web uni tv guide
WWNM S4 Slim BB
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144Spelprogram13

Vat vyf! Dis weer tyd Wie word ’n miljoenêr? op kykNET

Nuus
11 Junie 2025
Die afgelope vier seisoene van kykNET se gewilde speletjiesprogram Wie word ’n miljoenêr? het meegevoerde kykers tuis die antwoorde laat uitskree wanneer deelnemers hul kanse in die opmars na die R1 miljoen-vraag verbrou het. So naby, en tog so ver.
Wie word 'n miljoener

Wie word ’n miljoenêr? gaan weer vir vuurwarm vermaak sorg met Rian van Heerden se uitknikkervrae wanneer dit op 2 Julie na kykNET terugkeer.

En die groot vraag natuurlik: Gaan iemand weer soos in die vorige seisoen met die volle R1 miljoen huiswaarts keer?



In hierdie seisoen is daar ook weer ’n episode met bekendes, vanuit uiteenlopende velde, wat hul algemene kennis gaan inspan om fondse vir liefdadigheid te wen. Hulle is Karlien van Jaarsveld, Dean Smith, Jannie du Plessis, Pietie Beyers, Nicole Holm en Tracey-Lee Oliver.

Het jy geweet?

  • Sedert Wie word ’n miljoenêr vir die eerste keer in 2021 op kykNET begin het, was daar nog net een speler wat die volle R1 miljoen in sy sak kon steek. Dit was Herman Bosman, die blommeboer van George, wat in die twaalfde episode van die vierde seisoen sy laaste hulplyn ingespan het: sy ma. Die vraag vir Herman se R1 miljoen-prysgeld het gehandel oor watter reliek wat in Parys se Notre Dame-katedraal bewaar word, ongeskonde was ná die verwoestende 2019-brand. Ma Vida het gesê dat dit die doringkroon was. Sy was korrek.
  • In die tweede seisoen het die akteur, komediant en selferkende “trivia geek” Melt Sieberhagen R250 000 aan die Gift of the Givers gegee.
  • Die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom was in 2022 die eerste groot wenner van Wie word ’n miljoenêr? toe hy R500 000 in sy sak gesteek het. In 2023 het die joernalis Susan Booyens presies dieselfde bedrag losgeslaan nadat sy een korrekte antwoord weg van die R1 miljoen was. 
  • Joshuan du Toit, ’n mediese student van Pretoria, was die reeks se jongste wenner nog toe hy op 19-jarige ouderdom in Oktober 2024 tydens die vierde seisoen met R125 000 sakgeld weggeloop het. Hy het destyds gesê hy sou baie gelukkig gewees het as hy net R10 000 kon wen.
  • In seisoen vier het Hein Viljoen se raaiskoot op vraag 14 van hom die grootste verloorder tot op datum gemaak. Hy het op R250 000 gestaan, en hy het sy eerste veiligheidsnet op R500 000 gestel nadat hy die standaardvangnet op R10 000 gehaal het. “Ek gaan nou ’n R240 000-fout maak hier,” het hy aangekondig en gesê die letter P van die kleinhandelwinkelgroep SPAR staan vir Producten, terwyl die P staan vir Profitering.
  • Ná afloop van die vyfde seisoen sal daar 201 spelers wees wat weet hoe dit voel om in daai warm stoel voor Rian van Heerden te sit.

Wie word ’n miljoenêr? word van 2 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.