Met die 17de seisoen van Boer soek ’n vrou wat weer eens kykers vasgenael voor die kassie hou, is dit nou die ideale geleentheid vir ander enkellopende boere wat na liefde smag, om in te skryf vir die volgende ronde van kykNET se gewilde maatsoekreeks.
Tientalle Suid-Afrikaanse boere het reeds die liefdes van hul lewens deur middel van hierdie wenresep gevind. Skryf dus dadelik in as jy moeg is om eensaam op die plaas te wees.
Reandi Grey, die Boer soek ’n vrou-aanbieder, sê om ’n boer te wees, beteken jy is een van die hardwerkendste, toegewydste en geduldigste mense op aarde.
“So ’n mens verdien iemand wat hulle dag in en dag uit kan ondersteun en motiveer.”
“Boer soek ’n vrou kan boere help om iemand aan hulle sy te kry om sáám met hulle die goeie te waardeer en deur die slegte te werk. En om hulle goed te laat voel, gewaardeerd te laat voel én spesiaal te laat voel – soos die sout van die aarde wat hulle is.”
Volgens Reandi is dit maklik om die klein dingetjies in die lewe nie te waardeer nie.
“Om seker te maak jy kom deur die rat race en jy kom deur die dag en jy haal hierdie spertyd en jy woon daardie vergadering by – dit laat jou dikwels vergeet van al die klein goedjies,” sê sy.
“Ons vergéét om te waardeer. Dit is hoekom boere my inspireer, want hulle waardeer!
“Hulle waardeer die klein goedjies, hulle waardeer elke druppel wat val, hulle waardeer elke oes, hulle waardeer elke werker, hulle waardeer elke familielid, hulle waardeer elke stukkie sonskyn, hulle waardeer elke lammetjie, want niks is gewaarborg nie.
“So, wanneer dit gebeur, is hulle opreg dankbaar en waarderend daaroor. Dit is mos die tipe persoon wat liefde verdien, of hoe?”
Is jy ’n ongetroude boer of plaasbestuurder, manlik of vroulik, wat reg is om jou eie liefdesreis saam met kykNET en Boer soek ’n vrou aan te pak? Gooi dan jou naam in die hoed. Dalk word jy deel van die oes wat tydens die 18de seisoen die soektog na ’n eie pasmaat gaan onderneem.
Só kan boere inskryf:
· Klik hier om aanlyn in te skryf of om die inskrywingsvorm af te laai.
· Bel: 079 614 2229
· Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
Belangrike inligting:
· Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
· Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
· Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 9 September 2025 bereik.
· Die toptienboere vir die 18de seisoen sal op 13 November 2025 tydens ’n spesiale uitsending op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
Skryf nou in en waag ’n kans op ware liefde! Skakel ook Donderdae om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 om te sien hoe vanjaar se 10 boere se soektogte na liefde vaar en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok.