web uni tv guide
Die brug emmys slim BB

Waar is hulle nou? – Die brug

Nuus
25 April 2025
Waar is die spelers van die eerste seisoen? En hoe het "Die brug" hulle lewens verander?
Die brug where are they now article image

Die tweede seisoen van die opwindende avontuur-realiteitsreeks Die brug begin op 8 Mei met ’n nuwe span spelers wat wind en weer gaan trotseer om die groot prys te wen. Maar waar is die spelers van die eerste seisoen? En hoe het Die brug hulle lewens verander?

Robert Kruger, die wenner van die eerste seisoen wat R800 000 in sy sak gesteek het, is ’n voormalige professionele rugbyspeler en is deesdae rugbyafrigter in Midstream, ’n woonbuurt tussen Johannesburg en Pretoria. As wenner kon hy besluit of hy die geld met die ander deelnemers wil deel of dit self gaan hou. Robert het die meeste daarvan vir homself gehou.

“Sedert ek Die brug gewen het, was daar hartseer tye met die afsterwe van my pa in Februarie 2024, wat moeilik was, maar daar het ook goeie dinge gebeur. Drome wat ek voor Die brug gehad het, het begin realiseer, en ek lewe my passie uit vir rugby deur ’n afrigter by ons plaaslike skool, Midstream College, te wees. Ek het ook ’n rugby-akademie in samewerking met die skool begin. So, ek voel baie geseënd,” sê Rob.

Wanneer hy terugdink aan die opnames van Die brug, dink hy aan die moeilike tye, maar ook die mooi.

“Ek dink aan hoe Die brug mens getoets het om uit jou gemaksone te kom,” sê hy. “Maar dan was daar die mooi natuurskoon waarmee ons elke oggend wakker geword het.”

In die program het hy gesê indien hy wen, sou hy graag van die geld wou gebruik om ’n huis te koop, en dit kon hy doen. “Ja, mense het my herken ná Die brug, en meeste was heel vriendelik en het gesê ek het die regte besluit geneem oor die wengeld,” sê Rob.

Wat is die waardevolste les wat hy geleer het? “Ek het geleer dat daar seisoene in mens se lewe is. Partykeer is jy bo, en partykeer is jy onder, maar solank jy asemhaal, is daar iets om voor te leef.”

William Walters, die naaswenner van die eerste seisoen, het ’n paar drome gehad toe hy aan die reeks deelgeneem het. Hy wou met Sumé, sy lewensmaat en ma van hulle seun, Diego, trou. William wou ook na ’n groter huis trek sodat Diego sy eie kamer kan hê en verder leer om hom as duik-instrukteur te bekwaam.

“Ek het dit gemanifesteer en geleef asof dit gaan gebeur, en dit het,” sê hy. Hy en Sumé is in Junie 2024 getroud – “die beste dag in my lewe” – en die gesin het na ’n kleinhoewe buite Hopefield getrek. William het ook opgang by die werk gemaak en is deesdae ’n duik-instrukteur met sy eie klasse by The Academy of Diving and Offshore Medicine, ’n duikskool in Saldanha. “Mense kom van oor die hele wêreld om die kursusse hier te doen, en wat ’n voorreg om deel daarvan te wees,” sê hy.

Nog een van sy drome wat waar geword het, was om ’n boot te koop. “Die boot het nog baie werk nodig, maar dit sal kom,” sê hy hoopvol. “Al die positiewe veranderinge in my lewe is te danke aan Die brug. Alles het baie mooi in plek geval.”

En die ander spelers:

Geo Botha: ‘‘Baie mense het aanklank gevind by hoe ek die spel gespeel het en ons besigheid floreer. Ons neem later ons tweede seisoen van ons finansiële reeks vir kykNET, Welvaartskeppers, op. Ek was ook bevoorreg om saam met my vrou Parys toe te gaan vir die Olimpiese Spele.”

Sam Marais: ‘‘Ek het laas winter amper vier maande in die Cederberge in ’n tent spandeer. My tyd op Die brug het vir my op ’n dieper manier laat besef hoe belangrik die natuur vir my is, en dit het my gehelp om die besluit te maak om in die middel van winter te gaan kamp. Ek het uitgetrek uit my woonstel nadat my kontrak geëindig het en was basies die hele winter sonder ’n huis. Dit was beslis ’n baie groot uitdaging, veral met die vloede en die kampterrein wat in ’n rivier verander het, maar ek het dit vreeslik geniet. Noudat ek terug is, is ek besig om aan my eie filmreeks te werk wat hopelik teen die einde van die jaar bekend gemaak sal word.“

Avril Albetti:Oh wow, my hele lewe het verander. Ek het ’n baie groot deurbraak gehad, en kykNET het die grootste deure vir my oopgemaak. Die brug is vir ’n internasionale Emmy benoem, en ek was deel daarvan! Ek was, onder meer, ook deel van ’n program op Via, is by die Silwerskermtoekennings benoem as persoonlikheid van die jaar en is vir ’n Netwerk24 Smaakmaker-toekenning benoem. Ek was in April op die voorblad van een van die grootste tydskrifte in ons land, en matrikulante het in 2024 in hulle Afrikaans-eindeksamen ’n vraag oor my gekry. Dit was my grootste wen ooit, en ek het van blydskap gehuil.”

