web uni tv guide
Kokkedoor

’n Land van kleure, klank... en kook? – Kokkedoor 3

Nuus
21 September 2019
Ons kuier saam met Carike Keuzenkamp in die Kokkedoor-kombuis.
Kokkedoor Carike Keuzenkamp

Dié nuutste episode van Kokkedoor het ons beslis nostalgies – en so effens honger – laat voel. Dié egte terugflits-episode was propvol Suid-Afrikaanse herinneringe soos disko, TV-skinkbord-geregte en geliefde vermaaklegendes. Een van daardie legendes was niemand anders as die “Dis ’n Land”-sangeres, Carike Keuzenkamp, nie.

KLIEK HIER OM JOU TV-KENNIS SAAM MET CARIKE KEUZENKAMP EN ANNELISA WEILAND TE TOETS!

Ons was só opgewonde dat ons Carike sommer gou-gou uit die kombuis geroep het vir ’n geselsie. Ondanks haar roem en besige skedule is sy ’n groot TV-aanhanger, daarom verkies sy dat ’n TV-ete maklik eetbaar moet wees. Sy het gesê: “My gunsteling TV-ete kan enigiets wees, solank ek net met ’n vurk kan eet en nie met ’n mes hoef te sny terwyl ek na die skerm kyk nie.”

Carike het haar tyd saam met die Kokkedore verskriklik geniet. Sy het aan ons erken dat sy in die verlede gereeld vir haar familie TV-etes voorberei het.

Sy het ook aangename herinneringe oor haar medegas, Heinrich Marnitz, op die kassie gehad. “Ek kan die eerste uitsending baie goed onthou. Dit was op my skoonpa se verjaarsdag – 5 Januarie 1976. Dorianne Berry en Heinrich Marnitz het dit geopen. Ek het in die sitkamer saam met my man en my kinders gesit, en ons het gekyk. Ja, dit was baie opwindend.”

KYK: HEINRICH VERTEL ONS MEER VAN SY TV-HERINNERINGE

Van Suid-Afrika se gunsteling en geliefde TV-persoonlikhede het ook by Carike en Heinrich aangesluit in die sitkamer vir aandete voor die TV. Gaste het onder andere The Gods Must Be Crazy se Nic de Jager, Heidi se Annelisa Weiland en radio-omroeper, Jan Snyman, ingesluit.

KYK OOK: ONS GESELS MET NIC DE JAGER EN JAN SNYMAN AGTER DIE SKERMS.

Hierdie nostalgiese episode was nie net prêt vir die gaste nie. Die oorblywende onthou-kokke het ook die geleentheid gehad om hulle talent, herinnering en verbeelding saam te smelt. Na al die lekker tye moes ons ongelukkig van William en Lientjie afskeid neem.

Die spanning in die kombuis is tasbaar soos die top-4 spanne vir hulle volgende uitdaging voorberei. In die volgende aflewering besoek ons Kokkedore De Grendel se wynlandgoed vir ’n baie spesiale oespiekniek.

Vir ’n voorsmakie, kyk die video hieronder:

Indien jy vandeesweek se episode misgeloop het, kan jy die herhaling Saterdag om 12:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) kyk. Laat weet ons ook van jou eie kos-herinneringe op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #Kokkedoor op sosiale media te gebruik.