In ’n nuwe leefstylprogram, Bou of breek, gaan dié talentvolle egpaar oor 13 episodes wys hoe hulle, binne begroting, nuwe lewe in bestaande ruimtes blaas, van die Oos-Kaap tot Stellenbosch. In elke episode werk die Dorflings saam met hulle kliënte om enigiets van woonhuise tot besighede in asemrowende plekke te omskep.
Die vervaardiger van die reeks is die akteur Reynardt Hugo, wat met sy produksiemaatskappy, StraatKatMedia, ook verantwoordelik was vir die gewilde reeks Net mens.
“Dit is verstommend om te kyk na die pad wat ek geloop het en die geboorte van StraatkatMedia – van die idee vir Net mens, wat ek vier jaar gelede gehad het, tot op die drumpel van hierdie eerste Suid-Afrikaanse huisopknap- en huisbouprogram van sy soort,” sê Reynardt. “In Bou of breek verf ons nie net mure nie. Ons bou huise van die grond af op en maak bestaande plekke baie mooi. Ek is opgewonde en geweldig trots op almal wat so hard aan hierdie projek gewerk het. Dit gaan nie net oor fisiese restourasie nie, maar ook oor die herstel van die siel. Dit is die storie van ’n wonderlike familie, die Dorflings en hulle twee kinders, en die eeue oue vraag: Gaan jy bou of gaan jy breek? Die keuse is joune.”
Johan, beter bekend as Pikkie, en Zanelle is 20 jaar getroud en is amper teenpole van mekaar. Johan is ’n introvert; Zanelle ’n ekstrovert. Johan neem sy tyd met besluite; Zanelle doen voor sy dink. Johan is presies; Zanelle kleur maklik oor die lyne in, maar elkeen bring hulle eie unieke ondervinding, vaardigheid en kunstigheid na alles wat hulle aanpak.
“Ons ondervinding is opgebou deur jare lange ervaring, deur foute te maak en te leer, deur ’n gelukkie te slaan, deur ’n hou of twee te vat saam met al die oppe en affe wat ’n projek na jou kant toe kan gooi,” sê Johan.
“Vir die meerderheid mense is bou of restourasie ’n vloekwoord. Vir ons is dit ’n geleentheid om iets te skep,” sê Zanelle. “Die mikpunt is altyd om enige projek beter te doen as wat ’n kliënt self sou kon, maar teen ’n laer prys as wat verwag is of vir minder geld as wat dit die kliënt op sy eie sou kos. Niks is meer bevredigend as om ons passie en ervaring te gebruik om ’n positiewe verskil in iemand se lewe te maak nie.”
Van die projekte wat in Bou of breek gesien gaan word, sluit die restourasie in van ’n huis in St. Francisbaai vir ’n familie wat Johannesburg vir die Oos-Kaap verruil het, ’n barbierwinkel in Stellenbosch en ’n huis op die Gamtoosrivier wat in gaste-akkommodasie omskep word.
Bou of breek begin op Sondag 6 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.