kyknet channel logo

kykNET Fiëstas: Hier is die wenners!

Nuus
27 Februarie 2025
Die Fiëstas-paneel het in 2024 elke debuutproduksie by sewe kunstefeeste (KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees, Klein-Karoo Klassique, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota Stellenbosch Woordfees) bygewoon.
Fiestas

Ná ’n breedvoerige stemproses wat deur ouditeure nagegaan is, is die wenners in veertien kategorieë aangewys en op 27 Februarie by ’n glansryke toekenningsgeleentheid in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin in Kaapstad bekendgemaak. 

kykNET het ook aangekondig dat die kykNET Fiëstas ’n nuwe tuiste kry. Ná 15 jaar van bestuur deur kykNET sal die Tribuo-trust voortaan die tuiste van die Fiëstas wees met kykNET wat die rol van naamborg inneem. 

Frank Opperman saam met Waldimar Pelser, M-Net direkteur van Premium kanale. Frank is vanjaar by die 15de kykNET Fiësta-toekennings vereer vir sy lewensbydrae tot die kunste.

“Die besluit is geneem om te verseker dat die kykNET Fiëstas kan floreer, volhoubaar voortgesit en herverbeel kan word as ’n uitbundige viering van die kunste in Afrikaans. kykNET bly die hoofborg en naamborg van die Fiëstas,” sê Waldimar Pelser, M-Net direkteur van Premium-kanale.

“In gesprekke met die feeshoofde het kykNET beklemtoon dat ons ons steun aan die kunstefeeste sal versterk op ’n manier wat ons hoop ook die feeste meer volhoubaar sal help maak. Ons sien uit daarna om saam met Tribuo die nuwe kykNET Fiëstas te herbedink en is opgewonde oor die pad vorentoe.”

Van die bekendes op die tapyt by die 15de kykNET Fiësta-toekennings

Karen Meiring, uitvoerende voorsitter van Tribuo, sê: “Dis ’n belangrike oogmerk van Tribuo om in die toekoms en die gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf se ekosisteem te belê. Die kykNET Fiëstas sluit soomloos hierby aan omdat dit uitstekende werk erken en bekragtig.  Dit moedig ook die belangrike betrokkenheid van gehoordeelname aan en verleen aansien aan die mense wat die uitvoerende en kreatiewe kunste dien. Tribuo sien uit daarna om hierdie pad saam met kykNET, wat aanbly as naamborg, te stap.” 

Die wenners is:

BESTE PRESTASIE IN KLASSIEKE MUSIEK
Die groot finale (Momentum Beleggings Aardklop)

BESTE KONTEMPORÊRE MUSIEKPRODUKSIE
kykNET-konsert (Innibos)

BESTE MUSIEKGEDREWE TEATER
Ontban (Suidoosterfees)

BESTE VERWERKING OF VERTALING VAN ’N TEKS
Naòmi Morgan vir Ons wag vir Godot (Vrystaat Kunstefees)

BESTE NUUTGESKEPTE TEKS
Philip Rademeyer vir Stinkhout (Momentum Beleggings Aardklop)

BESTE PRESTASIE IN VISUELE KUNS
Marlene Steyn: Between my i’s: tussen my oë (Toyota Stellenbosch Woordfees) 

BESTE PRESTASIE IN ONTWERP
Rocco Pool vir Hedda Gabler (Toyota Stellenbosch Woordfees)

BESTE SPEL IN ’N ONDERSTEUNENDE ROL
Gerben Kamper in Ons wag vir Godot (Vrystaat Kunstefees)

BESTE REGIE
Dion van Niekerk vir Ons wag vir Godot (Vrystaat Kunstefees)

BESTE OPKOMENDE KUNSTENAAR
Joshwin Dyson in Laaitie mettie biscuits (Momentum Beleggings Aardklop)

BESTE ENSEMBLE
Hedda Gabler (Toyota Stellenbosch Woordfees)

BESTE AKTEUR
Joshwin Dyson in Laaitie mettie biscuits (Momentum Beleggings Aardklop)

BESTE AKTRISE
Rolanda Marais in Hedda Gabler (Toyota Stellenbosch Woordfees)

BESTE FEESPRODUKSIE
Hedda Gabler (Toyota Stellenbosch Woordfees)

Die wenner van die Blou Fiësta, wat toegeken word vir verdienstelike werk wat nie in een van die ander kategorieë val nie, is die Suidoosterfees se 21-projek. Ter viering van die fees se 21ste verjaardag is 21 produksies op die planke gesit, wat elkeen 21 minute lank was met ’n kaartjieprys van R21. 

Amanda Strydom en Frank Opperman is vir hulle bydrae tot die kunste vereer. Amanda se commendatio is deur Margit Meyer-Rödenbeck gelewer en Frank s’n deur Dana Snyman.

Kabous Meiring was die seremoniemeester, en die aanbieders was Cornelia Faasen, Veronique Jephtas, Gideon Lombard, René Cloete, Nicole Holm, Joanie Combrink, Carel Nel en Waldimar Pelser.