kyknet channel logo
In die sop gastehuisrevolusie slim bb clean

kykNET se "In die sop" ruk nou gastehuise reg met 'n nuwe aanbieder, Janie du Plessis

Nuus
17 Junie 2025
Inskrywings is tans oop vir "In die sop: Gastehuisrevolusie".
In die sop gastehuisrevolusie article image

kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die sop trek ’n ander baadjie met ’n splinternuwe aanbieder aan vir die vierde seisoen van die reeks. Die fokus verskuif van restaurante na gastehuise in en om Kaapstad, in Gauteng en langs die N1-roete.

Raadop met stadige besprekings of keelvol vir klaende gaste? Is jou gastehuis dalk in die sop?

Soms is dit net ’n vars kennersoog wat nodig is om jou gastehuis weer winsgewend te maak en te sorg dat gasvryheid weer sy regmatige plek saam met jou gelukkig gaste aan die vol hooftafel inneem. Hierdie is dalk net die reddingsboei wat jy nodig het.

Aan die stuur van sake is Janie du Plessis, daardie aanvallige rabbedoe wat in die 80’s as aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jong mense soos Teletien en Graffiti op al wat ’n tydskrifvoorblad gepryk het. Sy was destyds ook saam met Arnold Vosloo te sien in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvres (1985).

Oor die afgelope 40 jaar het sy een van die bekendste glanspersoonlikhede op TV geword. Maar dis nie net deftige doe’s, ligte en kameras vir Janie nie. Sy’t ’n goeie sakekop op haar skouers, én sy het deeglike eerstehandse kennis van gastehuise. Die afgelope tien jaar het sy die land deurkruis met haar liefdadigheidswerk, wat haar tot drie keer ’n week in gastehuise laat beland het.

’n Bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, vorm saam met Griki Lubbe (’n binnenshuise ontwerper in Kaapstad) en Willus Bosch (’n ervare opknapper, interieurkenner en eienaar van Maison Cape Town) die gedugte taakspan. Dié drie gaan beurte maak met hulp aan die gastehuise, terwyl daar ander kenners ook deur die loop van die reeks ingespan gaan word.

Waarvoor wag jy? Daar’s mense wat wil kom kuier.

Skryf só in:

KLIK HIER vir die inskrywingsvorm of stuur ’n epos na inskryf@indiesop.tv. Inskrywings sluit 31 Julie 2025 en die reeks sal vroeg in 2026 uitgesaai word.