web uni tv guide
Die nuusmakers S1 Slim BB Maintenance
web uni tv guide

Die Nuusmakers

144DramaPG13

Lesley se groot deurbraak – Die nuusmakers

Nuus
25 Junie 2025
“Dit het gevoel soos ’n droom,” sê die jong akteur Lesley Maasdorp oor sy tyd op die stel van Die nuusmakers waarin hy die rol van die navorser en IT-kenner, Nhlanhla Langa speel.
Lesley Maasdorp presser die nuusmakers

Hy het sy eerste asemteug in Upington geneem, maar toe hy nege jaar oud was, het die Maasdorps Kaap toe getrek. Lesley is een van drie kinders met ’n verpleegster-ma en paramedikus-pa, en hy is die enigste een in die gesin wat deur die dramagogga gebyt is.

“Ek’s leergierig en nuuskierig en wil altyd beter doen,” sê die 25-jarige Lesley. “Ek wil ’n beter vriend, ’n beter seun, ’n beter oom, ’n beter mens wees. Ek was op Hoërskool Malibu en het wiskunde en fisiese wetenskap as vakke gehad, maar ek het geweet dit is nie die rigting waarin ek wou gaan nie.”

Ná skool het hy, onder meer, in ’n fabriek gewerk, maar einde 2018 het hy geweet hy wil drama gaan studeer.

Wanneer het die dramagogga gebyt?

My broer, Laurenzo, sê altyd dit was nie ’n verrassing dat ek dit gekies het nie. Ek het nog altyd gehou van dans, musiek en op die verhoog wees. In 2019 het ek drama gaan studeer by Northlink College.

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van Nhlanhla gekry?

Ek was in skok, maar ook verlig. As ek reg onthou, was daar ’n gelukkige traan. My verloofde, Miché, was langs my en baie verward, want sy het geen idee gehad hoekom ek so emosioneel was nie.

Die nuusmakers het ’n sterk rolverdeling met ’n hele paar groot name. Was dit intimiderend?

100 persent. Daar was tye wat ek vir myself gevra het wat soek ek hier? (Lag.) Die hele rolverdeling tot die byspelers en die span agter die kameras was so ondersteunend, daar was nie regtig tyd om geïntimideerd te voel nie. Die produksiespan en regisseurs was hemels. Ek was beslis op my senuwees, maar my geheim was in my voorbereiding. Ek het besef dit is ’n spanpoging en dat ek my beste moet bring.

By wie het jy die meeste geleer?

Ek het by almal iets geleer, en elkeen van hulle het my geseën met insiggewende kennis. As ek een persoon moet uitsonder, is dit definitief Brendon Daniels omdat ons meeste van die tyd saam was. Daar was ook gesprekke met Arno [Greeff], Lea [Viviers], Rolanda [Marais], Roeline [Daneel], Hannah [Borthwick], Kristen [Raath], Nahum [Hughes], Daneel [van der Walt], Chris [van Niekerk]. Dit het soos ’n droom gevoel om saam met hulle te speel en terselfdertyd te leer.

Musiek is nog een van jou talente. Het jy ’n musiekdroom?

Nie op hierdie oomblik nie. Vir nou wil ek fokus op my toneelspel. Daar is unreleased musiek waarop ek sit, maar vir nou kan dit bly waar dit is.

Watter ander verskuilde talente het jy?

A, ek wens ek was so interessant. Ek leer nuwe dinge aan en werk hard, en ek weet nie of dit ’n verskuilde talent is nie, maar perdry is een van my nuwe avonture. Ek kan bietjie dans en ’n klein bietjie sing, en ek is nogal goed met fisiese aktiwiteite. Iemand het ook eendag gesê ek kan morph. So, miskien is een van my verskuilde talente om verskillende karakters te speel.

Wat doen jy as jy nie voor die kameras werk nie?

Skryf stories, scripts, gedigte. Kyk local rugby en doen dinge wat my adrenalien opjaag.

Watter rolle sal jy nog graag wil speel en teenoor wie?

Elke keer as iemand my dit vra, voel dit asof my brein wil ontplof, want daar’s so baie. Ek sal graag weer saam met die spelers van Die nuusmakers wil werk. Ook ’n dapper weermagkarakter. En die vark in die verhaal wat net nie wil verloor nie, maar mense is tog lief vir hom – so ’n anti-held. Daar is so baie mense teenoor wie ek wil speel dat ek nie kan name noem nie, want ek is bang ek laat iemand uit.

Wat is belangrik in jou lewe?

My lewe by die huis hou my nederig, en dit laat my besef wat eintlik belangrik is: familie, goeie vriende, liefde. Dit gee jou ook die energie om jou drome na te streef, want op die einde van die dag wil jy die mense wat daar is vir jou, trots maak.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Gee die Here ’n kans in jou lewe. Bou onderskeidingsvermoë. Moenie opgee nie.

Skakel Dinsdae om 20:00 in vir splinternuwe episodes van Die nuusmakers om te sien of Adri die storie agter die storie sal kan oplos oor haar man se raaiselagtige dood. Gesels ook saam op Facebook, Instagram en Tiktok deur die hutsmerk, #DieNuusmakers te gebruik.