kyknet channel logo

'Matilda & Matthys': net die regte romantiese komedie vir Valentynsnaweek

Nuus
13 Februarie 2025
’n Ambisieuse jong skrywer en die ontwikkelaar van ’n nuwe dating app, gaan op ’n reeks afsprake om navorsing te doen vir hulle onderskeie projekte, maar selfs die slimste mense het geen weerstand wanneer dit by die liefde kom nie.
Matilda & Matthys

Dit is die verhaal van 'Matilda & Matthys', ’n romantiese komedie wat die perfekte kykstof vir die naweek van liefde bied.

Emma van Heyn is te sien as Matilda, en Adrian Steyn is Matthys. Ander spelers sluit in Bertha le Roux-Wahl, Elzabé Zietsman, Pietie Beyers en die komediant Mojak Lehoko. Matilda & Matthys is die digter en skrywer Bibi Slippers se filmdebuut as skrywer-regisseur en is ook op Showmax te sien.

“Ek was op pad om die Visrivier-canyon te gaan stap toe die filmvervaardiger Danie Bester my vra om ’n storie voor te lê vir ’n Valentynsdagfliek, en my kop het oortyd aan die werk gegaan op pad Namibië toe,” sê Bibi. “Terwyl ons op Upington gestop het om iets te eet, het ek ’n prentjie in my verbeelding gesien van ’n paartjie wat in ’n winkel ingaan, klere koop, dit aantrek en dan uitkom en maak asof hulle ander mense is. Dis waar dit begin het, en ek het van daar af probeer om ’n storie uit te dink wat met daardie prentjie werk.”

Sy wou graag vir Emma as Matilda hê ná sy haar in die kortfilm Twintig tone in ’n hangkas gesien het. “Ek het geen idee gehad wie Matthys sou speel nie, maar die oomblik toe ek Adrian se oudisie gesien het, was ek oortuig dis hy.”

Wat sal sy onthou van haar debuut as filmregisseur?

“Skryf is alleenwerk, en die ding wat uitstaan as ek aan die regie dink, is die heerlike spanwerk,” sê sy. “Selfs wanneer dinge stresvol, haastig en oorweldigend is, maak ’n lekker span dit prettig, lig en veilig. Harde werk het nog nooit soveel soos speel gevoel nie, en dis alles te danke aan die veiligheidsnet en ondersteuning van ’n span wat méér gegee het as waarvoor ek kon hoop.”

Nie dat dinge altyd glad verloop het nie. “Op ons besigste dag – die dag waarop ons die meeste en mees gekompliseerde tonele moes skiet – het die trok met al ons toerusting op pad stel toe gebreek. Daar was niks wat ons kon doen nie. Ons moes vir ’n paar ure sit, diep asemhaal en wag vir die goed om in ’n ander trok oorgelaai te word. Ek wou uitpass, maar Danie was ’n kalm kampioen,” onthou Bibi. 

Wat kan kykers van die fliek verwag? 

“Matilda & Matthys is ’n bietjie van ’n boekfliek,” sê Bibi. “Matilda, haar ma, Mireille, en haar mentor, Prof. Winterbach, is almal skrywers. Die storie gaan oor Matilda se gesukkel om haar eerste boek te skryf en Mireille se skuif van liefdesverhale na letterkunde met ’n hoofletter-L en die invloed wat hierdie skrywery op Matilda en Matthys se verhaal het. Dis lighartig en ’n bietjie sentimenteel, tong-in-die-kies en onbeskaamd romanties.” 

  • Matilda en Matthys word op 15 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.