Met elf benoemings en agt toekennings was die speelfilm Hen die grootste wenner by vanjaar se Silwerskermfees in Augustus. Dié swart-en-wit gruwelprent het egter nie net beoordelaars beïndruk nie – dit word deur kritici geloof as ’n fliek wat met die beste in die wêreld kan meeding.
Die goeie nuus is dat Hen op 10 Oktober in filmteaters in Suid-Afrika begin wys. Dit is die tweede speelfilm wat vanjaar op die Silwerskermfees gedebuteer het, wat in bioskope vertoon gaan word. Dit volg op My f*k, Marelize! wat tans ’n lokettreffer op die kringloop is.
Foto's: Zaheer Banderker
Hen is ’n sielkundige gruwelprent en vertel van ’n man en vrou wat alleen in ’n amper vervalle huis woon. Op ’n jagtog kom die man op ’n afgryslike toneel af waar hy ’n seun toegesluit in ’n kis vind. Hy ontferm hom oor die kind en neem hom saam huis toe, maar wie is hierdie seuntjie wat so vreemd optree?
Die film is ’n skerp besinning oor oorlewing in die middel van nêrens, die fyn lyn tussen lewe en dood en die ewige stryd tussen goed en kwaad en hoop en wanhoop.
In die rolverdeling is Stian Bam en Amalia Uys as die man en vrou, Dawid en Hanna. Dawian van der Westhuizen speel die seun, Lukas. Marelize Viljoen en Anoecha Krüger is twee verdere byspelers.
“Die spanningsriller Hen van die skrywer-regisseur Nico Scheepers is waarskynlik die donkerste prent wat tot nog toe in Afrikaans gemaak is. Dit is nie ’n oordrewe stelling vir effek nie. Scheepers se debuut-vollengteprent speel op ’n godverlate plaas in ’n onherbergsame gebied af. Die fisieke landskap is net so troosteloos soos die sielkundige binnelewe van die karakters. Godsdiens is ’n enigste dog skamele troos, want dit blyk dat God en die gode stil is en die rug op die mens gekeer het,” skryf Laetitia Pople op Netwerk24.
“Is dit distopies of gruwel of bonatuurlik? Besluit jy. Maar weet: Nico Scheepers is aan die stuur,” skryf Maryke Roberts op LitNet.
Nico is die skrywer en regisseur van trefferreekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Donkerbos en het verskeie toekennings vir sy werk in die teater gekry. Hy het in 2017 die Silwerskermtoekenning as beste regisseur van ’n kortfilm vir Die maan val bewusteloos gewen.
“Ek vind die stilte van isolasie veel meer vreesaanjaend as ’n jump scare,” het Nico in ’n onderhoud met Herman Eloff van Terloops gesê. “Daar is ’n groot verskil tussen ’n goedkoop fisiologiese skrik, en iets wat stadig soos ’n maaier in jou kop in boor.”
“With its oppressive atmosphere, compelling narrative and masterful filmmaking, Hen is a cut above. It’s a powerful film that holds its own on an international level and more than earns its place alongside the work of contemporary horror filmmakers,” sê Stephen Aspeling van Splingmovies.com.
Hen was die wenner van die volgende Silwerskermtoekennings in die kategorieë vir speelfilms:
Beste draaiboek en beste regie vir Nico, beste klankontwerp vir Tim Pringle, beste kinematografie vir Chris Lotz, beste redigering vir Regardt Botha, beste grimering en haarstilering vir Jolene Cilliers, beste kostuumontwerp vir Sulet Meintjes en beste akteur vir Stian Bam. Dawian van der Westhuizen en Amalia Uys is onderskeidelik as beste akteur en beste aktrise benoem, en Merishen Wessels het ’n benoeming vir haar produksieontwerp gekry
Wat jy nog van Hen moet weet:
- Dit is op ’n plaas buite Nieuwoudtville in die Noord-Kaap verfilm. Die filmspan moes elke dag ’n uur ry om daar te kom, en daar was geen water, elektrisiteit of selfoonsein nie. Alles wat nodig was, moes dus aangery word.
- Hen se grimeerkunstenaar, Jolene Cilliers, het navorsing gedoen oor wat grimering vir swart-en-wit films verg. Groen grimering is, onder meer, gebruik om die stof op die karakters se gesigte te wys, en sjokoladesous is ingespan om soos bloed te lyk.
- Dawian van der Westhuizen het ’n oudisie vir Nêrens, Noord-Kaap gedoen om een van die Adendorff-seuns te speel, maar was te jonk. Nico het hom egter onthou en het sy ouers genader vir die rol in Hen. Dawian is ’n graad 8-leerling aan Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Hy was ook te sien in die kykNET-speelfilm Tjommies, waarin hy teenoor Tobie Cronjé gespeel het.
- Die vervalle plaashuis het baie werk nodig gehad voor die verfilming kon begin. Die blokkiesvloer moes restoureer word. Daarvoor is blokkies van die Kaap aangery. Vensters en deure moes ook vervang word. Die hoenderhok is spesiaal vir die verfilming gebou.
- Geen hoenders is seergemaak in die maak van die fliek nie. Die dooie hoenders wat gebruik is, is by ’n hoenderslagpale in Hopefield gaan haal en in koelhouers na die stel toe aangery.
- Die vervaardigers is Nagvlug Films wat ook vir, onder meer, Nêrens, Noord-Kaap, Donkerbos en My f*k, Marelize! verantwoordelik was.
- Daar is uit die staanspoor besluit om Hen in swart-en-wit te verfilm. Die kinematograaf was Chris Lotz, wat ook Nêrens, Noord-Kaap en Donkerbos geskiet het.
Hen sal vanaf 10 Oktober in rolprentteaters wys. Hou kykNET.tv dop vir die lys van fliekteaters.