web uni tv guide
Klein Paradys S1 Slim BB Duos

Omskep jou slaapkamer in 'n oase – Klein paradys

Nuus
12 Desember 2024
Skep ‘n ontspannende slaapkamer waar jy rus – en vrede – kan vind.
Slaapkamer artikel klein paradys

Die tweede fase waarmee die duo’s besig is, is heel moontlik die belangrikste vertrek in ‘n huis en in ‘n mikro-eenheid: Die slaapkamer.

‘n Slaapkamer is meer as net ‘n vertrek met ‘n bed waar jy saans jou kop neerlê – dit is ‘n spasie om te herlaai, af te skakel, te ontspan en om veilig te voel. Daarom is dit so belangrik om ‘n goed-ontwerpte slaapkamer te hê wat aan al dié vereistes voldoen:

Meet die vertrek –

Dit is belangrik om te weet presies hoeveel spasie jy het in die vertrek om dit goed in te rig en om te besluit hoeveel spasie om te gee vir die bed en die ander meubels.

 

© Getty Images

Definieer jou styl –

Vind uit presies waarvan jy hou en hoe jy jou gunsteling- kleure, materiale ens. kan inkorporeer in die spasie. Beplan ook vir die meubels wat jy in die slaapkamer wil plaas en maak seker alles pas bymekaar (selfs al is jou dekor-styl shabby-chic).

Skep ‘n aksent-muur –

Kies een muur in die vertrek waarop jy wil hê die fokus moet val wanneer jy instap: Dit kan wees deur dit ‘n ander kleur te verf, muurpapier te plak, dalk ‘n mural te verf of om jou gunsteling- kunswerk daar op te hang.

 

© Getty Images

Beligting –

Dink aan verskillende tipe beligting om in die spasie te gebruik: As jy ‘n lees-hoekie het, maak seker om ‘n lamp daar te plaas wat funksioneel en mooi is. So ook bedlampies. Jy kan ook mooi kerse in die vertrek plaas om verskillende tipes beligting te skep.

© Getty Images

Beweeglikheid –

‘n Minimalistiese benadering tot jou slaapkamer se meubels is wys – niemand wil sukkel om rond te beweeg in ‘n spasie omdat daar te veel bedkassies en ander meubels is nie. As stoorplek iets is waaroor jy jouself bekommer kan jy slim te werk gaan met laaie onder jou bed of jy kan moontlik belê in ‘n spesiaal-gemaakte eenheid soos wat Johann en Lee-Ann en Elri en Juan-Louis gebou het.

© Getty Images

Onthou die plafon –

Die plafon is soms die deel van ‘n vertrek wat die meeste afgeskeep word, maar dit kan regtig indrukwekkend wees met ‘n bietjie tyd en moeite (dink maar net aan daardie glow in the dark- sterre wat jy teen jou plafon geplak het as kind). Daar is geen rede om nie jou plafon ‘n ander kleur te verf of om muurpapier te plak nie – kyk maar net na Maggie en Gerrie se idee om pienk muurpapier teen hulle plafon te plak.

© Getty Images

Skakel Donderdae om 20:00 in vir Klein paradys op kykNET, kanaal 144 om te sien hoe die duo’s se mikro-eenhede vorder. Gesels ook saam op FacebookXInstagram en TikTok