Arnold Bosman: “Ek het verloof geraak aan my wonderlike en pragtige meisie wat my deur alles bygestaan het en my net nader aan God gebring het. As alles goed gaan, trou ons voor die einde van die jaar. Ek het ook ’n besigheid begin en die prototipes word binnekort bekendgestel, asook die webblad daarvoor.“

Nonnie Geldenhuys: “Ek is so bevoorreg dat soveel mense my daagliks kom opsoek by die Plaasmol Padstal in Hopefield. Dit was en is nog steeds oorweldigend hoe baie kom inloer, van heinde en verre, vir ’n geselsie, koffie en om saam met my ’n foto te neem. Die brug het ’n groot impak op mense se lewens gemaak.“

Melanie Koegelenberg: “Ek was ’n boer in die Noord-Kaap, maar is deesdae ’n voltydse inhoudvervaardiger op sosiale media en ek is mal daaroor. Voor Die brug het ek nooit ’n kombuismes of pan opgetel nie, maar ek het vinnig besef as ons wil eet, moet ek kan kook. Die ondervinding op Die brug het my my passie laat ontdek, en ek gebruik dit, asook my liefde vir reis, op my platforms (Melanie Koegelenberg op Facebook, @melkoeg op Instagram en TikTok). Ek is bevoorreg om saam met wonderlike handelsname te werk en is vanjaar as een van Netwerk24 se Smaakmakers van die Jaar benoem. Ek is baie dankbaar vir die kans wat ek gekry het om deel van Die brug se eerste seisoen te wees.”

Marna Grobler: “Ek het begin om meer professioneel modelwerk te doen, en ek is ook besig om aan ’n geselsprogram te werk. Dit is ’n opwindende nuwe fase in my lewe, en ek sien baie uit na wat voorlê.”

Jamie Le Roe: “Ná Die brug het ek aanhou kook en het selfs vir ’n oudisie gegaan vir Kokkedoor: Vuur en vlam. Al is ek nie as een van die finaliste gekies nie, het ek in die MasterChef-kombuis gekook en vir Herman Lensing ontmoet. Wat ’n voorreg!  Ek is ook as motiveringspreker na ’n paar vrouegeleenthede toe genooi en het my liefde vir kleikuns verder ontdek en ’n paar stukke voltooi. Ek beplan om later vanjaar ’n uitstalling te hou wat my liefde vir kos, kuns en alles wat mooi is, ten toon sal stel.”

Tina Linder: “’n wipplankrit. Dit het my ’n hele ruk gevat om weer by die normale lewe wat ons ken, aan te pas. Ek het twee weke nadat ek van Die brug afgestap het, uitgevind my werkgewer is bankrot en moes vinnig planne maak. Ek het by ’n eiendomsagentskap, Remax Team Alpha, aangesluit en in my eerste jaar elf huise verkoop.”

Jacques Broodryk: “My lewe gaan maar aan soos voorheen. Ek is wel besig om te werk daaraan om ’n TV-program van my eie op die lug te kry.”

Iana Strydom: “Alles is meestal dieselfde as voor Die brug. Ek is steeds besig as beïnvloeder, onder meer by @wanderwithiana op Instagram, en het die geleentheid gekry om heelwat die afgelope jaar oorsee te toer. Ek het ook besluit om ’n professionele padelspeler te word en is hard aan die oefen, en ek speel in heelwat toernooie.”

Larry: “Daar was Die brug op kykNET. Ek was ’n deelnemer. Cedric Manetti, een van my ou skoolmaats, spot my op TV en next thing spoor van my skoolmaatjies my op Facebook op ná meer as 40 jaar! Intussen laat weet ’n ander hoërskoolmaatjie, wat ek in 1985 laas gesien het, vir my op die sideline dat dit ons hoërskool Ella du Plessis in Windhoek se 60ste reünie is in September 2024, en die week daarna is dit skoolvakansie in Namibië. Toe dink ek: Hoekom reël ons nie ons eie reünie met al ons ou skoolmaatjies nie? Kom ons bou die slag ’n brug breër en langer as Die brug se 250 m x 2 m-brug. En daar besluit ons ons gaan ’n moerse brug terug na ons maatjies toe bou. Ons het nou ’n groepie waar ons klomp land en sand praat oor ons jonger dae, en ons weet nou wat in almal se lewens aangegaan het sedert ons paaie in 1984 geskei het. Hierdie is vir my ’n toonbeeld van die simboliek wat in Die brug vasgevang word.”

Die tweede seisoen van Die brug begin op 8 Mei 2025 om 20:00 op kykNET, kanaal 144