web uni tv guide
Kokkedoor

Hier is kykNET se nuwe Kokkedore!

Nuus
29 Mei 2019
Ontmoet die kokke wat in 2019 dit gaan uitspook vir die Kokkedoor-kroon.
Kokkedoor deelnemers

Wie sal ooit vir Tannie Poppie vergeet? Of Tiaan en Mynhardt se ongelooflike skeppings? Tannie Skuinskoek en Magda se sêgoed? Johnny en Elsa se innoverende spyskaarte?

Na twee gewilde seisoene van Koekedoor, as ook Kokkedoortjie en Koekedoortjie, keer Kokkedoor terug vir ’n derde draai in die kykNET-kombuis. Dit word vanaf Donderdag, 18 Julie 2019 om 20:00 op kykNET vir 13 episodes uitgesaai en dié keer trek die reeks ’n byderwetse stadsbaadjie aan.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal ook weer die beoordelaars wees, maar gaan deur die bekende kosskrywer en -blogger, Sam Woulidge, bygestaan word.

Vir die derde seisoen gaan 30 deelnemers (20 onthoukokke en tien kinkelkokke) hulle in Kaapstad aanmeld, maar tien onthoukokke gaan sommer direk na die eerste episode se uitdaging die trekpas kry.

Dan gaan tien spanne, wat elk ’n kinkel- en onthoukok as bestanddeel het, dit uitspook vir die Kokkedoor-kroon.

Daar is ook groot pryse op die spel en vir die wenners van Kokkedoor gee Suzuki Suid-Afrika elkeen ’n spoggerige Swift.

Maar dis nie al nie! Vir die Kokkedoor-wenspan se onthoukok is daar R200 000 kontant met komplimente van ons spens- en hoofborg, Food Lovers Market. Die wenspan se kinkelkok ontvang ook ’n R200 000-meevaller van Clemengold. 

En boonop kry die naaswenners elkeen R100 000 kontant van Spekko.

Wat is ’n onthoukok?
Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos, en al het hulle nie formele sjefs-opleiding en professionele ondervinding nie, klop hul harte warm vir tradisionele kos. Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die huiskombuis in. Onthoukokke word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

Wat is ’n kinkelkok?
’n Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefskwalifikasies, professionele kombuis-ervaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Kinkelkokke word gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ’n erkende restaurant en professionele kombuis.

Hier is die kokke wat vanjaar gaan meeding:

Kinkelkokke

Gallery

Onthoukokke

Gallery

Errieda du Toit, Kokkedoor se inhoudsvervaardiger van kos en draaiboekskrywer, gesels oor onder meer “stories van onthou”. Kyk die video hier onder:



Span solank jou kosklub in vir 18 Julie, volg die derde seisoen op Facebook, Twitter en Instagram, en deel jóú Kokkedoor-ervaring deur die hutsmerk #Kokkedoor op sosiale media te gebruik.