Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus
Queen Victoria drankie
Die sakkie Carmien Orange Camomile verleen nie net ‘n heerlike sagte sitrusgeur aan die drankie nie, maar die groen rooibostee verskaf ekstra antioksidante.
Genoeg vir 1 mens
Bereiding: 5 min
1 sopie whisky
1 sopie Carmien Floral Gin
1 sakkie Carmien Orange Camomile rooibostee
15—30 ml (1—2 e) heuning
Yskoue lemoensap
1 Giet die whisky en jenewer in ‘n glas en voeg die rooibosteesakkie by.
2 Meng die heuning met genoeg water om ‘n stropie te vorm en voeg na smaak by, net om die drankie effe te versoet.
3 Vul verder aan met yskoue lemoensap en geniet.
EIERVRUG PARMAGIANA
‘n Heerlike vleislose gereg
Tamaties help om inflammasie te verlaag, verbeter beengesondheid en gee die immuunstelsel ‘n hupstoot. Uie is ‘n natuurlike antibiotika en anti-septies, help om die bloed te suiwer, bloedsuikervlakke te reguleer, help met vertering, anti-inflammaties en help beveg kanker en hartsiektes.
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Baktyd 30 min
750 g eiervrug, in 1 cm skywe gesny (ongeskil)
sout
olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kg tamaties, ontvel en in stukke gesny
1 blik (400 g) tamaties in sap
1 sakkie tamatiepasta
5 ml (1 t) elk gekapte vars oregano en basiliekruid
Sout en peper
200 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
250 ml (1 k) klaarbereide dik witsous (opsioneel)
Vars gerasperde parmesaankaas,
Ekstra parmesaankaas en basiliepesto vir voorsit
Basilieblare vir afronding
Voorverhit die oond tot 180°C.
1 Sout die eiervrugskywe, plaas in ‘n vergiettes en laat staan sowat 20 minute. Spoel af en druk droog.
2 Braai in verhitte olie in ‘n pan tot lekker bruin buite-om en sag. Skep uit.
3 Verhit nog ‘n bietjie olie in ‘n kastrol en braai die ui en knoffel daarin tot sag, voeg die vars tamaties, blik tamaties en tamatiepasta by, voeg die kruie by en geur met sout en peper. Bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut tot die tamaties lekker sag en geurig is.
4 Vir enkelgereg: pak 4 stapels as volg: skywe eiervrug, tamatiesous en skywe mozzarella-kaas op 4 oondvaste borde en giet die witsous oor indien verkies. Sprinkel ruimskoots parmesaankaas oor en bak in die oond vir sowat 10—15 min tot die gereg lekker warm en die kaas gesmelt is. Rond af met ‘n streepsel basiliepesto, ekstra skyfies parmesaankaas en rond af met basilieblare.
HOENDERROLLADE
In hierdie rollade word die hoender (hoenderborsies sonder vel) by die rol ingewerk en die vulsel is eintlik net ‘n tipe pesto gemaak met vars kruie.
Genoeg vir 4 mense (as ligte ete)
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
4 stingeluie, gekap
50 g botter
80 ml (⅓ k) koekmeel of ertjiemeel
300 ml melk
4 ekstra-groot eiers
VULSEL
Hand vol elk pietersielie, koljander, grasuie en basilie, gekap
Klein stukkie gemmer, fyngerasper
2 knoffelhuisies, fyngedruk
80 ml (1/3 k) neute soos amandels of macadamianeute, gekap
45 ml (3 e) gerasperde pecorino-kaas
60 ml (1/4 k) olyfolie
AFRONDING
Ekstra gerasperde pecorino-kaas
Voorverhit die oond tot 200˚C. Spuit ‘n groot bakplaat, voer uit met bakpapier, knip die hoekies in en bespuit weer met kossproei.
1 ROLLADE Plaas die hoender in ‘n mikrogolfvaste bak en geur met sout en peper. Voeg stingeluie by, bedek liggies met kleefplastiek of bakpapier en mikrogolf 1 minuut per 100 g hoender op hoog en dan net so lank op matige hitte.
2 Plaas die hoender saam met pansappe in ‘n voedselverwerker en verwerk tot fyn.
3 Berei ‘n witsous met die botter, koekmeel en melk. Geur met sout en peper. (Ek gebruik deesdae selfs ook ertjiemeel om witsous te maak en dan is dit glutenvry).
4 Klits die eiers en vou by die witsous is. Voeg die hoender by die witsousmengsel en meng goed. Skep in die voorbereide pan en bak 20—25 minute tot net gaar.
5 VULSEL Verwerk alles tot groffyn in voedselverwerker.
6 AFRONDING Maak ‘n skoon vadoek goed nat, wring uit en plaas op ‘n werkbank. Bestrooi ruimskoots met gerasperde pecorino-kaas.
7 Keer rollade uit op die vadoek, koel effe af en trek die papier af. Smeer die vulsel oor (hou bietjie oor vir bo-oor) en rol op met behulp van die vadoek. Sit voor as ligte ete saam met slaai.
BEET CARPACCIO
Beet is gelaai met goedheid, dit help met bloedvloei en om bloeddruk te verlaag en help selfs om sportsprestasies te verbeter.
Die slaai is super eenvoudig om te maak:
Sny gaar beet en komkommer in dun-dun skyfies en rangskik op ‘n bord. Meng van die kruiesous (wat jy by die rollade gebruik het) met goeie olyfolie om dit effe te verdun asook ‘n bietjie asyn indien verkies en giet oor die slaai.
GRIEKSE KLAPPERDADELKOEK
Hierdie klapperkoek bevat heelwat vesel soos verkry van die dadels en die appels. Dit verleen ook meerendeels die soetigheid daaraan sodat jy die suiker heelwat kan verminder. Rooibostee (Carmien se Relax of Orange Camomile) verskaf klammigheid asook lekker baie antioksidante.
Appels bevat beide onoplosbare as oplosbare vesel en help met dermgesondheid en vertering.
Al is dadels van die vrugte wat die swaarste gelaai is met suiker – 12 dadels bevat altesaam 15½ t suiker (fructose oftewel vrugtesuiker) het dit ‘n lae glukemiese indeks en is gepak met voedingstowwe, anti-oksidante en vesel. Saam met die gebruik van ander bestanddele soos sade, neute en klapper verminder die hoë veselinhoud die uitwerking van die suiker op die bloedglukose. In navorsing is ook bevind dat matige gebruik van dadels anti-diabetiese eienskappe het.
Maak 1 koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 20-23 min
125 g dadels, fyn gekap
2,5 ml (1/2 t) koeksoda
250 ml (1 k) kookwarm Carmien Relax Camomile rooibostee(4 sakkies) of Orange Camomile (groen rooibos)
5 ml (1 t) appelasyn
200 g (2) gerasperde appels
60 ml (1/4 k) olyfolie
80 ml (1/3 k) bruinsuiker
2 geklitste eiers
250 ml (1 k) klipgemaalde witbroodmeel
20 ml (4 t) bakpoeier
500 ml (2 k) klapper
VERSIERSEL
Versiersuiker
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n losboom-koekpan of mooi Bundtpan goed met kossproei.
1 Plaas die dadels in ‘n groot bak, sprinkel die koeksoda oor en giet die warm rooibostee oor. Voeg die asyn by en laat afkoel.
2 Voeg die appels, olie, bruinsuiker en eiers by die dadelmengsel en meng goed.
3 Sif die meel en bakpoeier saam en voeg die klapper by. Meng by die dadelmengsel in.
4 Skep in die pan en bak sowat 30—40 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek. Laat afkoel in die pan.
6 Keer uit en sif versiersuiker oor.
Vir meer inligting oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg die boek Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA. Beskikbaar by Takealot, Loot, Amazon of Exclusives, Carmientea- en LAPA-webtuistes.