Spoorloos: Losprys, die vyfde seisoen van Spoorloos, is soos die vorige aflewerings van dié gewilde reeks ’n losstaande spanningsverhaal. Die nuwe seisoen begin op Dinsdag 26 Augustus, en met ’n sterbelaaide rolverdeling en oorgenoeg aksie en drama, beloof dit om weer ’n wenner by kykers te wees.
’n Ryk wildboer, Brand Lourens, se kleindogter, Karla de Villiers, is in matriek. Sy is deur ’n traumatiese ervaring toe sy die ooggetuie van ’n skietvoorval geword het. Haar pa, Willem, word van moord aangekla, en Karla is een van die sleutelgetuies in die verhoor. Voor sy egter kan getuig, word sy ontvoer. Haar ma, Lynette, word genoodsaak om haar eks-minnaar Frank om hulp te vra, synde hy die enigste ervare speurder in die distrik is. Maar sodra Karla se ontvoering opgelos word, verdwyn nog iemand spoorloos – en hierdie keer word geen losprys geëis of leidrade verskaf nie.
Dit is egter nie die enigste intrige in hierdie dramareeks van dertien episodes nie. Lynette se suster, Sofia, maak ook haar opwagting en is ’n katjie wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie. Die vermoorde man, Markus Mouton, se pa, Abraham, en sy weduwee, Monique, wil geregtigheid vir sy dood hê, en Karla se skoolmaats, haar kêrel, Robbie, en vriendin Anita, is dalk nie wat hulle voorgee om te wees nie. Die jong IT-spesialis Rowan Peterson werk vir Brand en is verlief op Karla, maar hy het self ’n geheim wat hy wegsteek.
Angelique Pretorius (Binnelanders, Kruispad) vertolk die rol van Lynette, en Neels Clasen (Niggies, My f*k, Marelize) is Willem. Die sanger en akteur Laudo Liebenberg (Die nuusmakers, Koek) is te sien as Frank. Brand word vertolk deur Louis Minnaar (Diepe waters, Kruispad), en Melissa Willering (Nêrens, Noord-Kaap, Suidooster) is Sofia.
Die jonger spelers is Lienke Vermeulen (Karla), Liam Bosman (Robbie), Dané de Waal (Anita) en Nahum Hughes (Rowan). Deon Coetzee, wat ook in twee vorige Spoorloos-seisoene te sien was, speel die rol van Abraham, en Blyde Smit is Monique. Jacques Gombault is Jakes, die wildbewaarder op Brand se plaas.
Die draaiboekskrywer is Mitzi Booysen, en die vervaardigers is Ohcre Moving Pictures. Die regisseur is die bekroonde Ilse van Hemert.
Spoorloos is van Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.