Een van die stewige fondasies waarop kykNET vandag steeds staan, is die uitstekende dramareekse wat deur die jare vervaardig is.
kykNET se eerste dramareeks was Song vir Katryn wat TV-skerms in 2003 getref het. En nou, 22 jaar later, gaan kykers weer die kans kry om dié gewilde reeks te kyk wanneer kykNET Nostalgie op Sondagaand 19 Januarie om 21:00 daarmee afskop.
Song vir Katryn vertel die verhaal van ’n sexy jong dokter en musikant wat verlief raak op ’n vrou met ’n donker en geheimsinnige verlede. In die rolverdeling is Valiant Swart, Therese Benade, Jacques Bessenger en Marius Weyers. Die reeks is deur die legendariese Jan Scholtz geskep.
Van die ander reekse wat later in die Nostalgie-tydgleuf op kanaal 144 uitgesaai sal word, sluit in Amalia en Dit wat stom is, asook die tweede seisoen van Song vir Katryn.
Amalia, met ’n sterbelaaide rolverdeling wat Anna-Mart van der Merwe, Dawid Minnaar, Hélène Truter, Marius Weyers en Marcel van Heerden insluit, is deur Chris Barnard geskryf. Katinka Heyns het die regie behartig. Amalia het in 2005 gedebuteer. Die verhaal in kort: Amalia (Illse Roos) is ’n digter wat na haar tuisdorp terugkeer om haar jongste bundel klaar te skryf. Twee weke later sterf sy egter, en haar man, Piet (Dawid Minnaar), weier om te glo dat sy ’n oordosis pille geneem het. Hy besluit om haar dood te ondersoek, en later is almal in die klein dorpie verdagtes.
Dit wat stom is was ook in 2005 die eerste keer op die lug. Die reeks het kykers van die eerste oomblik geboei. Jan Blohm, Elzabé Zietsman, Milan Murray en Ivan Zimmermann is in die rolverdeling, met Irmari Steyl-Basson as die hoofkarakter, Elri Dekker. Elri, ’n rykmanskind, het die wêreld aan haar voete. Jan Meyer (Jan Blohm) is ’n student wat bereid is om sy studies te laat vaar sodat hy die baba wat hy by sy eksmeisie gehad het, kan grootmaak, maar sy sweer hy is nie die pa van die kind nie. Intussen speel ’n tragedie in Elri se lewe af, en haar en Jan se paaie kruis. Franz Marx het Dit wat stom is geskep.
- Die Nostalgie-gleuf skop op 19 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) af met die eerste seisoen van Song vir Katryn.