web uni tv guide
Kokkedoor

Onthou-kos in die oortreffende trap – Kokkedoor 3

Nuus
07 Oktober 2019
Dié Kokkedore vertel ons van hulle Sondag-middagete.
Kokkedoor Sondagete

Die nuutste episode van Kokkedoor was miskien die mees hart-verwarmendste van dié seisoen. Die oorblywende spanne moes hulle herinneringe en inspirasies saammeng om een van Suid-Afrika se gunsteling maaltye te eer – dié Sondag middagete. Dit was ook ’n tranerige verrassing toe die Kokkedore sien wié hulle bedien – hulle geliefdes. Die episode het ons herinner dat kook beslis ’n manier het om mense se harte saam te bring. Ons het toe agter die skerms met die deelnemers gesels oor Sondag-kos en maaltye met dié wat so na aan hulle harte lê.

Hier is wat die Kokkedore te sê gehad het.

Kokkedoor-Ralph: “Sondag middagete by ons is ’n malhuis. Dis al my tannies en ek in die kombuis. As almal eers opgedaag het met hulle kinders kan dit tot op sestien mense wees – dis nogal ’n lieflike sig om te sien. ’n Malhuis met liefde is onse Sondagete. Die spyskaart is altyd ’n mengelmoes van vier disse; gebraaide hoender, aartappels met rys, kerrie met roti, breyani óf enige vleis soos lamsboud en Gammon.

Kokkedoor-Anmar: “’n Tipiese Sondag middagete by ons huis is altyd ietsie êrens. Ons eet nie sommer op ’n Sondag by die huis nie want ek en my man het maar net Sondae af van die werk, so ons hou daarvan om uit te gaan en ons gaan gewoonlik iewers met lekker kos en ’n mooi uitsig soos ’n wynplaas. Ons hou baie van kaas en wyn.

Kokkedoor-Pieter: “Sondag middagete by my huis is gewoonlik ’n oormate. Daar moet al ewig nog en nog én nóg wees. Jy kan altyd tot Dinsdag of Woensdag van dit eet. Dit moet lekker wees –  iets uit die hart. Ons hou baie van vleis: vark-pens, beestong, skaapboud. Nou en dan kan ’n een-pot-wonder soos ’n lasagne maar ook perfek wees.

Kokkedoor-Sonja: “’n Tipiese Sondag middagete by my huis is ’n lekker ete om ’n tafel. Ons probeer om die tafel bietjie mooier te dek as ’n ander dag van die week. Ons sal soms ook onder die boom sit op onse gras – dit is bedoel om ’n lekker gemaklike ete te wees. Omdat ek van ’n plaas af kom, is gemak baie belangrik. As dit maklik is, sal ek sommer net ’n klomp brode, kaas en ’n slaai op die tafel sit.

Kokkedoor-Pasch: “Dit hang-af wié by ons Sondag-middagete aansluit. Soms is dit net ek en my vrou en soms is dit my hele familie. As dit net ek en my vrou is, dan braai ons net gou ’n bietjie skaaptjops en groente op die vuur, maar as dit familie is dan moet ons bietjie uithaal en wys – iets van alles moet gemaak word. ’n Verskeidenheid van vreemde kos moet altyd op die tafel wees.

Na ons lekker met die Kokkedore en hulle geliefdes gekuier het, moes ons ongelukkig afskeid neem van Ralph en Pieter. Maar soos die beoordelaars gesê het: hulle sal vir ewig kook-familie bly. Ralph en Pieter het selfs gesê dat hulle enige tyd welkom sal wees in mekaar se huise vir ’n lekker ete.

Met slegs twee spanne oor, is dit amper tyd om uit te vind wie op die Kokkedoor-troon sal sit. Die finale episode gaan ook ’n paar ou gesigte en verassings insluit.

Vir ’n voorsmakie van die finale, kyk die voorskou hieronder: