kyknet channel logo

"Moer ’n boer" kom kykNET toe

Nuus
15 Julie 2025
Jy kan boer, maar kan jy, wel, jou man staan?
Moer n boer article image

In die tweede seisoen van die realiteitsreeks Moer ’n boer, wat Saterdag 26 Julie op kykNET begin, gaan 28 boere hulle trekkers en stropers vir die opwindende wêreld van gemengde gevegkuns, oftwel MMA (mixed martial arts), verruil. Dit terwyl hulle steeds boer.

Onder leiding van die UFC-vegter Cameron Saaiman en aangevuur deur die unieke charisma van die gasheer, Janneman van den Berg, gaan kykers die boere se pad van die plaas na die geveghok volg. Die reeks gaan die boere se reis na selfontdekking, hulle harde werk en toewyding, asook die kameraadskap en konflik wys. Neil Geyser en Dwain Meredith is die boere se afrigters.

“Ons is ongelooflik opgewonde om Moer ’n boer na kykNET te bring vir ’n splinternuwe seisoen,” sê Janneman. “Seisoen 1 het die harte van kykers oor die hele land verower, en hierdie jaar beloof om selfs groter, rowwer en ryker aan stories te wees. Dit gaan nie net oor gevegte in die hok nie – dis ’n viering van karakter, gemeenskap en Suid-Afrikaanse trots. Of jy nou van die plaas, die dorp of die stad af kom, jy gaan iemand sien wat jou laat sê: ‘Dis my mense daai!’” 

Janneman sê dit is vir hulle ’n reusevoorreg om deel van kykNET te word.

“In ’n tyd waar baie mense voel dinge val uitmekaar, wys Moer ’n boer vir ons weer wat dit beteken om vas te byt, op te daag en mekaar aan te moedig, selfs al is dit in ’n hok. Dis hart, drama en boere-bravade.”

In die eerste episode van die nuwe seisoen, neem 80 boere van dwarsoor die land aan uitklopuitdagings deel. Daar word 28 boere gekies, en in episode twee vind hulle uit wie die paal gehaal het. 

Hulle word in twee spanne verdeel: die rooi span en die blou span, en elke span het ’n kaptein. In episode 3 en 4 reis Janneman die land vol en ontmoet die boere op hulle plase. Hy word ook voorgestel aan die boere se mense en leer meer van hulle onderskeie boerderye.

Die reeks is egter nie net oor boer en baklei nie. Die boere moet ook hulle staal op ander maniere wys – van ’n skietkompetisie tot ’n braaikompetisie. Daar is selfs ’n episode waarin die boere die media tydens ’n perskonferensie moet trotseer.

Episode 10 se fokus is op boeresport, en van die deelnemers van seisoen 1 is daar om tou te trek, bokdrolle te spoeg en damme te bou. Natuurlik is die groot geveg by die Heartfelt Arena in Pretoria die kersie op die koek, en met Ricus de Beer – beter bekend as Radio Raps – as aankondiger langs die kryt, kan dit net pret wees.

Die reeks sluit af met episode 13 waarin Janneman, Cameron en die 28 boere mekaar vir ’n glansryke reünie ontmoet. Die episodes is 30 minute lank en beloof om propvol aksie, humor en vermaak te wees.