Die goue reël is as iets te goed klink om waar te wees, dan is dit. Maar in Onthul: Bedrieg - toe verloor ek my geld blyk dit dat slim woorde, gemanipuleerde inligting en ’n lieflike wortel van rykdom voor die neus, vermeng met geloof, soms genoeg is om selfs die waaksaamste mens te flous.
Volgens SABRIC (SA Bankrisiko-inligtingsentrum) het swendelary skerp toegeneem in Suid-Afrika met meer as 3 miljard rand wat in 2023 as gevolg van slenters en bedrog gesteel is. Dit sluit kuber- en KI-slenters asook bankkaartbedrog in.
Ponzi-skemas: Wie, wat, waar en hoe?
Daar is sowat 300 Ponzi- en piramideskemas net in Suid-Afrika alleen aktief.
Sharemax, Louis Liebenberg se diamantskema, en Kleuterzone is albei voorbeelde van onlangse bedrog met Ponzi- en piramideskemas wat tot groot finansiële skade vir duisende Suid-Afrikaanse slagoffers gelei het.
Maar daar is sekerlik nog die ouer garde wat Adriaan Nieuwoudt van Garies se Kubus-skema (die “vrotmelkkultuur”) sal onthou, ’n klassieke Ponzi-skema wat in alle waarskynlikheid die grondslag vir hierdie soort “beleggings” op plaaslike bodem gelê het.
Dan is daar Tigon, wat as die Steinhoff van die 2000’s beskryf word. Dit was ’n beleggingsmaatskappy – tóé een van die 40 grootste maatskappye in die land – wat op die aandelebeurs genoteer was.
Gary Porritt was in beheer, maar hy was kop in een mus met PSC Guaranteed Growth, wat deur Jack Milne bestuur is. Hulle het hul beleggingsmark gemanipuleer – tot op die punt waar dit in duie gestort het. Die hofsaak is steeds aan die gang nadat dit op 25 Julie vanjaar tot volgende jaar uitgestel is.
Baie kykers sal ook die vrou wat haar eie helikopter besit het, onthou – Marietjie Prinsloo. Ook die woord Krion sal nie gou vergeet word nie. Óf die Onse Vader wat met sand op ’n spieël in haar kantore uitgespel is nie.
Swendelaars huiwer nie om selfs geloof te misbruik om mense te oorreed om in hul skemas te belê nie. Daarvan kan haar meer as 8 700 beleggers getuig.
Prinsloo het vertel haar skema is R12 miljoen groot. Dit was inderwaarheid R320 miljoen.
Steinhoff word as uniek gesien omdat dit ’n baie dominerende uitvoerende hoof gehad het. Markus Jooste was die meesterbrein agter die skema, en hy het vir niks teruggedeins nie. Toe betrek hy ook nog vir Christo Wiese – een van die rykste mense in die land.
“Enige ou kan op sy soap box klim en hy kan maak of Louis die grootste kroek op hierdie aarde is, terwyl ons met geloof ’n saak aanpak.” Aan die woord is Louis Liebenberg, einste die man wat nou ’n “gas van die staat” sonder enige hoop op borgtog is.
Harde lesse is deur sy sowat 44 000 beleggers geleer – diamante is nie iets om mee te speel nie, veral nie as jy dit net op ’n foto of ’n video sien waar Louis met sy bulderende stem verkondig dat dit die ware Jakob is nie.
Van sanger na swendelaar – dis die roete wat Anthonie Bougas gevolg het met Kleuterzone. Dis nog nie formeel tot ’n Ponzi-skema verklaar nie, maar die kans is goed dat dit kort voor lank wel in daardie kategorie geplaas sal word. Waar Anthonie hom deesdae bevind, bly ’n raaisel. Wat wel bekend is, is dat hy in alle waarskynlikheid R10 miljoen van Kleuterzone se geld uitgedobbel het.
Kubermisdaad – wat om te glo en wat om te bevraagteken
Kunsmatige intelligensie (KI) in die verkeerde hande kan jou duur te staan kom. Dink maar aan hoeveel videogrepe daar deesdae die ronde doen waarin namaaksels van bekende mense verskyn. En stemboodskappe wat jou kan laat glo dis ’n bekende aan die ander kant van die lyn.
