Wicus Pretorius, die hoof-beoordelaar op Klein paradys het juis gesê dié tipe opknappings-projekte neem 1 ½ keer die begroting en 2x die tyd waarvoor jy aanvanklik beplan het.
Begrotings-probleme is ook besig om kop uit te steek by die duo’s met onbeplande uitgawes en onvoorsiene probleme (wie kan nou van die waterproofing-fiasko vergeet?).
Ons het ‘n paar wenke gaan vind oor hoe jy tyd – en geld – kan spaar tydens jou volgende DIY-projek.
Moenie te skaam wees om te vra vir ‘n toets-hoeveelheid nie, veral nie wanneer dit by verf- kleure en muurpapier kom nie. Koop ‘n paar skakerings om teen die muur te verf en neem jou tyd om te besluit watter kleur die beste sal pas by die eindproduk wat jy ingedagte het. Dieselfde prinsiep geld vir muurpapier: Koop ‘n paar toets-lengtes en gaan plak dit teen jou muur met prestik.
Dink konstant aan die eindproduk: Maak vir jou ‘n moodboard op Pinterest met idees waarvan jy hou en hou by die styl wat jy ingedagte het. Dit is soms so maklik om af te wyk van die finale beplanning af, veral wanneer jy deur showrooms gaan stap vir inspirasie en jou kredietkaart vir jou begin fluister.
As die area wat jy wil opknap nie te groot is nie, is dit beter om kleiner potjies verf te koop – dit gaan aanvanklik duurder wees om ‘n paar potjies te koop in plaas van een emmer, maar dink net hoe bly jy gaan wees wanneer jy van die verf kan terugstuur vir ‘n terugbetaling. Niemand wil ook opgeskeep sit met ‘n halwe emmer verf waarmee jy niks kan doen nie.
Dit is heeltemal aanvaarbaar om bietjie rond te kyk vir goedkoper pryse by verskillende verskaffers – ‘n R5 hier en ‘n R20 daar kan die verskil beteken tussen ‘n begroting wat klop of ‘n begroting wat kniediep in die rooi gedruk word.
Indien jy, soos die duo’s, ook ‘n badkamer-projek aanpak, hou gerus by produkte of brands wat welbekend is, veral as jy dalk later iets moet vervang wat gebreek het.
Ons laaste wenk is ook om mooi na jou gereedskap te kyk – maak jou gereedskap skoon en stoor dit ordentlik nadat jy dit gebruik het, veral wanneer dit by kwaste, bits en troffels kom (né Jannie?) ;)
Skakel Donderdae om 20:00 in vir Klein paradys op kykNET, kanaal 144 om te sien hoe die duo’s se mikro-eenhede vorder. Gesels ook saam op Facebook, X, Instagram en TikTok.