web uni tv guide
Lekker en goed
web uni tv guide

Lekker & Goed

144Kosprogram18

Episode 3: Koshuis, dis lekkerder tuis – Lekker en goed

Nuus
17 Januarie 2025
Carmen het ’n heerlike maaltyd voorberei vir Sharri Kennedy.
Lekker en goed



Rooibos spritzer

Vir hierdie liplekker spritzer gebruik ons vonkelwyn pleks van witwyn en gee dit verder geur met ‘n lekker sterk rooibos-espresso. Carmien se espresso word met tiptop suiwer rooibostee gemaak is natuurlik kafeïenvry en het ‘n lekker sterk amperse fluweelagtige smaak. Die besonderse Cap Classique Brut Rosé van Piekenierskloof met sy aarbei en rooivruggeure is goeie pasmaats met die rooibos-espresso.

Genoeg vir 1 mens
Bereiding: 10 min

15 ml (1 e) Carmien rooibos espresso
Ys
30 ml (2 e) Carmien rooibos-en-suurlemoenstroop
Piekenierskloof Wilhelmina Cap Classique Brut Rosé, verkoel

1. Skep die espresso in ‘n teepot en giet 200 ml kookwater oor. Laat goed trek. (Of berei andersins soos beskryf op die pak).

2. Giet ‘n tot (25 ml) van die getrekte espresso in ‘n glas en voeg ys by.

3. Voeg die boegoe-en-suurlemoenstroop by en vul die glas verder met die Cap Classique.

4. Sit dadelik voor.



Bolognese met spinasie-roomkaas pastaskulpe

Hierdie is ‘n variasie op die lasagne wat my ma altyd graag vir ons gemaak het as ons Vrydae dood van die honger by die huis ingestorm het.

Die geurige bolognese-sous is gelaai met groente, uie, soetrissies, eiervrug, murgpampoentjies en lekker baie wortels om dit sodoende gesonder te maak. Wildeklawer se uie en wortels is van absolute topgehalte agv die goeie boerdery-metodes, wat toegepas word op hul plase. Het jy ook geweet dat Wildeklawer een van Afrika se grootste uie produseerders is en ‘n primêre produsent van wortels, beet en aartappels vir beide locale en internasionale markte is. 

Soos vir lasagne pak ons gebraaide eiervrugskywe pleks van lasagnevelle tussen die vleislagies en rond dit af met pastaskulpe wat met spinasie-en-roomkaas gevul is.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 40 min
Gaarmaak en bak: 40—50 min

Bolognese-sous

Olie
2 uie, gekap
Sowat 250 ml (1 k) Carmien groen rooibostee, gemaak met 2 sakkies
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi of geel soetrissie,in blokkies gesny
1 eiervrug, in klein blokkies opgesny
2 – 3 murgpampoentjies, gerasper
2 wortels, gerasper
125 g  fyngekapte spekvleis
500 g maer bees maalvleis
3 blikke (400 g elk) gekapte tamaties
250 ml (1 k) Piekenierskloof Tannat rooi wyn 
Groot handvol basilieblare, gekap
Knippie suiker, sout en peper na smaak

Spinasie-pastaskulpe

100 g spinasie, fyn gekap
125 g geroomde maaskaas
125 ml (½ k) gerasperde parmesaankaas

24 reuse pastaskulpe (conchiglioni)

Samestelling

4 eiervrugte
Sout
Olie
250 ml (1 k) gerasperde wit Cheddarkaas

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n oondbak met kossproei.

Bolognese-sous

1. Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui en knoffel tot sag, voeg rooibostee by en smoor tot heerlik geurig. Voeg die soetrissie, eiervrug, wortel en murgpampoentjies daarby en smoor verder tot lekker sag. Voeg die spekvleis by en braai tot gaar. Roer die maalvleis by en braai tot gaar en goed bruin indien verkies. 

