web uni tv guide
Die brug
web uni tv guide

Die Brug

144Realiteit13 L

'n Fakkel, 'n vlot en twee nuwe deelnemers: Elsje en Durand gooi die appelkar om in episode 4 van "Die brug"

Nuus
29 Mei 2025
Hier is die twee nuwe spelers.
Die brug S2 Ep 4 article image

In episode 4 van kykNET se Die brug, net nadat Noord- en Suidhuis begin het om ’n ritme met die konstruksie te kry, is ’n knuppel uit die bloute in beide hoenderhokke gegooi. ’n Fakkel het skielik die hemelruim verlig en almal se aandag van die bouwerk na die water getrek – waar ’n vlot met ’n nuwe gesig na elkeen van die huise op pad was.

Die onverwagte aankoms het meer as net ’n gefladder veroorsaak. Saam met die aankomelinge het ’n amptelike boodskap arriveer: Albei spanne sou ’n nuwe speler verwelkom, en die spel sou nou met agt deelnemers gespeel word, elkeen met ’n oog op die skat en ’n kans om te wen. Die brief het ook goeie nuus gebring – ’n bloudruk vir die vlot – wat bevestig het dat die spanne op die regte pad is.

Maar die aankoms het ook spanning veroorsaak. Terwyl die oorspronklike spelers die verandering verwerk het, het een tergende vraag in die lug bly hang: Beteken dit een in, een uit? Net tyd sal leer.

Hier is die twee nuwe spelers:

Elsje Kok (38), ’n boer se vrou van Hanover, Noord-Kaap, sluit aan by Suidhuis.

Elsje woon op ’n plaas net buite Hanover, waar sy as boervrou en ma van twee haar lewe wy aan haar gesin se geluk en welstand. Maar sy het besef dit is tyd om ook weer haarself eerste te plaas – al is dit net vir ’n kort rukkie. Sy is op ’n plek in haar lewe waar selfontdekking vir haar belangrik is. Elsje is ’n aktiewe vrou, wat al aan marathons deelgeneem het en daagliks hand aan hand, en skouer aan skouer met haar gesin op hul historiese skaapplaas werk. Die uitdagings van die Karoo – veral met die afgelope paar jaar se droogtes – het haar getoets, maar nooit gebreek nie. Sy glo alles kan oorkom word deur terug te staan, jou seëninge te tel en dan weer vorentoe te beweeg. Hierdie is haar kans om uit haar gemaksone te tree, die onvoorspelbare te omhels en iets net vir haarself te doen. Vir haar is dit nie net ’n avontuur nie – dit is ’n geleentheid om weer te leer glo in haar eie krag en om te wys sy het beslis wat dit verg om te wen.

Durand Pelser (27), ’n MBA-gegradueerde van Houtbaai, Wes-Kaap, sluit aan by Noordhuis.

Durand het onlangs sy MBA-graad voltooi, wat eintlik teen sy kreatiewe aard indruis. Hy het ’n meisie, ’n hond en ’n huisie in Houtbaai, maar wat nou? In hierdie fase van sy lewe moet hy van rat verwissel, maar wat sy volgende stappe behoort te wees, is nie vir hom duidelik nie. Durand kom uit ’n standvastige familie, het ’n goeie opvoeding ontvang en homself kreatief uitgeleef in ’n musiekgroep en met sy eie podsending. Hy is sportief en speel klubrugby. Omdat hy ’n hegte en klein vriendekring om hom het, vind hy dit wel soms moeilik om by vreemdelinge aan te pas. Durand weet hy is goed met strategie. Hy is in beheer van sy emosies, en hy is nie bang vir enige uitdagings wat Die brug sy kant toe mag gooi nie. Durand is vasbeslote om te wen. Sy boekkennis is sy grootste wapen, en hy glo ’n loopbaan wag vir hom ná Die brug.

Beleef al die drama van Die brug, Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Volg die gesprekke op die kykNET-webwerf, Twitter, Instagram, TikTok en Facebook.