Daar is ook drie splinternuwe reekse om na uit te sien.
Lekker en goed debuteer in die nuwe jaar op kykNET. In dié leefstylprogram gaan Carmen Niehaus – Huisgenoot se voormalige kosredakteur en skrywer van sowat 25 kookboeke – nie net ’n hond uit ’n bos kook nie, sy gaan ook bekendes saam met haar op ’n kosreis neem. Van die bekendes wat op die program te sien sal wees, sluit Marciel Hopkins, Herman Lensing, Johnny Davids en Antoinette Kellermann in.
- Lekker en goed is van 2 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Superskole sport is ’n nuwe program wat rondom skolesport in Suid-Afrika draai. Die aanbieder, Johan Smith, en ’n verskeidenheid gasaanbieders kyk weekliks na van die grootste uitslae in skolesport en gesels met afrigters, spelers en administrateurs. Die eerste reeks fokus op somersport (atletiek en krieket). Kykers gaan op hoogte gehou word van al die gebeure op die plaaslike skolesportkalender en kennis maak met sowel nuwe uitblinkers as gevestigde sterre.
- Superskole sport is van 14 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Die ondernemers, wat oorspronklik op Showmax gestroom is, is van 7 Januarie op kykNET te sien. Die reeks volg drie entrepreneurs in die begrafnisondernemingsbedryf: Candice Austin, eienaar van Goodall & Bourne Funeral Undertakers, Jano van der Berg van Van der Berg Funeral Services en die voormalige Stormers-rugbyspeler Ramone Samuels, hoof van SamWill Funeral Services, wat hy saam met sy broer, die Springbok-rugbyspeler Damian Willemse, besit.
- Die ondernemers is van 7 Januarie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Met ’n huppel in die stap, ’n program gemik op ouer kykers en afgetredenes, keer terug op Nuwejaarsdag. Die aanbieders is weer Riaan Cruywagen, Simon Bruinders, Bettie Kemp en Jacqui January.
- Met ’n huppel in die stap is van 1 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Hannes aan huis keer terug vir ’n elfde seisoen, en kykers kan dié keer saam met die gewilde aanbieder Hannes van Wyk in die huise van legendes soos Emsie Schoeman, Wilna Snyman, Riaan Cruywagen en Hans Strydom kuier.
- Hannes aan huis is van 7 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Mal kamper se Dewald Visser verken weer Suid-Afrika en sy lekker kampplekke. Hy besoek in die nuwe reeks ook ’n paar ander lande in Afrika en in die res van die wêreld. In die eerste episode spring hy weg met ’n rit deur die sneeu by Ceres. Hy seil ook in Noorweë en ry duine in Namibië.
- Mal kamper is van 4 Januarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Stralend is terug vir ’n tweede seisoen, en Angelique Gerber en Fafa de Klerk gaan twaalf deelnemers van kop tot tone en tot in hul siele transformeer.
- Stralend is van 5 Januarie om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Hier gaan ons alweer is terug vir ’n allemintige 23ste seisoen, en Petri de Wet en sy gashengelaars gaan Suid-Afrika en Afrika plat toer op soek na vis en avontuur.
- Hier gaan ons alweer is van 6 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Sakegesprek met Theo Vorster gaan kykers weer op hoogte hou van wat in die sakewêreld aangaan met interessante gaste, nuus oor die ekonomie en ander aktuele kwessies.
- Sakegesprek met Theo Vorster is van 29 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).