Herders, ’n Nuwe kykNET-dokkie-reeks, volg die lewens van ’n aantal geestelike leiers wat hulle kuddes op hulle eie unieke manier na die Here lei.
Oor agt episodes leer Rian van Heerden en sy span nie net die herders ken nie, maar ook die omgewing waarin hulle hulself bevind en kry hulle insae in hoekom hierdie geestelike leiers so ’n groot rol speel in die gemeenskappe wat hulle bedien.
“Ek wou nog altyd ’n program maak oor geloof, en wat is ’n beter manier om meer uit te vind oor die geloofspad van mense as om met hulle geestelike leiers te gesels? Die stories van die herders en individue uit hulle kuddes is net ongelooflik. Om nie van die pragtige visuele elemente te praat nie!” vertel Rian, die vervaardiger van die reeks.
Van die temas wat die reeks ondersoek, is inklusiwiteit in die kerk, die NG Kerk van toe en nou, kerke in klein dorpies, asook bekende persoonlikhede en nuusmakers wat kerke lei.
Ons ontmoet, onder andere, die NG-dominee Riaan de Villiers van die Groote Kerk in Kaapstad, pastoor Johan van Eck van die West Rand Bikers Church, pastoor Heinz Winckler van LoveKey Church, profeet Graeme Williams van Fire Torch Ministries en ds. Farren Cloete van die VGKSA Lambertsbaai.
“Hierdie is ’n reeks wat my baie na aan die hart lê. Ek voel bevoorreg dat ek dwarsoor die land hierdie ongelooflike mense kon ontmoet. Jy kan nie anders as om tydens en ná elke episode ’n baie spesiale warmte te ervaar nie – ’n gevoel dat daar soveel meer daarbuite is as wat ons ooit sou kon dink,” vertel Rian.
Herders word deur Provoco vervaardig, wat ook verantwoordelik was vir reekse soos Laataand by Rian, Hougaard: Liefling van Loftus, Die Siener en Bolhuis Beslis.
- Herders begin op 19 Januarie 2025 om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.