web uni tv guide
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama13 L

'Nêrens, Noord-Kaap' se Frans vertel oor sy een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring

Nuus
27 November 2024
Geon Nel se vertolking van Frans, die oudste van die Adendorff-broers in 'Nêrens, Noord-Kaap', is een van die pilare waarop dié uitstekende dramareeks staan.
Nêrens, Noord-Kaap Deel II

Frans is deur baie in Nêrens, Noord-Kaap Deel II, maar het tog staande gebly. Hoe het jy voorberei vir Deel II? 
Ja, hy is omtrent deur baie, maar van die ander karakters gaan deur net soveel diep donkerte in hierdie reeks. Maar waar daar donkerte is, is daar lig. Ons was bevoorreg met die voorbereiding vir Deel II dat ons nie net die verhoogproduksie gehad het nie, maar ook Deel I om op voort te bou. Die hoofspelers het dus presies geweet wie die karakters is, en ons was reg vir die lang reis oor berge en deur dale. Nico [Scheepers, regisseur en skrywer] het ons voorberei op wat kom, maar gelukkig ken ons die karakters en mekaar so goed dat ons mekaar se energie kon gebruik en van mekaar af kon speel.

Daar is verskeie tonele tussen jou en Frank Opperman (Pa Lourens) wat hulle komplekse verhouding uitlig – die pap teen die kombuiskaste, die skeertonele, die tonele waar hy vir jou sê jy is nie onsigbaar nie. Het julle hierdie tonele repeteer of vooraf bespreek?
Om die skerm met Frank te deel en hom nog beter te leer ken, was so ’n voorreg. Veral daardie intieme tonele – die klassieke pa-en-seun-struweling. Ons het voor ons geskiet het vir mekaar boodskappe gestuur en gesê kyk nou net weer wat doen Pa Lourens aan Frans. So, ons het geweet wat kom, maar ons het nie juis repeteer nie. Ons het wel voor die tyd met Nico gepraat, en ons het die spasie waarin dit gebeur goed geken, maar om daardie egtheid te behou, het ons dit nie voor die tyd geoefen nie. Ons sou die tonele vir die volgende dag net die aand voor die tyd saam deurlees en ’n paar idees rondgooi. Maar die emosies het in die oomblik gebeur. As jy vir Frank in die oë kyk en jy sien hoe goed hy die rol speel, en veral die Alzheimers, kan jy jouself so inleef dat jy glo hy is jou pa wat nie weet waar hy is of watter seun voor hom staan nie. Dit was ongelooflik om daardie tonele saam met hom te doen. 

Wat is die belangrikste les wat jy by Frans geleer het?
Moenie alles net vir jouself hou nie. Glo in jouself. Práát. Sê hoe jy voel. Sê vir jou mense jy is lief vir hulle. Dis so belangrik. Ek is self ’n man met ’n vrou en ’n dogtertjie, en dis so belangrik om vir hulle te sê ek is lief vir hulle. Dis nie iets wat Frans noodwendig doen nie, maar hy het my geleer om dit te doen. 

Wat hoop jy leer kykers by hom?
Jy kan sien wat gebeur as jy nie hulp kry nie en nie in jouself glo nie; as jy nie met jou demone worstel en aan die ander kant kan uitkom nie. Al lyk dinge hoe moeilik nou, hou net uit. Daar is altyd lig aan die einde van die tonnel – maak nie saak hoe donker dit lyk nie. 

Niemand sal meer na jou, Albert en De Klerk kan kyk sonder om aan die Adendorff-broers te dink nie. Wat maak jou “broers” en julle verhouding spesiaal?
Daar sal altyd daardie band tussen ons drie en Nico wees. Ons het al saam amper die hele land vol gereis, en ons het baie goeie tye saam gehad. Die energie tussen ons is daar omdat ons mekaar so goed ken. Ek dink dit is wat op die skerm oorkom. Ons leer nie nog om die karakters te wees nie – ons ís die karakters. Ons sal lewenslank kan terugkyk en trots wees op hierdie produksie. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. 

Het jy ’n gunsteling-oomblik in Deel II?
Dis so moeilik om een oomblik uit te sonder, maar ek dink dit is die heel laaste toneel van die heel laaste episode. Natuurlik kan ek nie nou sê wat dit is nie, maar ek het die draaiboek en daardie toneel in ’n koffiewinkel gesit en lees en begin huil. Mense het seker gedink ek het slegte nuus gekry, maar dit was net so ’n spesiale oomblik. En natuurlik die hele produksie – van die tegniese span tot elke liewe mens betrokke wat dit so spesiaal gemaak het. 

Wat is kykers se reaksie as hulle met jou oor die reeks praat?
Daar is ’n hele paar mense wat sê ons boeties het issues. (Lag.) Ook mense wat wil weet hoekom ek so lelik met my pa is en hoekom hy so lelik met my is. Dit wys jou net hoe hulle hulself in die reeks inleef. Hulle sal sê hulle kan nie meer kyk nie, want hulle het nie meer genoeg tissues nie. Ook mense wat kan identifiseer omdat hulle ’n pa het wat Alzheimers het of hulle ma jonk verloor het. Maar oor die algemeen is dit net dankbaarheid vir die reeks. Natuurlik ook vrae of daar nog ’n seisoen kom en dan moet ek sê, nee, hierdie is beslis die finale een. 

As jy terugkyk op Nêrens, Noord-Kaap – van die begin met die toneelstuk tot nou – waaraan dink jy?
Dit is nou al agt jaar wat ons hierdie pad van Frans, Ronnie en Andries saam met Nico loop. Dit is een van daardie ervarings wat mens dalk nooit weer in jou lewe gaan kry nie – om aan ’n toneelstuk te werk en die karakters ten volle te ontwikkel, na al die feeste en dorpe te toer en dan te hoor dit word ’n reeks. Om vir Frank by een van die vertonings wat hy kom kyk het, raak te loop en te sê dit sal lekker wees as hy die pa kan wees en dan gebeur dit. Al die mense wat ek ontmoet en vriende wat ek gemaak het, spelers soos Shana Mans, Marion Holm, Daneel van der Walt, Ilse Klink en Dean Balie ... Ek wil eintlik almal se name noem. Die crew en elke liewe ander speler. Ek sal dit altyd koester. Om in die Noord-Kaap te kom en daardie vlaktes te ervaar en te weet dis waar hierdie karakters woon. Om dadelik so welkom te voel. Dit is regtig ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring. Ek dink elkeen van ons sal dit altyd sien as een van ons loopbaanhoogtepunte. 

Watter rol hoop jy kom nog oor jou pad?
In die teater sal ek graag Doctor Faustus, die toneelstuk deur Christopher Marlowe, wil doen as ek ouer is. Dis ’n epiese rol. Maar daar is nie eintlik droomrolle nie, want elke rol is ’n ervaring. Ek dink wel ek was nou al genoeg ’n boer. (Lag.) Maar ek kla glad nie. Geensins nie. Ek sal graag ’n aksiefilm wil doen. Alles is ’n avontuur. Dis so lekker om wanneer jy ’n rol kry uit te vind wat die karakter se horlosie laat draai en wat jy daarmee gaan maak. 

Wat is jou planne vir die res van 2024 en ook vir 2025?
Die res van hierdie jaar is ek nog besig met Kelders van geheime, en dan gaan ek en my gesin Gansbaai toe waar ek grootgeword het en vir twee weke gaan ons so tussen Gansbaai, De Kelders en Baardskeerdersbos kuier. Volgende jaar is dit weer volstoom Kelders, maar ek is ook ’n kulkunstenaar en is besig om ’n nuwe vertoning aanmekaar te sit wat ek iewers op mense sal loslaat. 

  • Nêrens, Noord-Kaap Deel II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar.