Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus
COCO-PINE-WHISKY-DRANKIE
Die Coco Pine-rooibostee gee ’n heerlike tropiese geur aan hierdie whisky-drankie.
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 5 min
DRANKIE
80 ml (⅓ k) medium suikerstroop
2 Carmien Coco Pine Cold Brew-teesakkies
2 sopies whisky
250 ml (½ k) sodawater
125 ml (½ k) lemonade
Blom-ysblokkies
1 Giet die suikerstropie in ’n beker en voeg die teesakkies by. Laat staan sowat 5 minute sodat die tee lekker in die stropie kan intrek. Druk die vloeistof uit en verwyder die sakkies.
2 Giet ’n sopie whisky in elke glas en voeg die Coco Pine-stropie by.
3 Vul aan met sodawater en lemonade en rond af met blom-ysblokkies.
MARMITE-STEAK MET TAMATIE EN FETA-KAAS
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: Sowat 10 min (Steak)
AFRONDING
Handvol kersietamaties of baba-tamaties aan die stronk
2 knoffelhuisies, fyngedruk
Olyfolie
Bruinsuiker
Sout en swartgemaalde swartpeper na smaak
STEAK
2 - 3 porsies steak soos T-been, rib-eye of kruisskuif, sowat 3 cm dik
Sout
SMEERSEL
30 ml (2 e) Marmite
30 ml (2 e) rooiwyn
30 ml (2 e) Dijonmosterd
30 ml (2 e) bruinsuiker (opsioneel)
30 ml (2 e) olyfolie
5 ml (1 t) gekapte tiemieblaartjies
Voorverhit die oond tot 200°C
1 AFRONDING Maak altyd eerste die bykos (gebakte aartappels) en afronding gaar. Smeer ’n oondpan liggies met olie en pak die tamaties in.
2 Sprinkel die knoffel oor die tamaties en spat bietjie olie oor. Sprinkel ook bietjie bruinsuiker oor en geur na smaak met sout en peper. Oondbraai 15 - 20 minute tot die tamaties net oopbars. Hou eenkant.
3 STEAK: Geur die vleis alkant baie liggies met sout.
4 SMEERSEL. Meng al die bestanddele saam en verf daarvan oor die een kant van die vleis.
5 Maak ’n riffelpan rookwarm en plaas die steak regop met die vetrandjie na onder in die pan. Hou vas met ’n vleistangetjie, nie ’n vurk. Braai tot bros.
6 Plaas nou die gesmeerde kant op die pan en braai tot die vleis loskom van die pan, draai om met die vleistangetjie, smeer met smeersel en braai die anderkant tot dit loskom van die pan en gaar is volgens jou keuse.
7 VOORSIT Skep van die aartappels op ’n bord, plaas die steak bo-op en skep die tamaties bo-op.
GEBAKTE BABA-AARTAPPELS MET FETA
Plaas die aartappels saam met die tamaties in die oond.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 40 min
1 kg baba-aartappels, skoongeskrop en gekook tot net sag
Olyfolie
Vars roosmaryntakkies
1 - 2 skywe fetakaas
1 Plaas die gaar aartappeltjies in ’n oondvaste bak en druk rofweg fyn met ’n vurk.
2 Giet bietjie olyfolie oor en stroop die blaartjies van die roosmaryntakkies en sprinkel oor.
3 Sprinkel laastens fetakaas oor en bak sowat 20 minute tot die aartappels lekker bros en die feta-kaas gesmelt is.
4 Sit voor saam met die steak.
KOPERPENNIE-WORTELSLAAI
Destyds se gewilde koperpennie-wortelslaai kry nou heelwat minder suiker in en word gemaak met tamatiepasta en nie tamatiesoppoeier nie. Wortels bevat veral baie beta-karoteen wat help met goeie sig. Nes hul uie, is Wildeklawer se wortels van hoogstaande gehalte en ekstra geurig.
Ek bottel die koperpennie-wortelslaai, en dan is dit ideaal om saam te neem met ’n safari-vakansie.
Lewer 1 l (4 k)
Bereiding: 20 minute
Gaarmaak: 15 minute
SOUS
160 ml (⅔ k) suiker
250 ml (1 k) appelasyn
125 ml (½ k) water
115 g tamatiepasta
10 ml (2 t) worcestersous
15 ml (1 e) aangemaakte heelkorrelmosterd
5 ml (1 t) paprika
Sout en peper na smaak
20 ml (4 t) mielieblom aangemaak met ’n bietjie water
SLAAI
1 kg wortels, geskil en in dun, ronde skyfies gesny
1 groot bruin ui, geskil en in ringe gesny
1 groen soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
Olie
1 SOUS Plaas al die bestanddele in ’n groot kastrol, verhit en roer tot die suiker opgelos is. Bring tot kookpunt.
2 SLAAI Kook die wortels in bietjie water tot net effe sag, maar nog baie bros. Dreineer. Giet kookwater oor die res van die groente, roer goed en dreineer goed.
3 Verhit bietjie olie in ’n kastrol en roerbraai die ui en soetrissie tot net sag maar nog baie bros. Voeg die sous by en laat net weer kook. Voeg die wortels by.
3 Skep die groentemengsel in gesteriliseerde flesse. Plaas die deksel op en verseël.
Vir verdere inligting rakende voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.