web uni tv guide
web uni tv guide

Bravo!

144GlansjoernaalPG13

kykNET is op soek na Suid-Afrika se stylikoon

Nuus
11 Junie 2025
By elke rooitapyt-, bekendstelling- of glansgeleentheid is daar style wat kom en gaan. Juis daarom soek kykNET se gewilde tydskrifprogram Bravo! en Revlon nou na Suid-Afrika se stylikoon.
Bravo!

“Styl gaan oor veel meer as net klere,” sê Bravo!-aanbieder Ewan Strydom. “Dis hoe jy praat, beweeg, leef, onthaal en jouself onberispelik uitleef. Dis die hele pakket – die soort vrou wat ander inspireer deur haar outentieke teenwoordigheid.”

Volgens Ewan is die vroue wat vir die Bravo! Revlon Styl-ikoon-veldtog benoem gaan word nie noodwendig voltyds in die kollig en alombekend nie, maar hulle is wel in die openbare oog en besig om hul merk op die wêreld te laat – met styl.

Die keuringsproses is nou in volle swang en kykNET het ’n paneel van gerekende kenners saamgestel om vier finaliste uit verskeie benoemings te kies. 

Die paneel is:
Jo-Ann Strauss – voormalige Mej. Suid-Afrika en sakevrou
Fanie Cronjé – SARIE-stylredakteur en modekenner
Lucilla Booyzen – stigter van SA Modeweek
Jackie Burger – voormalige Elle-redakteur
Heather Goate – bemarkingsredakteur van Revlon
Desiree Tan – kykNET se toesigvervaardiger van Bravo!
Paul Venter – vervaardiger van Bravo!

Van links na regs: Lucilla Booyzen, Jo-Ann Strauss, Desiree Tan, Fanie Cronjé, Heather Goate, en Ewan Strydom. Foto: Gys Loubser

Die eerste groot stap op hierdie stylvolle reis het Dinsdag tydens ’n paneelgesprek plaasgevind waar die beoordelaars hul eerste insae gehad het in wie die potensiaal het om as Suid-Afrika se Styl-ikoon gekroon te word. 

“Ons sien uit daarna om die stories van hierdie dinamiese vroue te deel,” sê Ewan. “Elke insetsel wat ons oor die volgende paar maande gaan bring, bied kykers ’n insig in die lewe en styl van die vier finaliste – van hoe hulle aantrek tot hoe hulle hulself grimeer, en natuurlik hoe hulle hul unieke styl in die wêreld uitdra.”

Die vier finaliste sal in afsonderlike episodes van Bravo!, wat op Donderdae om 21:00 op kykNET uitsaai, op die volgende episodes bekendgemaak word: 24 Julie, 21 Augustus, 18 September en 16 Oktober. Die wenner sal tydens ’n glansgeleentheid in Kaapstad op 13 November aangekondig word. 

“Ons droom is dat hierdie projek sal uitgroei tot ’n jaarlikse instelling met meer kategorieë en dat dit daartoe gaan bydra om die pas in die fassinerende wêreld van styl aan te gee,” sê Ewan. 

“Dis tyd dat ons vroue wat met styl en dryfkrag leef, behoorlik vier. Daarom is Bravo! trots om saam met Revlon vir hulle hierdie platform te bied.”