web uni tv guide
Kokkedoor

Twee kokke is beter as een (Deel 1) – Kokkedoor 3

Nuus
25 Julie 2019
Ons gesels agter die skerms met die spanmaats voordat hulle in die Kokkedoor-kombuis invaar.
Kokkedoor_Rita en Snoes

FOTO: Ian du Toit
 

Die Kokkedore het onlangs hulle spanmaat gekry en die opwinding is groot om vir die eerste keer saam in die Kokkedoor-kombuis te kook. Hier is hoe die hulle die rol van die onthou- en kinkelkok sien. 

Madelein en William

Madelein en William haak gemaklik bymekaar in, soos ou vriende. “Ons is mos nou spanmaats,” laat Madelein van haar hoor. “Op dié stadium het ek nog nie ’n idee of ons ’n goeie span is nie. Ek dink ons gaan ’n goeie span wees, want ons kom so goed oor die weg.” William voeg by: “Kommunikasie speel ’n groot rol, ek dink ons al twee is nie skaam om te praat nie en te luister vir mekaar. Onthoukok, kinkelkok, ek dink al twee kan van mekaar leer. ”

Hier is hoe William en Madelein ’n kinkel- en onthoukok sien:

William: “’Vir my is ’n kinkelkok iemand wat al ’n bietjie tyd in die kombuis spandeer het. Dis nie vir my te verskillend van ’n onthoukok nie, want ’n onthoukok het net so baie tyd in ’n kombuis spandeer. Of jy nou opleiding gekry het of by jou ouma of jou ma geleer het, vir my is dit iemand wat lief is vir kos. Ek sou sê ’n kinkelkok is definitief iemand wat professionele opleiding gekry het, maar nog steeds kan leer van die onthoukok.” 

Madelein: “Ek het ook ondervinding, ek kook net nie in massas nie. Dis die een ding, ek dink definitief die feit dat ’n kinkelkok opleiding gehad het maak ’n baie groot verskil. Dit is wat ek so graag wil leer by hom, want ek ken nie al die toerusting nie en ek wil graag nuwe goed probeer. Maar ek weet wel dat baie kinkelkokke nie ’n groot pot rys kan kook nie en nie noodwendig weet hoe om vleis te maak soos ouma s’n nie. Ek dink dis absoluut ’n kwessie van leer bymekaar. Die verskil is ook die stilheid in die kombuis. Hulle (kinkelkokke) werk net so professioneel, en daar is nie al hierdie geraas en goed wat jou aandag aflei nie. Waar ons onthoukokke nogal kekkelrig was.”

William: “Die verskil tussen ’n kinkel- en onthoukok is dalk die beplanning, dit is dalk hoekom dit stiller geklink het. Die kinkelkok het dalk ’n bietjie meer opleiding oor hoe om sy disse te beplan en sy toerusting beter te gebruik in daai beplanning.”

Mariana en Danie dink hulle maak ’n goeie span, want hulle is ’n goeie span. “Ons weet hoe ons moet werk. En ek dink ons al twee weet wat ons redelik moet doen in die kombuis,” val Danie met die deur in die huis. Mariana voeg by: “Ek dink ons twee gaan ’n sukses maak van dit, want ek en Danie gaan met daai kar huis toe. Ons gaan trotse eienaars word van daardie kar. Ons gaan net ons beste gee, meer as dit kan ons nie gee nie.” 

Hier is hoe Mariana en Danie ’n kinkel- en onthoukok sien:

Mariana: “Ek sal sê ’n onthoukok is die hart van hierdie ding. Ons het die resepte. Of ons weet ’n bietjie meer van die outydse kos. En dan kom die kinkelkokke en hulle sit ’n kinkel in ons onthoukokke se resepte. Ek dink dis waarvoor hy daar is en as ons die gereg maak moet hy dit mooi op die bord sit. Hy moet takkies opsit en al sulke goetertjies. Dis sy baba dáái. Hy kan vir my sê maak so en so, maar hy moet die mooimaak van ons gereg doen. Danie is die kinkelkok, hy moet my tegnieke leer wat ek nie van weet nie en hoe om verskillende goed te maak wat ek nie van weet nie. As hulle sulke groot woorde gebruik, het ek nie ’n idee nie. Dis hoekom Danie daar is as kinkelkok om vir my te leer, om vir my kennis te gee wat ek kan huis toe vat en my kennis verbreed. Sodat ek by die huis kan doen wat hy vir my geleer het om hier te doen.”