Video en stem word slim gemanipuleer met behulp van KI en op verskillende sosialemediaplatforms as ’n video gedeel. Dit staan bekend as deep fake-video’s en is hoogs gesofistikeerd.
Een van die prominentste gevalle is waar 'n verhandelingsplatform bekendes, waaronder Elon Musk, sakeman Johann Rupert, AfriForum se Kallie Kriel en Steve Hofmeyr se identiteite is onregmatig ingespan om goedgelowige mense uit hul swaarverdiende geld te swendel.
Dan is daar al jare reeds die e-posskurke wat soms ’n desperate Amerikaanse soldaat is wat iewers tydens die “oorlog” op een of ander skat afgekom het, en jy kan daarin deel. Of die nalatenskap van ’n adellike wat voor ’n sekere tyd opgeëis moet word.
Wat deesdae kommerwekkend is, is dat swendelaars met behulp van KI bekendes se stemme kan kloon om kastige noodboodskappe te stuur.
En hierdie is bloot die begin. Enige sosialemediaplatform moet gesien word as ’n deur waardeur bedrieërs via die internet toegang tot jou kan kry.
Kripto-beleggings: Kortpad na rykdom – of kortpad na ellende?
Kripto is nie die magiese kortpad na geld nie. Beloftes van 50% wins in ’n maand is bloot onwaar. Bitcoin het wel in waarde toegeneem, maar dit kan jou ook byt, veral as jy nie seker is hoe dit werklik werk nie, en ook nie die bron van die Bitcon-aanbod kan verifieer nie.
Kyk maar na die geval van Mirror Trading International. Johann Steynberg het beloftes gemaak van ’n algoritme wat kripto-eenhede as ’n basis gebruik om geld vir jou te maak. Ongelukkig bestaan daar nie so ’n program nie, en Steynberg het koers gekies met sowat $1,7 miljard.
Digitale bankbedrog
Daar is reeds nagenoeg R1,1 miljard se verliese wat gely is vanweë digitale bankbedrog. Daardie oproep van jou bank se bedrognoodlyn? Daar’s ’n tegniek genaamd “number spoofing” waar dit voorkom asof die oproep van jou bank is, maar inderwaarheid is dit van geheel en al ’n ander nommer.
So het een slagoffer meer as R220 000 verloor – juis omdat sy vas geglo het die oproep kom van haar bank.
’n Slagoffer vertel
Cobus Geldenhuis van Kempton Park (Classic Financial Services) het minstens R670 miljoen namens sowat 1 000 kliënte ingevorder wat in aandele belê sou word. Rika Cornelius was een van die mense wat gedink het hy’s baie ordentlik en ’n goeie sakeman. Nou, ná ’n verlies van sowat R800 000 dink sy beslis anders.
Wat sy swendelary erger maak, is dat die geld vir sy skema afkomstig was van mense wat werklik daarop staatgemaak het, mense wat nie welaf was nie.
Rika-hulle wou hul kinders laat studeer met dié “belegging”.
“Ons het almal in die steek gelaat – net omdat ons ’n bietjie meer wou gehad het,” sê sy. Maar sy was nie net Cobus se slagoffer nie. Sy’t ook vir Louis Liebenberg se sakkies diamante geval.
Deelnemers:
Ryk van Niekerk (redakteur: Moneyweb), Gerhard van Deventer (FSCA-afdelingshoof: Wetstoepassing), prof. Jannie Rossouw (ekonoom), Rob Rose (redakteur: Currency News), Antoinette Slabbert (ondersoekende joernalis), adv. Arno Rossouw (Nasionale Vervolgingsgesag en Krion-vervolger), Billy Petzer (WNNR: Kubersekuriteitkenner), Juan Grobbelaar (Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum), Olaotse Matshane (Suid-Afrikaanse Reserwebank), prof. Gertie Pretorius (voorligting- en navorsingsielkundige), Pheho Ntaba (Nasionale Verbruikerskommissie).
- Die kenners wat in hierdie dokumentêr hulle kundigheid deel, verskaf waardevolle raad oor hoe jy jouself so ver as moontlik teen swendelaars kan beskerm. Die deelnemers aan Onthul is onafhanklik en nie aan kykNET of MultiChoice geaffilieer nie.
- Moenie dié boeiende aflewering van Onthul: Bedrieg - toe verloor ek my geld op Sondag 17 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.