kyknet channel logo

Twee ikone word by 15de Fiësta-toekennings vereer

Nuus
20 Februarie 2025
Amanda Strydom en Frank Opperman word vanjaar by die 15de kykNET Fiësta-toekennings vir hulle lewensbydrae tot die kunste in Suid-Afrika vereer.
Fiestas

Beide het al langer as vier dekades hulle staal gewys in bykans al die vorme van die uitvoerende kunste.

“Hierdie eer is vir my baie spesiaal,” sê Amanda. “Dit is so ’n riem onder die hart as mens erkenning kry vir jou werk. Dis ook vir my ’n aansporing om aan te hou skep, aan te hou beweeg en geraas maak. Ek is vanjaar 46 jaar in die bedryf, en dit voel vir my ek kom nou eers op dreef!”

“Ek voel verskriklik geëerd,” sê Frank. “Dit laat jou oud voel, maar dit vra ook wat volgende? Dis ’n inspirasie om nog harder te werk, en dit voel vir my of die werk nou eers begin.” 

Watter hoogtepunte staan vir hulle uit?

Vir Frank is elke suksesvolle nuwe projek ’n hoogtepunt. “Wanneer ek klaar is met ’n produksie, is die vraag altyd watter uitdaging durf ek volgende aan? So, die antwoord oor wat die hoogtepunte in my loopbaan is, is dat dit elke keer ’n hoogtepunt is wanneer ek iets aanpak en dit werk.” 

“Daar is soveel hoogtepunte in my loopbaan. Dis moeilik om iets uit te sonder,” sê Amanda. “Maar as ek terugkyk op hierdie 46 jaar, is daar produksies wat my altyd sal bybly: die kabaret Met permissie gesê deur my mentor Hennie Aucamp; my rol as Tiemie teenoor Ben Kruger in PG du Plessis se Siener in die suburbs vir die opening van die Staatsteater in 1981; my rol as die Poolse sangeres Elzbieta Karski in die dramareeks 1922; die twee Spaanse misse Misa Criolla en Navidad Nuestra, eers saam met die PUK-koor, onder leiding van Awie van Wyk, later met die Libertaskoor, onder leiding van Johan de Villiers, en meer onlangs met Pieter Bezuidenhout se Horizons Project Choir.

"Dan ook my eerste selfgeskrewe eenvrouvertoning State of the Heart; Brel/Piaf saam met André Schwartz; my optredes in Nederland van 2007 tot 2023; elke nuwe albumopname met wonderlike musiekregisseurs soos Didi Kriel en Janine Neethling; my produksies met my geliefde pianis Coenraad Rall; die toneelstukke Voor ek vergeet met my vriend Hannes van Wyk en meer onlangs Tuis, ek’s liefie met Janice Honeyman as regisseur. En natuurlik my ontmoeting met meneer Nelson Mandela tydens die opening van die KKNK in 2001.” 

Wat beteken die kunste en spesifiek die feeste vir hulle? 

“Dit is die lewensaar,” sê Frank. “Daar is elke jaar ses geleenthede vir werk – KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Aardklop en Woordfees – en daarvoor sal ek hulle ewig dankbaar wees. Elke keer, byvoorbeeld, wanneer ek in die kar klim en die R62 na die KKNK ry, is dit ’n rush wanneer ek daardie lang draai vat en Oudtshoorn voor my sien. Om daar te wees, om te werk, om my vriende te sien. Die feeste speel ’n baie belangrike rol, en ek hoop om dit vir nog ’n paar jaar te doen.” 

“Sonder die kunste, die estetiese, gaan ’n volk ten gronde,” sê Amanda. “Dit is my lewensaar, my roeping. Ek dien die talent wat ek ontvang het en hoop dit bring vreugde, genesing, vrede en verwondering. Juis daarom beteken ons land se kunstefeeste vir my oneindig baie. Die kunstefeeste het ons gered toe die streeksrade gesluit het en bied platforms en werksgeleenthede vir elke genre in die kunslandskap. Die kunstefeeste dwing en inspireer my om skeppend te bly, om my werk en myself konstant te vernuwe.

"Dis by kunstefeeste waar ek kan beleef wat ander kunstenaars doen, en dit is so stimulerend. Jy voel dan weer jy hoort iewers, en ek is dankbaar ek is deel van die groot kunstefamilie in ons land. Ek kan nie genoeg dankie sê vir ons kunstefeeste nie.”

Die Fiëstas bekroon die beste werk wat in die vorige jaar by die land se ses grootste vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste – Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Toyota Stellenbosch Woordfees en Vrystaat Kunstefees – aangebied is.

  • Vanjaar se Fiëstas, wat die twee toekennings aan Amanda en Frank insluit, word op 27 Februarie by Kirstenbosch in Kaapstad oorhandig.