Danie: “Ek dink ’n kinkelkok is die een wat na jou moet luister en kyk na watter resepte ons wil doen. En dan kan hulle altyd ietsie daar bygooi en kyk dat ons die tegnieke regkry en ’n ogie op die oond hou. Ek dink ons is maar daar vir ’n bietjie leiding, maar ek dink nie die resepte kom van ons af nie. Ons sit net ’n kinkel aan dit. Ek dink nog ’n ding daarop is dit wat ’n mens van ons ouer garde kan leer. Dit wat ons nou kry, dis wat ons kan interpreteer daarop. En dis wat ons nou weer aan ons kinders kan gee.”

Marlene en SanMarie

Volgens Marlene het sy en San-Marie dieselfde temperament. “Ons is albei baie rustig. San-Marie is baie stil. Sy is nie uitbundig en lawaaierig nie en ek hou daarvan,” vertel Marlene. Sy meen sy is bly hulle kook saam, want haar spanmaat lyk doelgerig en georganiseerd en dit lyk asof tydsberekening vir haar belangrik is. En ja, sy het haar hieroor gevra toe sy hoor hulle is in ’n span. San-Marie sê weer Marlene is van die begin af een van die mense gewees wat vir haar uitgestaan het. “Ook soos sy sê haar temperament. Sy is rustig, sy is kalm en ek dink dis lekker om saam met iemand te werk  wat redelik dieselfde dink as jy. Ons is baie toegeeflik, ons kry mekaar in die middel, elkeen het sy idees.” 

Hier is hoe Marlene en San-Marie ’n kinkel- en onthoukok sien:

Marlene: “Ek dink die definisie van ’n onthoukok is dat ons teruggaan en rêgtig onthou waarmee ons grootgeword het en daai warmte kry van doekpoeding en lekker beskuit sodat ons dit kan onthou en kan oordra vir die nageslag en vir hulle kan leer hoe om dit te maak. Ek dink die onthoukok kook meer gewone kos uit haar hart uit, nie dat ek sê die kinkelkokke doen dit nie, maar kinkelkokke is meer gedissiplineerd om dinge bymekaar te sit en op die regte tyd dinge klaar te hê. Ons onthoukokke is meer aanpasbaar om te buig.”

San-Marie: “Ek dink die definisie van ’n kinkelkok is om iets oorspronkliks, iets wat nog altyd gewerk het, iets wat uit ons onthoukos uit kom ’n nuwe kinkel te gee, iets nuuts van te maak, nog steeds dieselde te bly, maar dit ietsie nuuts by te voeg. Ek dink die kinkelkokke is dieselfde poeding, net ’n ander sous. Jy hou by die gewone, maar jy bring nuwe elemente in, want dis omdat jy geleer het. Jy het dalk ’n formele opleiding gehad, jy bring nuwe tegnieke in en jy is meer akkuraat op tydsberekening en ook oor hoeveelhede, want jy weet te veel sout mag dalk iets slegs veroorsaak.”

Ralph en Pasch

Pash dink hy en Ralph maak ’n goeie span, want hulle albei hou van dieselfde bestanddele en styl van kos. “Ons het in verskillende agtergronde grootgeword. My laaste 17 jaar het ek in die Kaap gebly, Ralph kom ook van die Kaap af. Ek het baie van die Kaap-Maleis invloed in my kos en Ralph is ook baie passievol daaroor. Hy is baie sterk met bak en brou en ek is beter met savoury disse en met vleis. So ek glo ons gaan ’n formidabele span maak.” Ralph knik sy kop instemmend en voeg by: “Ons het nou onlangs uitgevind ons oumas het dieselfde hoenderpastei gemaak en daar is baie min mense daar buitekant wat dieselfde manier hoenderpastei maak. Ons het hoe ver uitmekaar gebly toe ons jonger was, maar ons oumas het presies dieselfde manier gehad en dit is wat vir my nogals nice was. Ek kan baie baie leer van Pasch af. Ons kommunikeer fantasties. Daar is nie ’n manier wat ons stilbly en dis ongemaklik nie.”

