Sy het vroeër vanjaar tydelik die sepie verlaat om haar rol as die nuwe aanbieder van Boer Soek ’n Vrou te vervul. Die nuwe seisoen van dié maatsoekprogram van kykNET (DStv-kanaal) word vanaf Donderdag 7 Augustus 20:00 uitgesaai.
Reandi sê dit voel vir haar soos om “’n ou vriendin weer te sien, iemand wat jy goed ken, maar wat jou telkens verras.” Sy voeg by: “Ek het baie gegroei sedert ek haar laas vertolk het, en dit voel asof sy ook saam met my gegroei het. Dis ’n voorreg om weer daardie emosies en ervarings met haar te beleef en saam met die span nuwe lae tot haar storie by te voeg.”
Anja se terugkeer bring nuwe uitdagings. Oor haar karakter se ontwikkeling sê Reandi: “Aan die begin het Anja geneig om ander se opinies bo haar eie te plaas. Haar ervarings het haar geleer om moeilike besluite te neem, selfs al beteken dit dat sy teen die stroom moet swem. Ná wat met haar en Roussouw gebeur het, het sy uiteindelik baie verborge vrae wat sy gehad het, kon antwoord.”
En wat kan kykers verwag van Anja se storielyn hierdie keer? “Kom ons sê maar net, soos altyd is Anja se sesde sintuig alweer reg...,” sê Reandi met 'n glimlag.
Wanneer dit kom by wat sy die meeste van Anja geniet om te vertolk, sê sy: “Ek geniet dit veral om Anja se kompleksiteit en emosionele diepte te vertolk. Sy is ’n karakter met baie lae... Sy is sag en empaties, maar ook sterk en vasberade. Ek hou daarvan hoe sy nie altyd voorspelbaar is nie; dit hou my as akteur op my tone.”
Na haar afwesigheid is Reandi ook vol lof vir haar Diepe Waters-kollegas: “Soms is dit goed om ‘n breek te vat van ‘n karakter. Maar om ‘n breek te vat van my mede-akteurs was moeilik. Ek het hulle vreeslik gemis. Ek het nog selde so lekker saam met iemand gespeel soos met Nadia Valvekens. Dis soos ‘n dans om saam met haar tonele te doen.”
Kykers kan uitsien na ’n volwasse, sterker en meer selfversekerde Anja – en na die vonke wat haar terugkeer ongetwyfeld op die skerm gaan veroorsaak.
Skakel Maandae tot Donderdae 18:30 in vir Diepe Waters op kykNET (DStv-kanaal 144). Ook beskikbaar op DStv Stream.