hulle money gee.”

Annelize: “Dit is ’n interessante vraag vir my om te beantwoord omdat ek myself beskou as ’n net-net kinkelkok omdat ek baie onlangs ’n sjefkursus voltooi het en daarom nie as ’n onthoukok kan meeding nie. Die vraag waaroor ek en Tippie gaan gesels is: Wat is nou eintlik ’n kinkel? Is ’n kinkel ’n ding waaruit rook trek, en poeiers en so? Hoe gaan ons kinkel definieer? Ek gaan baie by Tippie leer. Eerste ding wat ek vir hom gevra het, is of hy kan broodbak en toe het hy gesê hy kan alles doen, so ons is fine.”

Wilhelmina en Pieter

“Ons het alreeds ’n hegte vriendskap gebou van die begin af en ons is gemaklik met mekaar. Ek vind inspirasie by hom, hopelik vind ons ’n middeweg,” vertel Wilhelmina oor haar nuwe spanmaat. Pieter voeg by: “Ek vind ook inspirasie by haar, sy is ’n bobaasbakster, soos wat ek gehoor het, en ek kan glad nie bak nie. Sy lyk baie kwaai, so sy gaan my dalk in toom hou.” 

Hier is hoe Wilhelmina en Pieter ’n kinkel- en onthoukok sien:

Wilhelmina: “’n Onthoukok vir my is iemand wat die disse as kinders leer maak het by ouma, ma en pa. Op die ou end van die dag, wil ons teruggaan na waar ons vandaan kom. Dis wat ons onthou, dis wat ons gelukkig maak. Die middeweg tussen die twee dink ek is dat ’n mens daai nostalgie kan vat en vir hom sparkle opsit, ’n bietjie optert.”

Pieter: “Ek dink ’n kinkelkok is iemand wat onthoukos vat en ’n nuwe baadjie aantrek. Om dit anderste voor te sit as wat jy dit tradisioneel sal voorsit. Ek dink daai persoon is ook baie belangrik vir die balans tussen onthou en nuut en nuwe tegnieke. Ek dink ook hy's verantwoordelik vir die kombuisdissipline wat daar moet wees, en om ’n bietjie van ’n professionaliteit na die program toe bring. Dis belangrik. Ek dink die verskil tussen die twee is die een moet onthou en die ander een moet dink.”

SJ en Sonja

“Ek dink ons twee is ’n goeie span omdat ek vir SJ na die tyd gevra het hoe dit gegaan het en hy het vir my van sy dis vertel. Wat vir my die belangrikste is, is dat ek besef het hy het betyds klaar gekry en dit was vir my ontsettend belangrik,” vertel Sonja. Volgens SJ was dit asof dit só bestem was, want hulle het juis oorkant mekaar gesit by die langtafel. “Daar was iets wat vir ons gesê het dit moet só wees. Ek voel baie goed oor die spanmaat wat ek gekry het.”

Hier is hoe SJ en Sonja ’n kinkel- en onthoukok sien:

SJ: “Ek dink ’n kinkelkok is definitief iemand wat sy kombuiservaring in die span sit. Die persoon is betrokke met produkte wat vandag op die mark is waarmee die professionele sjefs in die kombuise werk. En ook met ’n bietjie van ’n vooruitdink en dan dink ek die onthoukok is betrokke met die terugdink. Die kinkelkok is definitief die een wat die pad vorentoe wys, maar dit kan nie vorentoe gaan as ons nie weet waarvandaan ons kom nie.”

Sonja: “’n Onthoukok bring jou definitief terug na wat was en wat is jou wortels, wat het oumas en oupas gemaak. Vir my is dit maklik omdat ek op plase grootgeword het. En ek het baie spesifiek geweet ek is nie ’n kinkelkok nie. En dis vir my lekker om te weet dat ek in ’n span saam met ’n kinkelkok gaan werk. Ek ken nie daai tegnieke nie. Dit was nie deel van my studies nie. Ek dink die groot verskil tussen ’n kinkel- en ’n onthoukok is dat kinkelkokke tegnieke het wat ons onthoukokke nie ken nie. Dit kom nie vir ons so maklik nie. Hulle bring iets na die tafel wat ons nie na die tafel kan bring nie. Ons bring weer ’n bietjie van ’n balans in die maak van disse.”

Span solank jou kosklub in vir 1 Augustus, en deel jóú Kokkedoor-ervaring met ons op Facebook, Twitter en Instagram, deur die hutsmerk #Kokkedoor op sosiale media te gebruik.