Hier is hoe Ralph en Pasch ’n kinkel- en onthoukok sien:

Ralph: “’n Onthoukok is iemand wat die jonger dae van homself opbring in sy disse. Iemand wat by ouma geleer het, wat by tannie Marie geleer het. Iemand wat daai resepte uit die oudedoos uit gesteel het en dan het hy dit vir homself gehou. En dan kan hy vir ander mense vertel hoe sy ouma dit doerietyd gedoen het. Gepaard daarmee gaan baie liefde en herinneringe en familietye saam. As ek die verskil moet sê wat tussen die twee is, daar is mos altyd hierdie gesegde wat sê daar was die onthoukok voor die kinkelkok, maar dit gaan gepaard saam. Daar kan nie ’n kinkelkok wees sonder ’n onthoukok nie. Waar die verskille ook inkom is maar net hulle (die kinkelkokke) sit meer die finesse in die dis in. Hulle sit die vernuwende vorm van ’n ou resep in. Maar daai geure is iets wat jy nie kan vernuwe nie. Die vorm, tegniek, die tekstuur dit kan verander word. Ek glo ek sal baie kan leer van my spanmaat af.”

Pasch: “’n Kinkelkok vir my is nie so ver af van ’n onthoukok nie. Ons het almal grootgeword met die herinnering van kos, ook deur ouma en oupa en ma en pa geleer. En baie van hulle resepte kom altyd nog deur. Die passie vir my as ’n onthoukok is om te probeer hoe om die ou tegnieke wat jy by jou ouma geleer het én die familieresepte, hoe om dit te vernuwe in disse wat ’n klein bietjie meer modern is en om tegnieke daarop te kan toepas. Maar ek dink nie ’n mens kan wegkom van die feit dat jy moet teruggaan na die beginsels nie. En in my kosmaak, hoewel ek ’n kinkelkok is, speel die onthoukok, die nostalgie, ’n groot rol.”

Snoes en Rita


“Hoewel dit ’n kompetisie is, dink ek as jy nie vir jouself kan lag of lag vir mekaar nie, gaan jy die hele ding mis,” skerts Snoes. Rita val vinnig in: “Ek sal nie sê ons lag vir mekaar nie, ons lag saam met mekaar.” Weer eens helder hulle lag die Kokkedoor-kombuis op. Volgens Snoes gaan hulle lekker saamwerk weens hul sterk plaasagtergronde en die feit dat hulle presies weet waarmee hulle grootouers gekook het. “Ek dink ons gaan ’n goeie kombinasie wees omdat ons respek het vir mekaar en waar ons vandaan kom. En ons hou daarvan om ons kos te proe. So ek dink ons is ’n goeie span.”

Hier is hoe Snoes en Rita ’n kinkel- en onthoukok sien:

Snoes: “Ek dink die definisie van ’n kinkelkok is om die onthoukos te vat waarmee jy grootgeword het, of dit nou speserye is, geure, bekende geure, nostalgiese geure en dit met ’n kinkel te verander, laat dit wys watter kennis jy nou al opgedoen het. ’n Kinkelkok kan baie leer van onthoukokke. Net omdat ek weet wat ’n souskluitjie is, beteken dit nie ek kan dit maak nie. Ek dink wat gaan belangrik wees is om hernuwing te doen van nostalgiese kos en ons trotse tradisies te kinkel, maar nie om dit dood te maak nie. Maar om dit voor te sit en vir mense te verduidelik: Onthou jy nog van boerekos en hoe jy dit geëet het?”

Rita: “Vir my is die definisie van ’n onthoukok iemand wat ou boerekos gevat het en met warmte weer kan voorsit en uit die hart uit kook. Sodat iemand wat dit eet met liefde gevul gaan wees. Die verskille tussen die kinkelkok en die outhoukok is dat die kinkelkok ’n kinkel gee aan die outhoukos deur om dit net so ’n bietjie te vernuwe, maar nou nie dood te maak nie. Hy moet hom net so maak dat daar ’n bietjie ekstra liefde ingaan, maar met ’n kinkel.”

Span solank jou kosklub in vir 1 Augustus, en deel jóú Kokkedoor-ervaring met ons op Facebook, Twitter en Instagram, deur die hutsmerk #Kokkedoor op sosiale media te gebruik.