web uni tv guide
Kokkedoor

Gesels saam – Kokkedoor 3

Nuus
24 Augustus 2019
Lees meer.
1

Dié week is die Kokkedore see toe gewees waar hulle ’n elegante visbraai aanmekaar moes sit vir die Royal Cape Yacht Club. Dit was ’n stresvolle, maar tog opwindende uitdaging vir vanjaar se deelnemers en kykers het hulle sê gehad oor al die grootste oomblikke!

’n Belangrike vraag wat dié week opgeduik het is hoe weet die Kokkedore wanneer Nic van hul kos hou? Ralph het in die episode genoem dat dit onmoontlik is om agter te kom wat Nic van hul kos dink wanneer hy dit proe. Gevolglik het ons kykers gevra of hulle deur sy ‘poker face’ kan sien. Hier is wat hulle te sê gehad het:

Marisa Botha Pheiffer het genoem: “Ek probeer week vir week sy gesig lees, sonder sukses. Kan net dink hoe senutergend dit moet wees.” Hester Van der Merwe het saam gestem met Ralph se opmerking: “Ja kyk lekker poker gesigte, gee niks weg nie.” Wilna Van der Berg dink egter sy kan sien wanneer hy van iets hou of nie en het genoem dat hy beslis nie van die sous gehou het nie. 

Die kokke is bederf met ’n seiljagvaart deur Kaapstad se hawe voordat hulle weer aan die langtafel moes gaan sit. Hester van der Merwe was bly om te sien dat die Kokkedore ook hulself kon geniet: “Dit lyk te lekker, hoop hulle het daai vaart geniet.” 

Daarna was dit egter weer die beoordelaars se beurt om die kokke te sê hoe hulle gevaar het met die nuutste uitdaging. Nadat alle sterkpunte en swakpunte uitgewys is was die besluit gemaak om Snoes en Tippie huistoe te stuur. Kykers het gevolglik boodskappe met ons gedeel oor dié span. Lammie Ferreira het gesê: “Jammer julle tyd is verby, ek het die dinamika tussen julle baie geniet.” Maretha Potgieter het bygevoeg dat sy hulle gaan ‘mis’ op die program en dat hulle ‘oulike kookmaats’ was. 

Nadat dié span die Kokkedoor-kombuis verlaat het, is die kokke weer verras. Almal is weer in nuwe spanne geplaas, met sommige deelnemers meer opgewonde as ander. Ons het kykers gevra hoe hulle dink die nuwe spanne gaan vaar en die kykers het ook laat weet hoe hul voel oor die feit dat die spanne gereeld verander in dié reeks. Monica Vermaak het bekommernis getoon oor Pieter en Lientjie as ’n nuwe span. Elsa Rossouw het genoem: “Dink nogals dis baie moeilik om weer by ’n nuwe spanmaat aan te pas. Kan baie verwarrend wees.” Poppie Coetzer voel egter meer positief oor die nuwe uitdaging wat vir die Kokkedore voorlê: “Dit gaan ’n aanpassing wees, maar ek dink daar is van die spanne wat gaan rock.”

Maak seker jy bly op hoogte met verwikkelinge en gee jou mening met die hutsmerk #Kokkedoor op Facebook, Twitter en Instagram.