kyknet channel logo

Safari Roetes Seisoen 3: Ontdek die hart van die Cederberge en Tankwa

Nuus
11 Julie 2025
Safari Roetes is terug op kykNET met ’n derde seisoen propvol avontuur, asemrowende uitsigte, versteekte kampplekke en stories wat die Suid-Afrikaanse stofpaaie tot lewe bring. Hierdie geliefde 4x4-toerprogram wys kykers hoe hulle met hul standaard 4x4-voertuie self die pad kan vat na bekostigbare, unieke bestemmings reg hier in eie land.
Safari Roetes

In Seisoen 3 vat die span jou na die hart van die Cederberge en die ongerepte Tankwa Karoo – ’n streek wat bekend staan vir sy indrukwekkende rotsformasies, wyd oop vlaktes en oorweldigende natuurskoon. Dié bestemming bied alles van rustige kamp- en piekniekplekke tot geheime swemgate en watervalle – en die span wys presies waar en hoe om dit te ervaar.

Volgens aanbieder en vervaardiger van Safari Roetes, Petri de Wet, is dit juis hierdie plaaslike juwele wat Suid-Afrikaners nog te min verken:

“Ons toer die Cederberge en Tankwa plat in hierdie seisoen. Almal wil altyd op in Afrika gaan om unieke plekke te ervaar, maar nie net is dit baie duur nie, maar jy sit met probleme soos siektes, grensposte ens waarmee jy moet sukkel. Jy sal dit nie glo nie, maar die mooi plekke wat jy in Afrika kry, is net so mooi twee ure van Kaapstad af.”

Hy voeg by dat baie plaaslike reisigers nie besef wat op hul voorstoep wag nie:

“Meeste Suid-Afrikaners weet dit nie en het dit nog nooit gesien nie. Hulle weet nie watter mooiheid lê op hul agterstoep nie. As hulle hierdie seisoen van Safari Roetes kyk, gaan hulle pragtige plekke sien waar hulle daardie Namibië en Afrika-gevoel kan kry.”

Met die groeiende gewildheid van overlanding in Suid-Afrika, is dié reeks perfek vir gesinne, paartjies en avonturiers wat wil wegbreek sonder om die bank te breek.

“As hulle die reeks volg,” sê Petri, “gaan hulle agterkom hulle kan sommer vir ’n naweek wegbreek – dit is goedkoop en hulle ondersteun boonop plaaslik. Dit gaan ’n avontuur van ’n leeftyd wees. Ek toer al vir 20 jaar – mense weet nie watter mooiheid in ons eie land weggesteek is nie – en dit is wat ons vir hulle wys in hierdie seisoen.”

Die Safarispan bestaan uit drie dinamiese paartjies:

  • Petri en Tanya de Wet – bekend vir hul hengel- en Afrika-toere,
  • Vivian en Marianne Torlage – die kampkommandant en boskok,
  • Nico en Danette Hesterman – veldgids en natuurkenners.



Saam met ’n paar gaste bring hulle waardevolle safariwenke, kamptoerustingtoetse, interessante verhale en versteekte juwele uit die Suid-Afrikaanse landskap.

Safari Roetes Seisoen 3 begin op Vrydag 11 Julie 2025 om 17:30 op kykNET, kanaal 144. Maak gereed om geïnspireer te word – dalk wag jou volgende avontuur net om die draai.