web uni tv guide
web uni tv guide

Koppieteefontein

144RealiteitPG13

Vars programme, vars gesigte en vars inspirasie op kykNET in Oktober

Nuus
08 September 2025
Lees meer!
Pootpraktyk

Van die platteland se beskeie gholfbane tot die stylvolle interieurs van Suid-Afrikaanse mans, van asemrowende motorfietstogte en hartroerende kuiergesprekke tot slim eiendomsopknappings, wêreldreise, dierestories en megaboere wat die toekoms vorm – hierdie Oktober bring kykNET iets vir elke kyker. Maak gereed om saam te reis, te leer, te lag en geïnspireer te word deur ’n ryke verskeidenheid programme wat Suid-Afrika se mense, plekke en stories vier.

Ysters op die platteland

Begin Saterdag 4 Oktober om 19:30

Na die sukses van Ysters op die landgoed is dit tyd vir ’n nuwe avontuur. In Ysters op die platteland reis Herman Watney, Johnny Davids en Alwyn Hollenbach deur dorpies soos Swellendam, Montagu en Jacobsdal om die mense, stories en beskeie gholfbane te ontdek saam met die aardse sjarme wat die platteland so na aan die hartklop van Suid-Afrika hou.

Tussen mure – Masculus          

Begin Sondag 5 Oktober om 17:30

Die splinternuwe kykNET-reeks Tussen Mure – Masculus, gegrond op die koffietafelboek Masculus – The Male Domain deur Leoni Smit, neem kykers op ’n stylvolle reis vol insiggewende gesprekke deur Suid-Afrikaanse mans se interieurs. Elke episode bied unieke ruimtes en stories – van historiese erfenis tot moderne ontwerp. Die aanbieders, Leoni Smit en die ontwerper Eugene Coetzee, kombineer hul kreatiewe oog en unieke aanslag om kykers te inspireer met interieurs vol karakter, geskiedenis en verrassing. 

1Spoor-avonture          

Begin Maandag 6 Oktober om 17:30

1Spoor-avonture keer terug met nog ’n epiese tog, aangebied deur André de Villiers, saam met Hans Strydom en Franswa Smit. Die span verken Suid-Afrika se mooiste grondpaaie en bergpasse – van die Oos-Vrystaat en Karoo tot by Kaap Agulhas. Kykers kan uitsien na asemrowende natuurtonele, praktiese wenke, kameraadskap en egte kampvuurstories wat die vryheid en bekoring van motorfietsry-avonture vier.       

KoppieTeeFontein        

Begin Dinsdag 7 Oktober om 21:30

Jak de Priester kuier weer saam met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars in KoppieTeeFontein. Hierdie seisoen het ’n vars formaat, en gaste gesels spontaan oor foto’s wat hul loopbane simboliseer – van hul begin tot vandag. Jak maak ’n draai by, onder andere, Bok van Blerk, Eloise Cupido, Jannie du Toit, Shimmy Isaacs, Tobie Cronjé en Rina Hugo. Die program bied insig, vermaak en ’n unieke blik op die mense agter die bekende gesigte.

Met 'n huppel in die stap         

Begin Woensdag 8 Oktober om 17:30

Wie sê ouer word, is vervelig? In Met ’n huppel in die stap ondersoek die aanbieders – Riaan Cruywagen, Bettie Kemp, Simon Bruinders en Jacqui January – temas soos ’n aktiewe leefstyl, lewenswysheid, herinneringe en betekenisvolle ervarings ná 50. Hierdie seisoen sluit in onderwysers wat hul leerders na oorsese uitreike neem en ’n besoek aan die Krugerhuis-museum ter ere van President Paul Kruger, die oorsprong en wetgewing rondom jakarandabome.

Vat jou goed en trek    

Begin Vrydag 10 Oktober om 17:30

Die geliefde eiendom-opknapprogram Vat jou goed en trek keer terug – groter en beter as ooit. Henck Conrey en sy span toer dwarsoor Suid-Afrika – van Polokwane tot Gansbaai – en help gesinne wat hul huise wil verkoop. Met indrukwekkende opknappings, vars dekor en praktiese wenke wys hy hoe om ’n eiendom se volle potensiaal te ontsluit en dit vir die beste moontlike prys te verkoop. Elke episode bied ’n nuwe familie, unieke stories en inspirasie vir almal wat daarvan droom om ’n huis suksesvol van die hand te sit.

Wanderlus       

Begin Saterdag 11 Oktober om 18:00

Hennie en Nicole Bosman neem kykers in die nuwe seisoen van Wanderlus op ’n onvergeetlike reis deur Namibië, Suid-Afrika, Lesotho en Madagaskar. Van woestyne tot oerwoude, berge tot die see – elke episode bied avontuur, plaaslike kultuur en heerlike kos. Ontdek geheime resepte, asemrowende natuurskoon en die unieke stories van die mense en plekke wat hulle besoek. Seisoen 4 van Wanderlus beloof meer avontuur, meer smaak en meer inspirasie as ooit tevore.           

Pootpraktyk    

Begin Saterdag 11 Oktober om 18:30

Pootpraktyk volg die dapper diere wat by die Valley Farm-dierehospitaal deur kundiges en spesialisveeartse behandel word. Van honde en katte tot voëls, slange en eksotiese diere – elke dier se reis van behandeling tot herstel word van begin tot einde gevolg. Hierdie reeks van 13 aflewerings wys die waarde van ons troeteldiere en die sorg wat hulle verdien, met humor, hart en ongelooflike stories.       

Megaboere

Begin Maandag 13 Oktober om 17:30

Die trefferreeks Megaboere keer terug met 13 splinternuwe stories van boere met durf, kreatiwiteit en visie. Van sitrusplase in Kirkwood tot varkboerderye in KwaZulu-Natal, en selfs plase anderkant ons grense – dié megaboere wys hoe uitdagings in geleenthede omskep kan word.

Die reeks vier die moed, vernuf en passie van mense vir wie boerdery nie net ’n werk is nie, maar ’n ingesteldheid en ’n lewenswyse. Met ’n nuwe aanbieder, Marco Botha, en asemrowende beeldmateriaal, vasgevang deur die produksiespan wat meer as 54 000 km afgelê het, beloof hierdie seisoen hoop, inspirasie en stories oor mense wat ’n verskil maak.