kyknet channel logo

'Onthul' ondersoek die trauma en die skreiende toename in ontvoerings

Nuus
10 Januarie 2025
In ’n nuwe episode van kykNET se dokumentêre reeks Onthul, wat Sondag 12 Januarie uitgesaai word, word daar op ontvoerings gefokus.
Onthul: Ontvoerings – jy is ook ’n teiken

Dit gebeur gewoonlik wanneer jy dit die minste verwag. Eensklaps is daar ’n masjiengeweer in jou gesig en jou lewe verander in ’n oogwink. Dit is maar een van die traumatiese ervarings wat deelnemers aan Onthul: Ontvoerings – jy is ook ’n teiken ervaar het.

Nog ’n deelnemer aan die program, wat kon ontsnap voordat sy in die mensehandel-netwerk beland het, vertel van hoe haar trane onophoudelik geloop het en al wat deur haar kop bly maal het was die vraag: “Is ons wêreld so wreed?”'

Suid-Afrika beklee die onbenydenswaardige sesde posisie op die rangleer van ontvoerings wêreldwyd en dit vind plaas teen ’n tempo van gemiddeld 47 ontvoerings elke dag. Sedert 2021het die syfers tot 2023 verdriedubbel. 

Intussen is die regstelsel en die polisie nie ten volle bemagtig om met ontvoerings te deel nie.

Die landskap van ontvoerings het oor die afgelope drie dekades aansienlik verander. Ontvoeringsindikate wat dit vir geld doen, het dit in ’n fyn kuns ontwikkel en georganiseerde misdaad floreer. 

Maar menseroof, soos dit nou bekend staan, was nooit ’n tipiese Suid-Afrikaanse misdaad nie. Om die waarheid te sê, in 1995 was die syfers so laag – nagenoeg 2 000 – dat dit nie eers die misdaadstatistieksyfers gehaal het nie . . .

In 2012 het tot 4 000 toegeneem. Nege jaar later het dit opgeskiet na meer as 10 000, toe 15 000 en in 2023 17 000.

Volgens misdaadkenners skep korrupsie, werkloosheid, die oopmaak van die land se ekonomie en gepaardgaande vryheid daarmee vrugbare teelaarde vir ontvoerings.

Mosambiek word grootliks beskou as die bakermat van ontvoerings met sindikate wat bande met terreurgroepe het wat tot in Pakistan en Afghanistan strek. En die geld wat hierdeur ingewin word, word ook aangewend vir die befondsing van terreur.

Maar selfs die sindikate smee onderling bande met mekaar, en dit maak dit uiters moeilik om hierdie glibberige palings vas te trek. 

Daar is hoë-profielontvoerings met lospryse wat miljoene rande beloop, middelklas-besigheidsmanne wie se families bedreig word en dan nog ’n onstellende verwikkeling waar daar nou nabootsers is wat ook op die ontvoerwa spring, maar hulle teiken diegene wat in informele nedersettings bly. Kinders word ontvoer in ruil vir ’n paar honderd rand.

Gauteng is bo-aan die lys waar meer as 50% van die aangemelde ontvoerings plaasvind, met KwaZulu-Natal daarna met byna 20%. Die Wes-Kaap en Mpumalanga volg met sowat 6% elk. Maar dit is besig om in al die provinsies toe te neem.

Tot op hede is die grootste losprys wat nog in Suid-Afrika betaal is, R150 miljoen. Daarom is dit nie verrassend nie dat daar versekeringsdekking teen ontvoering en losprysgeld beskikbaar is nie.

Daar is groot lof vir die polisietaakmagte wat ongelooflik goeie werk doen, maar in die groter prentjie is dit net ’n druppel in die emmer.

Express-ontvoerings is aan’t toeneem waar mense voor middernag ontvoer word en gedwing word om die maksimum toegelate bedrag vir die dag by ’n OTM te onttrek, en na middernag weer die transaksie te herhaal.

’n Ander programdeelnemer is deur sy ontvoerders forseer om sy bank-app oop te maak. Hy was verstom oor hul kennis van wat alles met die app gedoen kon word en het selfs skaamteloos persoonlike inligting ingevoer om as begunstigdes geregistreer te word. Dit was nie al ontnugtering nie . . . sy bank was allesbehalwe behulpsaam en maande se stryd om sy geld terug te kry, het gevolg.

Mensehandel is die ander nagmerrie waardeur talle in die gesig gestaar word. Die voorbereiding van veral jong meisies in die sosiale media is een van die grootste risiko-faktore. Sommige word wel ontvoer, terwyl ander met mooi beloftes gelok word.

Dan is daar gevalle van meisies wat deur een bordeel aan ’n ander verkoop word . . . vir R1 500.

  • Moenie die boeiende aflewering van Onthul: Ontvoerings – jy is ook ’n teiken op Sondag 12 Janaurie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.
  • Die deelnemers aan Onthul: Ontvoerings – jy is ook ’n teiken is onafhanklik van kykNET en Multichoice.