Joalette De Villiers kuier sedert September in kykers se sitkamer met Op pad met my potjie waarin sy die hele Namibië vol reis op soek na die lekkerste potjiekos. Joalette en haar gaste het al, onder meer, ’n varkskenkelpotjie, skaapafvalpotjie, seekospotjie en beesstertpotjie aanmekaar geslaan.
Ons het gaan inloer by haar om te hoor waarmee sy alles besig is.
In jou eie woorde, wat is Op pad met my potjie?
Op pad met my potjie is ’n leefstylprogram waarin ’n meisie en haar driebeenpot haar land, Namibië, verken en oral waar sy kom, leer sy van die mense en hul kultuur en wat hulle graag in ’n driebeenpot gaarmaak. Die driebeenpotjie is vir menige Suider-Afrikaner ’n gewilde apparaat vir kosmaak. Dit kan tradisionele kos wees of enige gunstelingpotjie.
Hou jy van kosmaak? Wat is jou gunstelingdis om te maak?
Ek geniet kosmaak vreeslik baie. Dis nie vir my werk nie, dis ontspanning en ’n kreatiewe uitlaatklep. Dis vir my heerlik om mense te sien smul aan ’n lekker gereg wat ek voorsit. Ek hou van eksperimenteer met kossoorte. Tans is my gunstelingdis om te maak bruschetta. Dis verfrissend en vullend.
Wat is jou gunstelingpotjie?
Ek is mal oor ’n hoenderpotjie en ’n skaappotjie. En as ek daarmee saam dumplings (kluitjies) of ’n potbrood kan maak, is ek in my noppies.
Watter besoek was jou gunsteling en hoekom?
Sjoe... Almal vra gewoonlik wat is jou gunstelingpotjie, maar hierdie is vir my ’n moeiliker vraag omdat Namibië net so ongelooflik mooi is. Al die plekke was vir my besonders op ’n eie manier. As ek móét kies, sal ek sê die noorde van ons land. Die area is pragtig. Dis baie bedrywig met mense, donkies en beeste. Die beste tyd was langs die Okavangorivier. Dit was grasgroen, die lopende water salig vir die siel en die mense so rustig en vriendelik. Dit het meer soos vakansie as werk gevoel.
Hoe was jou ervaring op stel?
Ek het ’n baie goeie ervaring op stel gehad, 95% van die tyd. Ek was die enigste vroumens met ’n groep mans as kameramanne, maar hulle het almal my broers geword. Ons het ’n hegte span geraak, en teen die einde het ons dinge seepglad laat verloop. Die 5% van die tyd wat onaangenaam was, was dae waarop die Namibiese son ons in ons kanon in probeer brand het of ons te veel geëet het. Niemand wil met ’n vol maag werk nie, maar die werk moes gedoen word. Verder was dit regtig net ’n plesier.
Wat doen jy as jy nie kykers op die kassie vermaak nie?
In dié stadium is my program redelik vol met al die skoolgee. So, ek kry nie regtig tyd vir ander goed nie, maar as die geleentheid hom voordoen, gaan kuier ek bietjie by vriende of die res van my familie in Swakopmund. Ek het ook ’n hekelgroep waaraan ek behoort, en ons klomp vrouens saam is groot pret. Die res van die tyd is ek en my kêrel saam en doen ons goedjies saam. Ons huis is vol diere. Dis georganiseerde chaos, partykeer net chaos.
Enige laaste woorde aan die kykers?
Baie dankie aan almal wat Op pad met my potjie kyk en ondersteun. Dis ongelooflik dat mense die program so goed ontvang. Ek is so trots op die reeks en dankbaar vir almal wat gehelp het om dit moontlik te maak – die MultiChoice- en kykNET-span en Pedro Mandoza, die vervaardiger wat met die program vorendag gekom het. Dit was net briljant. En vir enige iemand wat ’n droom het, wil ek sê: Maak nie saak hoe lank dit vat nie, fluister daai droom elke dag in jou oor, bid daaroor en vertrou dat die Here dit op die regte tyd vir jou sal gee. Hou moed.
Op pad met my potjie is elke Maandagaand om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die episodes is ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar.