web uni tv guide

Errieda se vetkoek met kerriemaalvleis

09 Mei

Maak 15 vetkoeke

Gebak

4

Volgens Errieda du Toit, Koekedoortjie se inhoudsvervaardiger: kos, is daar een resep wat erfenis vir haar mooi opsom en dis haar heerlike vetkoek met kerriemaalvleis. Foto en stilering deur Ian en Errieda du Toit

Koekedoortjie_Errieda
Bestanddele

Deeg

1 kg witbroodmeel

20 g sout

20 g kitsgis

50 g suiker

50 g sagte botter

700 g louwarm water (’n slapper deeg gee ’n pofferiger vetkoek)

olie vir diepvetbraai

Kerriemaalvleis vir vetkoek

500 g maalvleis

30 ml olie

15 ml kerriepoeier (matig of sterk)

Sout en peper

1 brandrissie

2 uie (fyngekap)

2 knoffelhuisies (fyngekap)

2 wortels (geskil, in blokkies)

2 aartappels (geskil en in blokkies gesny)

Worcestersous

250 ml aftreksel of water

250 ml bevrore ertjies

30 ml blatjang

Metode

“Waaroor ek opgewonde is, is dat vetkoek – soos melktert ook – nou ook sy eie nasionale dag het op 30 Augustus. Nou kan ons hierdie smaaklike kultuurgebak op Erfenisdag, Vetkoekdag en enige dag geniet,” vertel Errieda. 

Volgens Errieda is vetkoek met kerriemaalvleis vir haar herkomskos wat haar herinner waar sy hoort – hier in Suid-Afrika. “Dit hoef nie bekend gestel of verduidelik te word nie, dit ís net.”  

“Die vetkoekresep is vir my spesiaal, want ek het dit gekry by ’n dierbare vriendin Ciska Rossouw, ’n bakker wat tradisionele broodbak-metodes gebruik. Dis nie ’n moeilike resep nie, maar wees maar net versigtig met die diepvetbraai, veral met kinders in die kombuis. Terwyl die deeg rys kan jy die maalvleisvulsel maak.”

Deeg: 

1. Sif droë bestanddele saam in ’n groot mengbak, voeg die water by en knie tot ’n sagte deeg (Errieda gebruik die staanmenger se deeghak). Knie sagte botter in. Knie dit tot die deeg wegtrek van die kante, sowat 8 minute. Dis ’n slap deeg. Plaas in ’n geoliede bak, smeer bietjie olie bo-oor en bedek lossies met kleefplastiek.
2. Vou toe in ’n ryskombers en laat rys sowat 30 minute op ’n warm plek. Knie af en laat weer rys.
3. Giet olie in groot kastrol, verhit oor matige hitte tot 170°C, of toets met ’n stukkie deeg wat vinnig moet begin dryf en goudbruin raak.
4. Terwyl die olie verhit, strooi oppervlakte met meel. Knyp nartjie-grootste stukke deeg af (smeer olie aan jou hande of gebruik meel as dit aan jou hand kleef). Vorm in bolletjies of langwerpig. Dompel in die warm olie, braai sowat 3-4 minute aan ’n kant. Skep uit met gaatjieslepel op kombuispapier.
5. Laat effe afkoel, sny deur en vul met kerriemaalvleis of waarvoor jy lus is. 

Kerriemaalvleis vir vetkoek:
Genoeg vir 8 vetkoeke

1. Verhit die olie, krummel die maalvleis daarin, verbruin sonder om aan die begin te roer sodat dit nie water trek nie. Voeg kerrie, sout en peper by, roer en braai nog sowat 3 min.
2. Voeg uie en rissie by, braai 4 minute. Roer dan knoffel, wortels en aartappel by.
3. Voeg die aftreksel of water by en geur na smaak met Worcestersous. Prut sowat 20 minute, voeg ertjies en blatjang by en prut nog ’n bietjie. Vul vloeistof aan soos nodig.

 

Nic_Lamniertjies
Koekedoortjie
2018-05-08

Nic se lamniertjies

Gewildste Resepte