Ná die groot sukses van die eerste seisoen, keer die inspirerende geselsreeks Waar daar ’n wil is terug met ’n splinternuwe seisoen, verfilm by die AfriForum Teater gedurende Julie en Augustus vanjaar. Die tweede seisoen skop af op 7 Oktober 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Onder die vaardige leiding van die aanbieder, Lee-Ann van Rooi, bring die program weer eerlike, intieme en verrassende gesprekke met uiteenlopende Suid-Afrikaanse gaste – mense wat almal deur uitdagings gewerk het, vasgebyt het en met hul lewensverhale bewys het: Waar daar ’n wil is, is daar inderdaad ’n weg.
In die tweede seisoen val die kollig op Suid-Afrikaners wat nie net hul eie pad na sukses gestap het nie, maar ook hul menslikheid, kwesbaarheid en geloof in ons land met Lee-Ann deel. Elke episode bied ’n vars perspektief op die persoon agter die titel – die pa, die ma, die vriend, die mens.
Lee-Ann, aanbieder van die reeks, sê: “Ek wil hê kykers moet leer dat ek hierdie mense eer – want ons verskil, maar dit is goed en reg.”
Die nuwe seisoen beloof kragtige en onvergeetlike stories. Rayno Nel, Suid-Afrika se sterkste man in die wêreld, neem kykers saam op sy ongelooflike reis. AfriForum-leier Kallie Kriel nooi Lee-Ann en kykers na ’n gesinsbraai waar daar gesels word oor familie, dad jokes en braaivleis. Professor Debra Meyer, gerespekteerde biochemikus en voormalige SABC-weeraanbieder, gesels passievol oor Afrikaans as akademiese taal. John Steenhuisen, leier van die opposisie en minister van landbou, deel sy politieke reis en uitdagings. Cedwyn Joel, ’n lewende teater- en TV-legende, vertel oor sy dekades lange loopbaan, terwyl die geliefde aktrise Susan Coetzer gesels oor hoe sy haar persoonlike en professionele lewe balanseer.
In elke program van 30 minute is daar ook ’n insetsel wat fokus op ander fasette van gaste se lewens en die mense naaste aan hulle.
Een van Lee-Ann se gunsteling-episodes was haar onderhoud met Rayno Nel, die sterkste man in die wêreld. “Dit was vol pret om saam met hom te skiet. Ek het selfs my eie sterkman-oefensessie saam met hom gehad! Tim du Plessis het my hart gesteel. Ds. Ivor Swartz het my laat huil. Susan Coetzer het haar liefde met my gedeel. John Steenhuisen het ons vertel van sy zest for life. Professor Debra Meyer het my weer laat glo in drome wat waar kan word. En Cedwyn Joel se warmte was aansteeklik.”
Francois Nolte, regisseur en uitvoerende vervaardiger, sê: “Ek is ontsettend opgewonde oor die tweede seisoen van Waar daar ’n wil is. Elke liewe persoon met wie Lee-Ann gesels het, het al geval en weer opgestaan, maar altyd vasgehou aan die wete dat daar ’n weg is as jy aanhou. Ons het nodig om te sien dat gaste soos prof. Debra Meyer, John Steenhuisen, Kallie Kriel, dr. Jacques Faul en ds. Ivor Swartz almal een ding gemeen het: hulle onwrikbare geloof dat ons as Suid-Afrikaners dit kan laat werk. Lee-Ann het haar ongelooflik goed van haar taak gekwyt om vir hulle die nodige platform te gee. Hierdie reeks gaan sonder twyfel ’n besonderse een wees.”
Kykers kan uitsien na ’n seisoen vol openhartige gesprekke en verrassende oomblikke – ’n herinnering dat elkeen van ons ’n storie het wat die moeite werd is om vertel te word.
Waar daar ’n wil is word vervaardig deur Green Planet Productions wat ook verantwoordelik is vir programme soos Ommighellie, Trend en Varsity sing.
Waar daar ’n wil is begin op 7 Oktober 2025 om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.