Hannes aan huis
Die immergewilde Hannes van Wyk maak ’n paar wye draai in die land in die nuwe seisoen van Hannes aan huis. Hy kuier, onder andere, by Voetspore se Johan Badenhorst, die grensverskuiwer en vegter vir veiligheid, Ian Cameron en die sangpaar Francois en Elizabeth Fourie. Ander bekendes wat hulle voordeur vir Hannes oopmaak, is Binnelanders se Hykie Berg, die ontkleedanseres Gigi, die veteraan-akteur Pierre van Pletzen, die politieke ontleder wat mense warm onder die kraag kan maak, Piet Croucamp, Big Concerts se Attie van Wyk, die ondersoekende joernalis, Devi Govender en renjaer, Giniel de Villiers.
- Hannes aan huis begin op 9 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Lottoland help ’n dorp
Ses spanne dwarsoor Suid-Afrika word verras met behulp van Lottoland. Elke span staan voor ’n uitdaging: Om hul dorp binne ’n paar weke te verbeter. Op elke span se pad wag uitdagings en drama, harde werk en hartroerende stories. Leah besoek in die nuwe seisoen Coligny, Darling, Winnie Mandela-dorp, Van Wyksdorp, Smithfield en Rhodes. Daar word twee episodes aan elke dorp bestee, en die finale en dertiende episode van dié seisoen is ’n samevatting van hierdie merkwaardige reeks wat al soveel lewens verander het.
- Lottoland help ’n dorp begin op 8 Julie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Met ’n huppel in die stap
Oudword beteken nie die lewe moet by jou verbygaan nie. Dit bied juis ’n uitdaging om aktief besig te bly soos die jare aanstap. Met ’n huppel in die stap is terug vir ’n sestiende seisoen en van die onderwerpe wat van nader bekyk word, is kubermisdaad en hoe om dit te bestry, aftree-oorde en wat dit alles bied, en interessante stokperdjies. Daar word ook gepraat met ’n groep oudregters wat vertel van die sake wat hulle verhoor het. Die aanbieders is Riaan Cruywagen, Bettie Kemp, Simon Bruinders en Jacqui January.
- Met ’n huppel in die stap begin op 2 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Jan Braai vir erfenis
Namibië en sy natuurskoon, sy mense en natuurlik sy kos is in hierdie seisoen van Jan Braai vir erfenis op die spyskaart. Die reeks skop af met Jan wat die soutpanne van Walvisbaai besoek waar hy kyk na verskillende maniere om kos met sout voor te berei – van pekel tot natuurlik om te braai. Vis en skulpvis kom daarna aan die beurt. Daar is ook ’n kykie na die Duitse invloed op die koskultuur in Namibië – van wildsvleis en straatkos tot bier en brood. Bees en lam maak ook ’n draai op die rooster, en Jan wys in die dertiende episode wat jy alles moet weet as jy in Namibië wil gaan vakansie hou.
- Jan Braai vir erfenis begin op 5 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Safari roetes
Die Safari-span toer hierdie jaar met die stofpaaie in en om die pragtige Cederberge en in die Tankwa-Karoo langs. Dié area is alombekend vir die unieke rotsformasies en die groot oop vlaktes. Die Safari-span wys vir jou waar jy kan gaan ry, wat daar te sien is en waar jy kan gaan kamp opslaan of inval by akkommodasie as die winter se koue te veel byt.
Die Safari-span bestaan uit drie paartjies: Petri en Tanya de Wet, Vivian en Marianne Torlage en Nico en Danette Hesterman, sowel as ’n klompie gaste wat langs die pad kom kuier. Daar word kampeertoerusting getoets en talle safariwenke gedeel wat jou eie ekspedisies makliker sal maak.
- Safari Roetes begin op 11 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
4x4 met André
Die 4x4-kenner André de Villiers verken in die nuwe seisoen Namibië en kykers kan gereed maak vir opwindende uitdagings, asemrowende natuurtonele en natuurlik hope avontuur. Die voertuig-toetsingenieur Jakes Jacobs en die Namibiese filmmaker Jens Schneider sluit by André aan vir hierdie reis wat in die lowergroen Suide van die land afskop. Ander plekke waar daar in dié seisoen aangedoen word, sluit in die welbekende Spitzkoppe, Brandberg (Namibië se hoogste berg) en Klein Aub in die Khomas-streek, Suid van Windhoek.
- 4x4 met André begin op 7 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Bly ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en gesels saam op Facebook, Instagram, X en Tiktok.