Kopiereg op resepte: Carmen Niehaus
DIS GIN VRIENDIN
Carmien se gewilde ryk, speseryagtige citrus chai teemengsel is ook gedistileer in ‘n unieke jenewer wat die lieflikste drankies oplewer. Voeg vir ekstra geur en mooi ook ‘n citrus chai piramiedteesakkie by en rond dit af met tonikumwater. Die citrus chai teemengsel is ‘n geurige kombinasie van rooibos en groen heuningbos, droësitrusskille gemeng met ‘n ligte chai-speserymengsel van kaneel, kardamom, borrie, gemmer, naeltjies en swartpeper. Dis verpak in ‘n pragtige driehoekige teesakkie wat ook bio-afbreekbaar is. Bygevoegde calendula-blomblaartjies dra by tot ‘n ligte gelerige kleur.
Genoeg vir 1 drankie
Bereiding: 5 min
1 sopie (25 ml) Carmien Citrus Chai jenewer
1 Carmien citrus chai- piramied teesakkie
Baie ys
Tonikumwater om mee op te vul
1 Giet ‘n sopie jenewer in ‘n glas en voeg ‘n citrus chai-teesakkie by. Laat effe staan sodat die tee net effe kan trek.
2 Voeg lekker baie ys by en vul die glas verder met tonikumwater.
VINKELVARK-OONDBRAAD MET KOOLWORTELSLAAI
Die oorspronklike resep vir hierdie geurige varkvleisresep met vinkel was met varklies gemaak, maar omdat varklies redelik ryk is met baie tussenspiervet, het ek dit vervang met ‘n varkboud en dit sodoende gesonder gemaak. Vark per se is van die gesondste rooivleistipes wat daar is in die sin dat die vet alles aan die buitekant sit en dus maklik verwyder kan word. Die vleis is ook altyd sag en sappig. Waak net daarteen om dit oorgaar te maak, want dan is dit droog. Varknek kan ook gebruik word. Anders as wat baie mense dink, is die “wit strepies” wat mens in die vleis van die varknek sien loop nie vet nie, maar meestal kollageen wat dit heerlik sag en sappig maak.
Ek maak die vark in ‘n aftreksel van Carmien se groen rooibostee met vinkel en fenugriek (Nursing) gaar, ‘n tee wat eintlik gebruik word deur mammas wat borsvoed. Maar die ekstra geurigheid van die vinkel saam met die kruierigheid van die groen rooibos dra baie by tot die heerlike geur wat die boud van alle kante binnedring. Die groen rooibos is gelaai met antioksidante.
Pleks van om die boud met gebraaide aartappels voor te sit, dien ek dit op met ‘n heerlike bros, vars slaai van kool en wortel met ‘n Oosterse sousie van sojasous en asyn oor, pleks van die gewoonlike mayonnaise wat mens met ‘n koolsaai sou verwag. Ek roer ook natuurlike jogurt deur die pansappe om ‘n heerlike romerige sous te maak, maar sonder die rykheid van room.
Onthou, vir sout geregte gebruik mens merendeels groen rooibostee, terwyl rooi rooibostee ‘n wonderlike soeter geur aan soeter geregte verleen.
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: sowat 3 uur
Staantyd: oornag
VARK
2 kg ontbeende varknek of -skouer of boud, swoerd klaar ingekeep
sout
60—80 ml (1/4—1/3 k) soet sojasous of andersins heuning gemeng met bietjie sojasous
Paar repe gemmerwortel en suurlemoenskil
1—2 uie en appels, in skywe gesny
1 liter (4 k) Carmien Nursing tee (groen rooibostee met vinkel-en-fenugriek, gemaak met 8 sakkies of helfte daarvan lemoensap
10 ml (2 t) vinkelsaadjies om bo—oor te sprinkel
natuurlike jogurt
SLAAI
10 ml (2 t) elk ment en koljanderblare, gekap
15 ml (3 t) gekapte piekelgemmer
Kwart kopkool, in dun repies gesny
1—2 wortels, skoongeskraap en gejulienne
1--2 nektariens of pruime of ‘n pynappel, in blokkies en skyfies gesny
Goeie skoot Japanese rysasyn
Goeie skoot sojasous
Bietjie suiker of heuning
1 Plaas die vark op ‘n draadrakkie oor ‘n oondpan. Giet kookwater oor die swoerd en druk droog met handdoekpapier. Vryf die swoerd goed met sout in en laat staan oop oornag in die yskas.
