kyknet channel logo

‘Onthul’: Het Trump werklik ’n volksheld vir Suid-Afrikaners geword?

Nuus
19 Junie 2025
In hierdie aflewering van kykNET se dokumentêre reeks 'Onthul' word daar op die Amerikaanse president Donald J. Trump en sy houding teenoor Suid-Afrika gefokus.
Onthul

Lanklaas het ’n Amerikaanse president hoofopskrifte wêreldwyd gehaal soos wat die oënskynlike los kanon, Donald Trump, dit regkry. Suid-Afrika ingesluit. Die man wat nie Namibië kon uitspreek of gedink het niemand weet waar Lesotho is nie . . . maar die man wat weet Suid-Afrika is ’n plek waar baie, baie slegte goed gebeur.

Is die huidige Amerikaanse president ’n “politieke barbaar wat nie weet wat in die wêreld aangaan nie.”, of “ ’n Lekker ou om mee te kuier”?

Die lys van eerstes agter sy naam is nie almal benydenswaardig nie. Hy was immers die eerste president van die Land van Vryheid wat aan misdaad skuldig bevind is.

He is done,” het die nuusagentskappe dit uitgegil. Maar nee, noem hom liefs Teflon Trump, want hy het oënskynlik ongeskonde daarvan afgekom en is nog steeds Amerika se 47ste president.

Lourensa Eckard, aanbieder: In Gesprek, erken sy het in 2016 met die aanvang van sy eerste ampstermyn gedink dis die einde van die wêreld. Selfs komediant Trevor Noah het dieselfde daaroor gevoel. Vandag beskou sy hom as ’n baie doeltreffende politikus, ongeag of daar met hom saamgestem word al dan nie.

In Onthul: Trump-tornado tref Suid-Afrika word daar gekyk na die dekade-lange geskiedenis en ook vriendskappe wat tussen ons land en die groot Verenigde State van Amerika geheers het. Ekonomiese ooreenkomste, toerisme, sosiale ooreenkomste. 

Maar dinge verander en daar kan nie aan die verlede vasgeklou word nie.

Prof. Johann Rossouw, politieke filosoof: Universiteit van die Vrystaat glo Trump wil die instansies, waaronder Harvard en die staatsdiens, meer verantwoordbaar en doeltreffend maak. Hy dink die Trump-administrasie wil binnelands ’n konserwatiewe rewolusie deurvoer.

“Maar ’n rewolusie hoef nie bloed op die strate te hê nie, maar dit het net so ’n ingrypende impak omdat dit mense se lewens so geweldig raak,” sê prof. Jo-Ansie van Wyk, politieke wetenskap: Unisa.

Een ding is seker: Óf Trump is mense se held óf die grootste politieke skurk wat wedywer om die top-posisie saam met Rusland se Poetin en Noord-Korea se Kim Jong-oen. Daar’s niks louwarm wanneer Trump se naam opduik nie. 

Suid-Afrika het Amerika nodiger as wat Amerika ons het. Maar het Solidariteit vir sanksies gaan vra? En waar bevind ons ploeterende regering hulself in die prentjie?

Moenie hierdie fassinerende gesprek met uiteenlopende opinies misloop nie.

Van die kenners, meningsvormers en belanghebbendes wat aan die Onthul-episode deelneem sluit Alida Kok (Politieke wetenskap: Akademia), prof. Piet Croucamp (politieke ontleder: Noordwes Universiteit), prof. Jo-Ansie van Wyk (politieke wetenskap: Unisa), Prince Mashele (politieke ontleder), Christo van der Rheede (uitvoerende hoof: De Klerk-stigting), Emma Louise Powell (DA-woordvoerder: Internasionale skakeling), R.W. Johnson (politieke ontleder), Flip Buys (voorsitter: Solidariteit Beweging), prof. Johann Rossouw (politieke filosoof: Universiteit van die Vrystaat), Frederik van Dyk (prokureur & stigtersbydraer: OntLaer), Pieter du Toit (assistentredakteur: News24) en Lourensa Eckhard (aanbieder: In Gesprek).

  • Die deelnemers aan Onthul is onafhanklik van kykNET en Multichoice.
  • Moenie die boeiende aflewering van Onthul: Trump-tornado tref Suid-Afrika op Sondag 22 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.