Oplossings vir die platteland, ’n driedelige dokumentêre reeks, begin op 27 Julie 2025 op kykNET en belig die inspirerende Suid-Afrikaners wat moeilike omstandighede in hoop omskep.
Die reeks bied ’n blik op boere, gemeenskapsleiers en gewone Suid-Afrikaners wat met passie en vindingrykheid hul dorpe en gemeenskappe transformeer.
Van die herstel van vervalle infrastruktuur tot die bekamping van voedselonsekerheid, die skep van werksgeleenthede, die bestryding van misdaad en die voorsiening van noodsaaklike onderwys en gesondheidsorg – hierdie Suid-Afrikaners sit nie met gevoude hande nie. Hulle maak plan en spring self in.
Geïnspireer deur die Landbouweekblad-konferensie wat ’n platform vir plattelandse suksesverhale geskep het, verken Oplossings vir die platteland vindingryke inisiatiewe wat landbougemeenskappe transformeer.
Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, sê die publikasie werk reeds 106 jaar in die platteland: “Dit is waar ons die heel beste, maar ook die slegste van ons land eerstehands beleef – die ongelooflike landelike verval, maar ook besonderse planmakers. Van uiters kundige boere wat suksesvol met die beste in die wêreld meeding om só die ekonomie en die verste uithoeke van ons land aan die gang te hou, tot gewone plattelanders wat eenvoudig nie meer die verval en traak-my-nie-houding van die owerhede kan verduur nie.”
Dié dokumentêre reeks, wat landwyd verfilm is, fokus op dr. Christina de Villiers se pogings om gesondheidsorg in Barkly-Oos te verbeter, PJ Hassard en die Hluhluwe-boere wat hul gemeenskap versterk ná verwoestende plundering, en die PALS-projek in Ceres wat nuwe grond breek met inklusiewe grondhervorming. Kykers ontdek ook Annemarie Verwey se dekade lange voedselskema in Murraysburg en innoverende gemeenskapsinisiatiewe wat onderwys, energie, veiligheid en grondontwikkeling in plattelandse dorpe landswyd aanspreek.
“Hierdie is stories van Suid-Afrika se beste planmakers – die mense wat hul moue oprol en letterlik ons land red, terwyl ouens soos ek maar net kla. In ’n land soos ons s’n, met al sy probleme en uitdagings, is wat dié mense doen nie net ongelooflik inspirerend nie, dit gee mens ook weer hoop dat ons steeds die land kan bou waarop ons almal eens gehoop het,” sê Chris.
Die reeks word op intieme wyse aangebied: Kykers word tot reg in die hart van gemeenskappe geneem, waar hulle saam met die doeners – dikwels oor ’n koppie boeretroos – gesels oor hul stories en oplossings. Waldemar Schultz se meesleurende vertelling begelei kykers op elke inspirerende reis.
“Ons wil vir kykers wys dat gewone mense ook ’n verskil kan maak. Of jy nou ’n hospitaal in Barkly-Oos red, ’n sopkombuis in Bothaville bestuur of net die sypaadjie voor jou huis netjies hou – dit alles dra by tot ’n beter Suid-Afrika, wat ons almal wil hê,” sê Chris.
Oplossings vir die platteland is ’n tydige herinnering aan wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan met vasberadenheid en kreatiwiteit.
Dié dokumentêr is vervaardig deur Pop24, wat ook agter suksesreekse soos Vreemder as fiksie, Die ondernemers en The Mommy Club: Van die hoofstad staan.
- Oplossings vir die platteland begin op 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.