Voorverhit die oond tot 230°C.
2 Vryf die vleiskant van die oondbraaistuk in met die soet sojasous of andersins heuning-en-sojasousmengsel.
3 Pak die gemmerwortel, suurlemoenrepe, appels en uie in ‘n oondbak, plaas die oondbraaistuk met die velkant na bo in die bak, Oondbraai by 230°C of tot die swoerd mooi bruin is, sowat 20 min.
4 Verlaag die temperatuur na 160°C.
5 Giet die groentee en lemoensap indien gebruik, in die bak, maar moenie dat dit die vetlaag en vel bedek nie, sprinkel die vinkelsade bo-oor, bedek liggies met tinfoelie of bakpapier en oondbak by 160°C vir sowat 2½ uur of tot die vleis heerlik sag is, verwyder die laaste halfuur die tinfoelie sodat die vel weer lekker bros kan word.
6 Kook die sous af tot lekker geurig en meng bietjie natuurlike jogurt by.
7 SLAAI Meng die kruie, kool en wortel saam en skep in ‘n glasbak. Meng die asyn, sojasous en suiker of heuning saam, giet oor die slaai en sit voor saam met die oondbraaistuk.
PAMPOENTERT MET ROOMYS
Almal onthou oudag se soet, ryk pampoentert wat so gewemel het van die suiker en die botter en wat as toekos op tafel opgedien is. Die het ek nou heelwat gesonder gemaak deur die suiker en botter met heelwat meer as die helfte te sny (mens kan selfs die botter sommer heeltemal uitlaat) en natuurlike jogurt deur te meng wat nou vir al daardie romerigheid sorg.
Pleks as ‘n toekos, sit ek dit ook voor vir poeding saam met ‘n tuisgemaakte roomys wat ek met rooibostee maak.
1 kg pampoen of botterskorsie, in blokkies gesny
250 ml (1 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) elk fyn kaneel en sout
180—250 ml (3/4 –1 k) bruinsuiker
3 eiers
250 ml (1 k) volroom natuurlike jogurt
60 g botter (opsioneel)
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Gekapte pekanneute vir bo-oor sprinkel
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot oondbak se holtes met kossproei.
1 Stoom pampoen of botterskorsie tot sag en plaas in die bak van ‘n voedselverwerker.
2 Meng die koekmeel, bakpoeier, fyn kaneel, sout en bruinsuiker saam en voeg by die pampoen.
3 Voeg die eiers, natuurlike jogurt, gesmelte botter en vanieljegeursel by en verwerk tot glad.
4 Skep die mengsel uit in ‘n gesmeerde oondbak en bak sowat 40--50 minute tot gaar.
5 Sprinkel gekapte pekanneute net voor opdiening oor.
TUISGEMAAKTE ROOMYS
My ma se tuisgemaakte roomys was ‘n treffer en tog so maklik om te maak – sy het onder andere ‘n blik kondensmelk gebruik wat sy by die ryk, styfgeklopte room ingemeng het. Hierdie is my weergawe om daardie roomys na te maak, maar minder soet en ryk – waar ek die dik room deels met skinkroom en natuurlike jogurt vervang en vanielje-rooibostee in skinkroom laat trek het wat ‘n heerlike volronde geur aan die roomys verskaf. Carmien se vanielje-rooibostee is die ideale wegspringplek as mens swart tee vir rooibostee wil verruil. Die vanielje saam met die volronde soeterige smaak van rooibos is ‘n treffer.
Absoluut heerlik saam met die pampoentert asook malvapoeding.
Maak sowat 750 ml (3 k) roomys
Bereiding: 15 min
Bevriesing: oornag
2 sakkies Carmien vanielje-rooibostee
125 ml (½ k) suiker
125 ml (½ k) skinkroom
500 ml (2 k) volroomjogurt
1 Voeg die rooibossakkies en suiker by die room en verhit tot net onder kookpunt, roer sodat die suiker kan oplos en verwyder van die hitte. Laat 5 minute trek. Druk die vloeistof uit die sakkies en verwyder die teesakkies.
2 Voeg die jogurt by en meng deur.
3 Giet in ‘n plastiekbak en vries.
4 Roer ‘n paar keer tydens die vriesproses sodat die yskristalle kan opbreek.
Vir verdere informasie oor voedingswaardes, gesonder eet en resepte, raadpleeg Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid deur Carmen Niehaus, uitgegee deur LAPA.