Op 18 Maart begin die kanaal egter eksotiese nuwe terrein verken met ’n telenovela vol drama en stomende hartstog uit die trope van Brasilië – Plaas van passie. Die oorspronklike Portugese titel is Terra e Paixão (Land of Desire in Engels). kykNET&kie word hiermee die eerste plaaslike kanaal wat ’n Brasiliaanse telenovela in Afrikaans oorklank.
Plaas van passie vertel die verhaal van Aline (Barbara Reis), ’n wiskundeonderwyseres, wie se man, Samuel (Ítalo Martins), op hulle plaas vermoor word omdat booswigte sy grond wil hê. Al het sy geen ondervinding met boerdery nie, besluit Aline – met behulp van haar getroue vriend Jonatas (Paulo Lessa) en met ondersteuning van haar ma, Jussara (Tatiana Tibúrcio) – om alles te doen om die plaas vir haar en haar seun, João (Matheus Assis), te behou. Haar grootste teenstand kom van die grondbaron Antônio La Selva (Tony Ramos), die man wat vir Samuel se dood verantwoordelik was.
Maar daar is ook ingewikkelde liefde in die lug wanneer haar pad met Daniel (Johnny Massaro), Antônio se een seun, kruis. Dinge raak moeilik wanneer Caio (Cauã Reymond), Daniel se halfbroer wat soos dag en nag van hom verskil, ook vir Aline in sy visier kry. Caio se ma, Agatha (Graça Junqueira), is dood met sy geboorte, en Antônio het hom nog nooit daarvoor vergewe nie.
Irene (Glória Pires), Antonio se vrou en Daniel en Petra (Débora Ozório) se ma, asook Caio se stiefma, is magsbehep en sal enigiets doen om te sorg dat net Daniel en Petra die familiebesigheid oorneem.
Die spelers wat vir die Afrikaanse stemme sorg, is Claudia Jones (Aline), De Waal Stemmet (Caio), Rowlen von Gericke (Daniel), Andreas Jordaan (Antonio), Elma Potgieter (Irene), Donovan Petersen (Jonatas), Ilse Klink (Jussara) en Jacky Carpede (Menah, Jonatas se suster).
“kykNET strewe altyd om wêreldklasvermaak in Afrikaans na kykers te bring, en vandat die oorgeklankte telenovelas deel van die aanbod op kykNET&kie geword het, wou ons nog altyd die inhoud in dié gleuf vars en opwindend hou,” sê Janine Cornelius, senior bestuurder van skedulering en beplanning by kykNET. “Die oorgeklankte Turkse telenovelas het sedert 2022 kykers geboei met titels soos Moederhart, In die ysterhand se greep, Verbode liefde, Kind van die noodlot en My naam is Farah, wat tans op die lug is.
“En nou sien ons uit na die heel eerste oorgeklankte Brasiliaanse telenovela in Afrikaans, Plaas van passie, wat in Maart op kykNET&kie begin. Dit beloof om vol drama, verraad, liefdesdriehoeke, spanning en meer as genoeg passie te wees. Die karakters is divers en kompleks. Die span vervaardigers, regisseurs, stemkunstenaars, vertalers en klankingenieurs het hard gewerk om weer eens Afrikaanse oorklankings van hoë gehalte aan ons kykers te bied.”
Plaas van passie is in Mato Grosso do Sul, ’n staat in Brasilië, verfilm en die eerste keer in 2023 uitgesaai. Die reeks bestaan uit 120 uur lange episodes.
- Plaas van passie begin op 18 Maart om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en dit sal ook op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar wees.