Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus
FYNBOS MOJITO MET PEPERMENT
‘n Lieflike verfrissende drankie.
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 10 min
6-8 pepermentblaartjies
300 ml Piekenierskloof Sauvignon Blanc
2 sopies brandewyn of rum
2—3 Carmien Apple Mint Coldbrew-rooibosteesakkies
Sprankelwater of lemonade om mee op te vul
Ys en suurlemoenskyfies indien verkies
1 Gooi die pepermentblare in ‘n glasbeker en druk fyn. Voeg die witwyn en brandewyn of rum by.
2 Voeg die teesakkies by en laat staan minstens so 2—5 minute lank sodat die geure lekker kan intrek. Druk al die vloeistof uit die teesakkie en verwyder.
3 Giet in 2 glase en vul verder op met sprankelwater of lemonade.
4 Voeg ys en suurlemoenskyfies by indien verkies.
SNOEK MET PEKANNEUTKORS
Snoek is Weskuskos. Ek sit dit effe anders voor deur gekapte koljander by die knoffel-suurlemoenbotter in te roer en sprinkel dan vir ‘n lekker crunch pekanneute oor. Soetigheid soos druiwekonfyt word gereeld daarmee saam opgedien, maar ek verkies ‘n vinnige perskeblatjang wat ek altyd met vars perskes van die plaas af maak. Daarby saam gebakte aartappels met ‘n rooi uie piekel.
Genoeg vir 4--6 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min
1 medium snoek, gevlek (kan effe gerook wees indien verkies)
Sout en peper
5 ml (1 t ) mosterdpoeier of visspeserye
80--125 ml (80--½ k) botter, gesmelt
4 knoffelhuisies, gekneus
Sap en skil van 2 suurlemoene
125 ml (½ k) gekapte koljander of pietersielie
160 ml (⅔ k) gekapte pekanneute
VOORSIT
Vinnige perske-blatjang (sien resep)
1 Geur die snoek aan die vleiskant met sout en peper, mosterd of speserye.
2 Meng die botter, knoffel en suurlemoensap en –skil.
3 Plaas die vis met die velkant na onder op die gesmeerde bakplaat.
4 Smeer die vis goed met van die bottermengsel en oondbraai 10 minute.
5 Smeer die res van die bottermengsel oor, sprinkel helfte van die neute en kruie oor en bak ‘n verdere 10 minute of tot die vis net gaar is en maklik vlok met ‘n vurk.
6 Sprinkel die res van die kruie en neute oor en sit voor met die perske-blatjang.
7 Sprinkel sout oor ‘n bakplaat, plaas die heel patats bo-op en bak tot sag. Sit voor met die perske-blatjang.
VINNIGE PERSKE-BLATJANG
Soteer 1 gekapte ui en 2 gekapte knoffelhuisies in olie tot sag, sprinkel 7 ml (1½ t) suiker oor en braai tot gekarameliseer. Roer 15 ml (1 e) druiwe-asyn en 4 gesnyde nektariens of perskes by en verhit tot die perskes effe sag, maar nie stukkend gekook is nie. Laat afkoel en sit voor saam met die snoek.
AARTAPPELS MET ROOI UIE PIEKEL
Wildeklawer se aartappels word wêreldwyd geprys vir hul uitsonderlike gehalte en is gelaai met voedingswaarde. Hul aartappels is geskik vir kook, oondbraai, vir slaptjips en aartappelskyfies. Hul rooi uie met sy soeter geur, is ideaal om rou in slaaie te gebruik of soos in hierdie piekel.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaaktyd: 40 min
PIEKEL
2—3 Wildeklawer rooi uie, in dun skyfies gesny
125 ml (½ k appelasyn)
125 ml (½ k flou Carmien Revive rooibostee (groen rooibos met brandrissie en gemmer), gemaak met 1 sakkie
60 ml (¼ k) bruinsuiker
10 ml (2 t) sout
10 ml (2 t) koljander- of mosterdsaadjies
AARTAPPELS
1 kg klein aartappeltjies, skoongeskrop
Sout
olyfolie
Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Laat staan die uie in bietjie water vir ‘n tydjie, dit maak dit minder skerp. Dreineer en plaas in ‘n bak.
2 Meng die asyn, tee, suiker en sout met koljander- of mosterdsaadjies en bring tot kookpunt.
3 Giet oor die uie en laat staan tot afgekoel.
4 AARTAPPELS Plaas die aartappels in ‘n enkellaag in ‘n oondvaste bak. Sprinkel sout oor en giet bietjie olyfolie, nie te veel, oor. Oondbraak tot sag en bros buiteom.
5 Skep in ‘n opdienskottel en skep die uiepiekels bo-oor.
“MOSBOLLETJIES” MET BOKKOMBOTTER
Ek geniet ook graag die Weskus se ander spesialiteit, bokkoms, wat ek fyn opkap en by botter inmeng. Die sout botter is heerlik saam met vars anysbeskuit. Dié maak ek gesonder deur minder suiker en botter in te meng en ek gebruik ook graag rooibostee wat bietjie vinkel en anys in het, om die beskuit mee aan te maak vir ekstra geur.
Maak 2 groot panne
Bereiding: 45 min
Rystyd: 30—40 min
Baktyd: 30—40 min
DEEG
1,5 kg steengemaalde witbroodmeel of koekmeel
10 ml (2 t) sout
20 ml (4 t) anyssaad
2 pakkies (20 g) kitsgis
200 ml suiker
200 g botter
750 ml (3 k) louwarm Carmien Nursing-rooibostee (gemaak met 4 sakkies)
250 ml (1 k) louwarm melk
SUIKERWATER
30 ml (2 e) suiker
30 ml (2 e) louwarm water
BOKKOMBOTTER
60 g bokkoms, fyngekap
125 g botter
125 ml (½ k) Cheddarkaas, fyn gerasper
Handvol pietersielieblare, fyn gekap
Voorverhit die oond tot 190°C.
Smeer 2 groot broodpanne of 3—4 middelslagpanne.
1 DEEG Sif die meel en sout saam. Voeg die anyssaad en gis by.
2 Meng die suiker en helfte van die botter, louwarm tee en melk.
3 Voeg die melkmengsel by die meelmengsel. Meng deur en knie sowat 10--15 minute lank of tot glad en elasties.
4 Knie die res van die botter in.
5 Bedek en laat rys tot dubbel die grootte op ‘n warm plek.
6 Knie af en verdeel die deeg in bolletjies. Pak styf teenmekaar in die panne. Bedek en laat weer rys tot dubbel die volume.
7 Plaas in die oond en bak 10 minute. Verlaag die hitte na 160°C en bak nog 30—40 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
8 SUIKERWATER. Meng die suiker en water en verf oor die warm kors.
9 Laat 5 minute staan en keer uit.
10 BOKKOMBOTTER Meng al die bestanddele saam en sit voor saam met die mosbolletjies .
Vir verdere informasie oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.