kyknet channel logo

'Som van twee': Silwerskermfeestreffer op pad na fliekteaters

Nuus
19 Februarie 2025
In Augustus verlede jaar het Som van twee met sewe Silwerskermtoekennings weggestap, onder meer vir beste speelfilm.
Som van twee

Die goeie nuus is dat dié feestreffer vanaf 21 Maart in fliekteaters landwyd te sien gaan wees. 

Som van twee vertel die verhaal van Henk Opperman, ’n sielkundige wat op sy vrou Nicolene se begrafnis bieg dat hy destyds die matriekvraestel vir wiskunde uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier, om sy tutor te wees, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hulle hele lewe lank gespanne en plofbaar. Henk se pa, Gert, meng ook kort-kort in, en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.

Die rol van Henk word deur Louw Venter gespeel, en James Borthwick is Gert. James het die toekenning vir beste akteur gewen, en Pierre Breytenbach, wat te sien is as Petrus, is as beste manlike byspeler aangewys. Die rol van Renier word deur Adriaan Havenga vertolk. Ook in die rolverdeling is Greteli de Swardt, Righard van Jaarsveld, Reginald Hufkie, Deon Coetzee, Leandie du Randt en Kim Cloete. 

Som van twee is Simoné Pretorius se debuut as speelfilmregisseur, en sy het twee Silwerskermtoekennings gewen – een vir beste regisseur en nog een vir die draaiboek. Dries Scholtz se redigering en die klankbaan deur Snoozefest en Hunter Kennedy is ook bekroon. 

Filmfinity is die verspreider van die film.

“Dis amper onwerklik om te glo, maar Som van twee is gegrond op ware gebeure,” sê Simoné. “Liani Jansen van Rensburg het op ’n artikel afgekom en my daarvan vertel. ’n Vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, het tydens ’n skoolreünie erken dat sy haar matriekbiologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom, en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologievraestel weer moes skryf.”

Die rolverdeling was vir Simoné die belangrikste aspek van die film. “Ons het akteurs gesoek wat sterk in drama én komedie is, veral vir Louw en James se karakters. Louw het baie kleur na sy karakter gebring. Daardie charisma was nie iets wat ek kon skryf nie – Louw het dit verpersoonlik. En James is seker een van die talentvolste akteurs saam met wie ek al gewerk het. Sy sin vir humor en toewyding is ongelooflik om te aanskou.”

Wat is vir Simoné die belangrikste temas om uit te lig in die film?

“Dat ons ouers nie altyd vir ons kan wees of vir ons kan bied wat ons nodig het nie. Hulle sit maar met hul eie bagasie. En soms, as ons kan erken dat ons ook nie perfek is nie, help dit ons om met hulle te versoen. Ons is immers soms meer soos hulle as wat ons besef.”

Die teaters waar Som van twee te sien sal wees, is: 

Nu Metro
Boardwalk, Port Elizabeth
Canal Walk, Kaapstad
Clearwater Mall, Johannesburg
Galleria, Durban
Loch Logan, Bloemfontein
Menlyn Park, Pretoria
Mountain Mill, Worcester
The Strip, Welkom
Woodland, Pretoria

Ster-Kinekor
Cape Gate, Kaapstad
Cresta, Johannesburg
Garden Route Mall, George
I’langa Mall, Mbombela
Irene Mall, Pretoria
Mall of the North, Polokwane
Mimosa Mall, Bloemfontein
Mooi Rivier Mall, Potchefstroom
Rosebank Nouveau, Johannesburg
Secunda Mall, Secunda
Somerset Mall, Somerset-Wes
The Grove, Pretoria
Tygervallei, Kaapstad
Vaal Mall, Vanderbijlpark
Water Crest, Durban

Onafhanklik
Atlanta Cinema, Swakopmund
Epic Northridge, Bloemfontein
Minimax Cine, Kaapstad
Road House Cinema, Hermanus
Movies@Monte, Johannesburg