Kopiereg van resepte: Carmen Niehaus
Moskou Muil
Gee oudag se gemmerbier bietjie skop met vodka en rooibostee.
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 10 min
Lemmetjiesap
sout
2 sopies vodka
3 sakkies Carmien Revive-rooibostee(met gemmer en brandrissie)
Vars sap van ‘n halwe lemmetjie
Yskoue gemmerbier
Vars lemmetjies, in skyfies gesny
1. Druk die rante van die glase eers in lemmetjiesap en dan in sout. Laat staan eenkant om droog te word.
2. Giet die vodka in ‘n groot beker en voeg die teesakkies by. Laat staan te minste 5 minute sodat die tee goed kan intrek in die vodka. Druk alle vloeistof uit die teesakkies en verwyder die teesakkies.
3. Voeg die lemmetjiesap by en meng goed.
4. Vul die drankie op met gemmerbier en voeg skyfies lemmetjies by. Skink.
Eier & wortelslaaiflessies met suursous
Pleks van hardgekookte eiers so op hul eie, voeg ek dit by ‘n slaai gelaai met bietjie groenigheid en goedheid. Wortels bevat veral baie beta-karoteen wat help met goeie sig terwyl die avokado sorg vir onversadigde vette en heelwat vitamiene en minerale terwyl die rooi ui onder andere gelaai is met antioksidante.
Die suursous van destyds wat gemaak was met kondensmelk, trek ‘n gesonder baadjie aan, want dit kry heelwat minder suiker in en is propvol protein verkry vanaf die eiers en jogurt.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 15 min
MOSTERDSLAAISOUS
3 eiers, geklits
60 ml (¼ k) water
60 ml ( ¼ k) appelasyn
60 ml ( ¼ k) suiker
20 ml (4 e) matige mosterdpoeier of 30 ml (2 e) klaarbereide mosterd
2 ml (½ t) sout
Sowat 80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
SLAAI
1 Cos-blaarslaai, in blare gebreek
4 eiers, hardgekook en doppe verwyder
2—3 wortels, skoongeskraap en dan in repe geskil met ‘n aartappelskiller
1 avokado, in skyfies gesny
1 klein rooi ui, in dun ringe gesny
4 eiers, hardgekook en doppe verwyder
1. SOUS Plaas al die bestanddele in ’n swaarboomkastrol en klits goed met ‘n draadklitser. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die sous glad en dik is. (pas op vir skif).
Laat afkoel en meng die jogurt in. Skep die slaaisous in klein flessies.
2. SLAAI Pak eerstens die blaarslaai, dan die wortelrepies, gevolg deur die avokado, rooi ui en skyfies hardgekookte eier in ‘n skoon fles. Plaas die deksel op en draai stewig toe.
3. VOORSIT Keer die slaaiflessies om op ‘n bordjie en giet die slaaisous oor.
Kosblik-Frikkadelletjies
Die mosterdslaaisous is ook heerlik saam met die frikkadelletjies. Piekenierskloofwyne se flagskipwyn, Granache Noir, met sy goedgebalanseerde tanniene en geuprofiel van frambose en kersies met fyn note komyn en anys komplementeer die geurige frikkadelletjies baie goed. ‘n Handvol amandels hierby ingemeng verskaf ‘n effense brosserigheid en maak dit heerlik anders.
Lewer sowat 26 frikkadelle (genoeg vir 6 mense)
Bereiding: 20 MIN.
Gaarmaak: 20--30 MIN.
FRIKKADELLE
halwe ui, in stukke gesny
100 g heel amandels
2 hande vol pietersielie
2 hande vol koljanderblare
15 ml (1 e) suurlemoensap
Gerasperde skil van een suurlemoen
10 ml (2 t) elk fyn komyn en fyn koljander
5 ml (1 t) brandrissievlokkies
5 ml (1 t) sout
swartpeper na smaak
700 g maer maalvleis
1 eier
45 ml (3 e) olyfolie
Voorverhit die oond tot 180 °C.
1. FRIKKADELLE Plaas alles buiten die maalvleis, eier en olie in ’n voedselverwerker en verwerk tot goed fyn gekap.
2. Skep uit in ‘n mengbak, voeg die maalvleis en eier by en meng liggies maar deeglik. Rol in balletjies so groot soos okkerneute, plaas op ’n bakplaat en giet bietjie olyfolie oor.
3. Bak sowat 20--30 min. of tot net gaar.
4. VIR VOORSIT AS PADKOS: Laat afkoel en pak in ‘n bak met ‘n deksel. Verkoel.
Dadelhawermoutstafies
In hierdie stafies word die soetigheid meerendeels van die dadels verkry en ek voeg ‘n bietjie klapperolie by (anders as toentertyd se dadelstafies wat gewemel het van die suiker en botter om daardie bros krakerige koekie te kry) . So hierdie is eerder ‘n “chewy” dadelstafie as ‘n bros koekie. Dadels wemel van vesel en saam met die sade dra dit by tot verdere goedheid.
Maak 18 stafies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 30—45 min
250 g dadels, gekap
125 ml (½ k) warm Boost Vit C (3 sakkies)
2,5 ml (½ t) koeksoda
1 eier, geklits
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) klapper
60 ml elk (¼ k) geroosterde sonneblomsaad, en pampoensaad
125 ml (¼ k) koekmeel of glutenvrye meelmengsel
2,5 ml (½ t) koeksoda
5 ml (1 t) kaneel of gemengde speserye
Knippie sout
80 ml (⅓ k) klapperolie
45 ml (3 e) bruinsuiker of heuning
1 plak (80 g) donker sjokolade, gesmelt vir bo-oor giet
Soutvlokkies vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan goed.
1. Plaas die dadels in ‘n bak, giet die warm tee oor en sprinkel die eerste hoeveelheid koeksoda oor. Laat staan minstens 5 minute tot die dadels lekker sag is, voeg die eier by.
2. Meng die droë bestanddele saam.
3. Smelt die klapperolie en bruinsuiker of heuning saam. Meng met die dadels.
4. Voeg die droë bestanddele by die dadelmengsel en meng goed.
5. Druk vas in die voorbereide pan en bak 30--45 min tot goudbruin bo-op en stewig.
6. Koel heeltemal af en keer uit.
7. Giet die gesmelte sjokolade oor die onderkant, laat stol, sprinkel bietjie sout oor en sny in stafies met ‘n riffelmes of breek in stukke.
8. Verpak in ‘n lugdigte houer.
Vir verdere informasie oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.