web uni tv guide
Die brug S2 Slim BB All Players
web uni tv guide

Die Brug

144Realiteit13 L

“Ek het geweet ek gaan deel …” – Die brug

Nuus
31 Julie 2025
Lees meer!
Die brug

“Ek het geweet ek gaan deel, nog voordat ek geweet het ek gaan wen” – Hirome wen Die brug, harte én kontant in die emosiebelaaide slotepisode van ’n naelbytseisoen.

Hirome Shigeaki het meer as net ’n brug  gebou – hy het vertroue, verhoudings en ’n nalatenskap van omgee gebou.



Na weke van fisieke uitputting, strategiese skuiwe en dramatiese hoogtepunte het kykers van Die brug 2 uiteindelik gesien hoe een van die mees geliefde deelnemers die wenstreep oorsteek – en meer doen as net wen. Hirome Shigeaki (28), ’n arbeidsterapeut van Worcester, is gekroon as die wenner van R720 000, maar het die land verstom deur ’n groot porsie van sy prysgeld met sy span te deel.

Hirome se reis was enigiets behalwe eenvoudig. Ná sy vroeë eliminering by Noordhuis in episode 2, het hy ’n tweede kans by Suidhuis gekry – ’n skuif wat nie net sy spel verander het nie, maar ook die groep se dinamika versterk het. Sy empatie, nederigheid en mensgerigte benadering het hom nie net ’n kragtige deelnemer gemaak nie, maar ook die hart van die span.



“Ek het geweet ek bring iets unieks na die tafel.”

In die laaste episode moes Suidhuis kies wie oor die brug stap – ’n besluit wat emosies hoog laat loop het. Hirome het uiteindelik met drie stemme gewen en, sonder huiwering, gekies om sy oorwinning te deel. Hy het R65 000 elk aan Melissa en Hanri gegee, R40 000 aan Johan, en R70 000 aan Jaco, en self met R480 000 weggestap.



Wat dié seisoen besonders maak, is nie net die wengeld nie, maar hoe dit gewen én gedeel is. Hirome se keuse het resoneer met duisende kykers: “Aanvanklik het ek gedink ek vat alles… maar toe gebeur iets onverwags – ek het mense se harte begin raaksien.”



Nie almal was egter so vrygewig nie.

Tydens die seisoen het verskeie deelnemers vir hulself iets uit die pot geskep. Tiaan, Roscoe en Wilhrisca het elk R10 000 gekies bo ’n spanbeloning. Elsje het R50 000 gekry om Noordhuis se brug te beskadig, en Lelani het R100 000 gevat ná ’n taktiese besluit wat beide huise se bouwerk gesaboteer het. En in ’n dramatiese finale onderhandeling het Noordhuis se oorblywende vyf spelers saam R100 000 gedeel om hul brug aan Suidhuis oor te gee.

Maar te midde van al die agterdog, strategie en selfsug, het Hirome se finale daad gewys dat ware oorwinning nie net in rande gemeet word nie – maar in karakter.



Die brug was onvoorspelbaar – net soos die lewe. Maar dis jou reaksie, jou houding en jou keuses wanneer dinge skeefloop wat die verskil maak,” het Hirome gesê.

Met dié seisoen het Die brug nie net ’n wenner gekry nie, maar ’n boodskap agtergelaat: Bou méér as net strukture – bou mense op.



Die hele tweede seisoen van Die brug is op Catch Up beskikbaar. Volg die gesprekke op die kykNET-webwerfTwitterInstagramTikTok en Facebook.