Daar moet eerstens onderskei word tussen die sogenaamde “baby blues” en nageboortelike depressie.
Volgens navorsing is van die algemene tekens van die “baby blues” buierigheid, huilsessies, angs en slaapprobleme. “Baby blues” kan tot twee weke ná die baba se geboorte duur.
Nageboortelike depressie is ’n meer intense en langdurige vorm van depressie. In sommige gevalle word dit selfs voorgeboortelike depressie genoem omdat dit tydens die swangerskap en daarna plaasvind.
Dit is belangrik om te weet dat nageboortelike depressie nie ’n gebrek aan karakter of ’n swakheid is nie. Dis bloot ’n komplikasie wat deel kan wees daarvan om geboorte te skenk. Gemiddeld twee uit elke tien mense ervaar nageboortelike depressie.
Buiten tekens wat ooreenstem met dié van die “baby blues”, sukkel die nuwe ma om ’n band met haar kind te vorm, eetpatrone wissel (sy eet baie meer of baie minder as voorheen), sy mag waardeloos voel en put geen genot meer uit dit wat voorheen vir haar lekker was nie. Daar is ook soms die gedagte om haarself of haar baba skade aan te doen, wat met gedagtes aan dood en selfdood gepaard kan gaan.
Nageboortelike psigose kom gemiddeld by een uit elke duisend ma’s voor en ontwikkel binne die eerste week ná die baba se geboorte. Dit is ’n baie ernstige toestand en moet soos ’n mediese noodgeval behandel word.
Die simptome is ekstreem. Die ma mag verward of verlore voorkom, en sy koester obsessiewe gedagtes rondom die baba. Hallusinasies (hoor, sien, ruik of voel iets wat nie bestaan nie), slaapprobleme, wisselende energievlakke (van manies tot baie depressief, en dit kan vinnig wissel), agterdog (vrese, gedagtes of iets wat as die werklikheid ervaar word wat heel waarskynlik nie bestaan nie) en pogings om haarself of die baba te beseer kan plaasvind.
Hierdie ekstreme simptome kan van twee tot 12 weke duur, maar dit kan tot ’n jaar of langer neem om in geheel van die toestand te herstel.
Behandeling
Dit vind gewoonlik in die psigiatriese eenheid van ’n hospitaal plaas, en volkome herstel is moontlik wanneer die regte behandeling ontvang word.
Wat van die pa?
Dis nie ongewoon vir nuwe pa’s om ook aan nageboortelike depressie te ly nie. Dit kan dieselfde negatiewe impak op die verhouding tussen die twee ouers en die ontwikkeling van die baba hê as wat nageboortelike depressie by ma’s kan.
Waar die ma nageboortelike psigose ervaar, is dit belangrik dat die pa ook hulp moet soek, want die ma se toestand kan veroorsaak dat hy ook angstig, geskok en geïsoleer voel.
Onthou, die geboorte van ’n baba is gewoonlik een groot opgewondenheid – en nou voel dit asof die wêreld rondom jou in duie stort, maar dis nie jou skuld nie.
Daar is mense wat ’n nageboortelike psigose gehad het wat weer swanger raak. Die psigose mag dan weer inskop, maar met vinnige optrede en die regte sorg kan die risiko en impak daarvan verminder word.
Bronne: Mayo Clinic, Action on Postpartum Psychosis, NHS UK, Mental Health Foundation N