2. Voeg die tamaties en wyn by, verlaag die hitte en laat prut sowat 20--30 minute tot heerlik geurig en meeste van die vloeistof verdamp het. Meng die basilieblare by en geur met suiker, sout en peper.

Spinasie-pastaskulpe

Meng die spinasie, maaskaas en parmesaankaas. Skep in die pastaskulpe. 

Samestelling

1. Sout die eiervrugskywe en laat staan minstens 10 min vir die vog om uit te trek. Spoel af, druk droog en braai in verhitte olie tot bruin en sag (of bak in die lugbraaier).

2. Skep ‘n laag bolognese-sous in ‘n oondvaste bak en pak ‘n laag eiervrugte bo-op. Skep orige maalvleismengsel bo-oor. Rangskik die gevulde pastaskulpe bo-op die bolognaise-sous.

3. Sprinkel die Cheddarkaas oor en bak sowat 25—30 minute of tot die kaas gesmelt en gereg lekker geurig en warm is. Sit voor met slaai.



Groen slaai in 'n glaspot


Die rooibosteeslaaisous met sy effense boegoegeur is heerlik saam met die eenvoudige lagieslaai van groenigheid, linte wortels, beet en rooi ui. Wortels wat ryk is aan karoteen, is bekend vir al sy gesondheidswaardes en word nes beet heeljaar lank by Wildeklawer verbou. 

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

Vinaigrette

60 ml (1/4 k) kruie soos Italiaanse pietersielie en basilie, grof opgesny
4 knoffelhuisies, opgekap
60 ml (¼ k) olyfolie
60 ml (¼ k) Carmien Buchu (rooibos en boegoe), gemaak met 1 sakkie
45 ml (3 e) druiwe-asyn of sjerrie-asyn
5 ml (1 t) Dijon-mosterd
Suiker, sout en peper na smaak

Plaas al die bestanddele in die NutriBullet en kap rofweg fyn.

Slaai

Baba-spinasie of Cos of roketblare
Wortels in repe gesny met ‘n groenteskiller
Beet, in dun skyfies gesny
Rooi ui, in dun-dun skyfies gesny
Boontjiespruite bo-op vir afronding

Pak lae blare en groente in ‘n glasbak en giet die vinaigrette oor en rond af met boontjiespruite.



Sjokolade-clusters


Donker sjokolade is ryk aan minerale soos yster, magnesium en sink. Dit het ook verskeie gesondheidsvoordele soos dat dit inflammasie verminder en ook die risiko vir hartsiektes verminder. Donker sjokolade kom van kakao, ‘n plant wat baie antioksidante bevat. Kommersiële melksjokolade bevat kakaobotter, wuiker en melk en klein hoeveelhede kakao. Daarenteen het donker sjokolade groot hoeveelhede kakao en minder suiker as melksjokolade. 

Die een is ook gelaai met die goedheid van neute en sade asook bosbessies en Turkse appelkose.

Maak 18—20 happies
Bereiding: 15 min
Gaarmaak:  sowat 2 minute
Stoltyd: 1 uur

200 g donker sjokolade, in stukkies gebreek 
200 g amandels, effe gekap (helfte kan ongesoute grondbone wees)
100 g sonneblomsade, gerooster of pampoensade of andersins ‘n mengsel van twee
100 g bosbessies 
100 g Turkse appelkose, fyner gesny

1. Voer 2 bakplate met bakpapier uit en spuit goed met kossproei.

2. Vryf die skilletjies af van die grondbone indien gebruik.

3. Plaas die sjokolade in ‘n glasbak en mikrogolf 30 sekondes op ‘n slag, roer telkens goed en herhaal tot heeltemal gesmelt. 

4. Meng die die gesmelte sjokolade met die grondbone of amandels, sade en vrugte tot heeltemal bedek.

5. Skep dan hopies daarvan bykans so groot soos ‘n R5-stuk, op die bakplate en laat staan om weer te stol. 

6. Plaas in die vrieskas tot heeltemal gestol. Bêre in lugdigte houer.